2 Kronieke 20 - Die sangers vooraan!
2 Kronieke 20 - Die sangers vooraan!
Wie gaan ‘n oorlog in met musikante en sangers? Die versoeking vir baie is groot om koning Jósafat uit te lag. Hy trek ‘n magtige leër wat Juda inval tegemoet met musikante en ‘n tempelkoor vooraan. Heel doelbewus plaas hy die sangers op die voorpunt van die soldate. Al singend gaan hulle die aanval teen die volk van die Here tegemoet : “Loof die Here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid”. Ons kan egter nie met ‘n lag agter die hand oor Jósafat praat nie. Jósafat laat in dade sien wat dit beteken om die lewe in geloof tegemoet te gaan. Die uitstuur van die musikante en sangers aan die voorpunt is ‘n daad van geloof en vertroue in die Here. Hy voer self op dié manier uit waartoe hy die gemeente van die Here opgeroep het : Glo in die Here julle God en julle sal standvastig en voorspoedig wees.
Jósafat, koning van Juda, se lewe word in hoofstuk 20 voorgehou as voorbeeld waarin die geloof van die koning en die volk onder sy leiding, tot groot seën gelei het. Die werklikheid van die probleme wat die volk van die Here ervaar het, word nie ontken nie. Jósafat moet ’n koalisie van drie vyande teen hom in die oë kyk. Hulle word beskryf as “’n groot menigte” – dit was asof al die magtige volke van daardie tyd teen hulle saamgespan het. Van Jósafat word ’n baie realistiese voorstelling gemaak. Jósafat het bang geword. Hy het besef hy is nie meester van sy eie toekoms nie. In hierdie omstandighede het hy die aangesig van die Here gesoek – hy het saam met die vergadering van Juda gebid om die genade van die Here. Die hele Juda het bymekaargekom om van die Here hulp te soek.
Wanneer Jósafat en die volk saam hulle krag by die Here soek, doen hulle dit in die tempel. By die inwyding van die tempel (2 Kron. 6) het die Here self bevestig dat as daar onheil oor sy gemeente kom, hulle in hul benoudheid voor die Here in sy tempel kan kom bid. Hy het beloof om hulle te hoor en te verlos. Die God tot wie hulle bid, is immers by magte om hulle te help. Hy is die God in die hemel. Dit beteken Hy is die heerser oor die hele skepping. Hy is veral magtiger as die gode van al die volke wat almal vasgevang word in hul tempels. Niemand kan teen die Here standhou nie. In sy hand is daar krag en sterkte.
Nou word, in die tyd van Jósafat, die woonplek van die kinders van die Here op aarde hulle ontsê deur ongelowige volke. Die Here het dit vir die nageslag van sy vriend Abraham gegee. Die volke wat Abraham se nageslag hulle plek wou ontsê was nogal daardie volke wat van die Here genade gevind het toe Israel uit Egipte na die beloofde land getrek het. Israel het by hulle verbygetrek sonder om hulle te verdelg. Hulle het dus geen rede gehad om Juda nou aan te val nie. Teen al hierdie magte, het die kinders van die Here geen krag nie. Jósafat bely dit voor die Here : “In ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U” (20:12).
En dan, wanneer die koning klaar gebid het, kom die Gees van die Here oor iemand in die gemeente – Jahásiël. Hy was ’n Leviet. Maar meer spesifiek ’n Leviet uit die kinders van Asaf. Een van die bekende musikante en sangers. Gedryf deur die Gees van God profeteer hy : “Wees nie bang of verskrik nie ... die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God” (20:15). Bekende woorde wat herinner aan die woorde van Moses aan die volk toe hulle voor die Rooi See gestaan het met die aanstormende Egiptenaars agter hulle. Julle hoef nie te veg nie. Staan net gereed om getuies te wees van die redding wat die Here vir sy volk gee. Die stryd is die Here s’n. Maar die volk word nie huis toe gestuur nie. Hulle moet na die slagveld gaan. Julle moet teen jul vyande uittrek. Julle moet gaan veg ... wetende die stryd word deur die Here gestry. Dit is nou juis geloof!! Gaan na die slagveld dat julle juis dáár getuies kan wees van die Here se oorwinning. Dit is juis die groot taak wat ons as gelowiges het – getuies en verkondigers van die oorwinning van die Here. In geloof kan ons die genade-oorwinning van die Here oor al die teëstanders van die gemeente van die Here, besing. Dit verstaan Jósafat heel goed. Terwyl die volk uittrek na die slagveld roep hy die volk op om in die Here hulle God te glo. Dan sal hulle standvastig wees. As hulle luister na die profetiese woorde van die Leviete, sal hulle voorspoedig wees.
