1 Samuel 15:10-26 - Ongehoorsaamheid en Afgodediens
1 Samuel 15:10-26 - Ongehoorsaamheid en Afgodediens
⤒🔗
1 Samuel 15:10-26←⤒🔗
Samuel gaan na Saul. Saul begroet hom met 'n bekende groet, waarin die naam van die HERE gebruik word. "Wees geseënd deur die HERE". "Ek het die woord van die HERE uitgevoer".
Samuel hoor egter die gebulk van beeste en die geblêr van kleinvee.
En Saul probeer om die skuld van hom af te skuif: die volk het die beste van die vee saamgebring om die HERE u God offers te bring.
Hoor ons hoe Saul oor die HERE praat? Vervreem hy hier alreeds van die HERE? Hy sê immers nie vir Samuel "die HERE, onse God" nie, maar "u God".
Hy is nie meer saam met Samuel een in die diens van die HERE nie.
En wat die diere betref — dit het lynreg teen die bevel van die HERE ingegaan. Waar die ban voltrek moet word, mag geen mens iets vir homself hou nie. Selfs niks om aan God te offer nie. Hoe sou die HERE met sulke offers bly kon wees?
Dit klink baie mooi: "Ons het die beste saamgeneem om vir die HERE te offer". Maar dit word hier gebruik om die ongehoorsaamheid toe te smeer. "Die HERE mag tog bly wees met hierdie mooi offerdiere?" Dan moet Hy die res ook maar deur die vingers laat glip!
Maar Samuel sê: "Om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer". As jy gehoorsaam is, dán blyk of jy die weg van die HERE bewandel. Om te gehoorsaam is beter as offers.
En om ongehoorsaam te wees is ewe erg as afgodery.
Het Saul dan die afgode gedien? Dit is tog nie waar nie?
Ja, hy het nie stip uitgevoer wat die HERE hom opgedra het nie. Hy was ongehoorsaam. Maar hy het tog nie die afgode gedien nie?
Tog sê Samuel dit wel so. Dit is 'n sterk uitdrukking wat ons lees in vs 23: "Wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens".
Samuel sê dus vir Saul: jy is ongehoorsaam aan die HERE, en dit is dieselfde as om afgode te dien. Soos mense afgode gebruik, so wil jy die HERE gebruik.
Samuel oordryf nie. Hy sê presies waarop Saul se godsdiens neerkom: op towery, om deur kunsgrepe oor God se mag te wil beskik. Om deur offers God gunstig te wil stem. Net soos heidene hulle afgode dien: jy vervul jou pligte — en dan moet God goed vir jou wees.
Maar wie so met die HERE omgaan, het Hom nie lief nie. En dit geld nie net vir Saul nie! Samuel sê dit baie algemeen, as 'n reël vir elkeen. Daarom staan dit in die oorspronklike teks ook in 'n digvorm.
Om offers te bring en intussen die HERE nie gehoorsaam nie, dit aanvaar die HERE nie. Die profete het dikwels hierteen gewaarsku. En dink ook maar aan Ps 50.
Sulke offers soos Saul dit bring, dit is niks anders as 'n soort ruilhandel met God, nie. 'n Afkoopsom — jy probeer om jou ongehoorsaamheid met offers af te koop.
Hierdie waarskuwing is ook vir ons bestem. Ons as kerkmense loop die gevaar om in hierdie sonde te val. Want dit is juis hulle wat die HERE ken wat ook die gevaar loop om Hom vir die skyn te dien. Dan is ons godsdienstig, maar sonder werklike gehoorsaamheid. Jy vervul jou pligte en gee jou gawes aan die HERE. Jy gaan kerk toe en is verseker bereid om iets in die diens van die HERE te doen.
Maar net tot ’n bepaalde grens.
Kerk toe gaan, iets vir die Here en sy diens gee.
Maar tot 'n bepaalde grens. Ons bepaal self hoe ver ons gaan. Ons bepaal self hoever ons gehoorsaamheid sal gaan.
'Dit is tog nie so ernstig as ek hierin nie so konsekwent is nie?'
'Teenoor dit staan tog baie ander dinge wat ek reg doen?'
'Ons is tog heel anders as ongelowiges?'
'Ons doen tog ons plig? — en verder moet God ons nie lastig val nie'.
Juis by sy eie volk kan die HERE so 'n houding nie verdra nie. Juis by sy kinders kyk die HERE of dit opreg is. Hy kyk na ons hart of ons Hom werklik liefhet, of ons Hom met ons hele lewe wil gehoorsaam — of dat ons Hom met die helfte of met driekwart tevrede wil stel.
Hier by Saul sien ons hoe skerp die HERE daarop reageer. Samuel sê nie: u het die Woord van die HERE maar vir die helfte uitgevoer nie, maar: jy het die Woord van die HERE verwerp. Daar was