Die Leviete het reeds begin sing van die oorwinning van die Here. Daarom plaas Jósafat die musikante en singende Leviete aan die voorpunt van die gewapendes van Israel. Die lofsang van die Leviete in musiek en sang word hier beskryf as profesie (vgl. 1 Kron. 25:1-8). Wanneer die volk die profetiese musiek en sang van die Leviete glo, sal hulle voorspoedig wees. Die musiek en sang van die Leviete moes ooreenkom met die hemelse werklikheid van die Here wat uittrek om te stry vir sy volk se verlossing. Onder die blaas van trompette en engelesang trek die hemelse Krygsman uit om te stry vir sy volk se verlossing. Die musiek en sang van Israel se weermag mag ’n afbeelding wees van die Here wat na die aarde kom met die blaas van ’n hemelse trompetgeskal. By die werk van die Here pas ’n loflied : “Loof die Here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid”.
Geloof en sang hoort en pas by mekaar. ’n Gemeente wat nie meer glo nie, sing nie meer nie. Al ons musiek en sang in die kerk moet ons bevestig in ons geloof dat die oorwinning aan die Here behoort. Die Here wil dat ons die musiek en sang heel ernstig sal opneem ; ons moet sy profetiese singende Leviete glo. Die Kroniekeboek wil die ballinge wat teruggekeer het, bemoedig om die Here te bly loof vir sy goedheid. Hy wou dat hulle werklik die goeie van die Here bly verwag. Op hierdie manier het hulle ’n verlange gekry na die toekomstige verlossing wat die Here beloof het vanuit die huis van Dawid. Aan sy goedheid kom daar werklik geen einde nie.
Musiek tot lof van God is niks minder as profesie nie. Dáár kom troon die Here in sy genade. Kyk maar na die afloop van die geveg. Op die oomblik toe die volk van die Here jubel en die lofsang oor die goedheid van die Here aanhef, het die Here self ’n hinderlaag opgestel teen die drie volke. Die Ammoniete, Moabiete en die inwoners van Seïr het teen mekaar begin veg. Hulle het mekaar uitgeroei en verdelg! Nie een van die magtige leërmag het vrygeraak nie (20:24b). Juda kon standvastig staan en bevestig word. Ook hulle voorspoed was duidelik. Die Here het vir hulle in oorvloed gesorg. Jósafat en sy manskappe het gegaan om die buit te versamel op die slagveld. Hulle het ’n menigte van goed en klere en kosbare voorwerpe gekry. Hulle het van die Here oorvloed gekry. Daar was nie hande genoeg om alles weg te dra wat die Here vir hulle gegee het nie. Vir drie dae lank het hulle weggedra aan die buit.
En op die vierde dag het hulle vergader daar in die woestyn van Tekóa. Nou het die woestyn egter ’n ander naam gekry. Lofdal. Want daar het hulle die Here geloof. Met blydskap kon hulle hul lewens gaan lei. Hulle het omgedraai na Jerusalem met groot blydskap, want die Here het hulle bly gemaak. Hulle het Jerusalem ingetrek met harpe en siters en trompette ... na die huis van die Here. Hulle kon na hulle huise gaan onder begeleiding van vrolike lofmusiek. In die plek van Jósafat se vrees en angs aan die begin, is daar blydskap. Geloofsblydskap. Blydskap omdat die kinders van die Here mag leef van die goedertierenheid van die Here wat tot in ewigheid is.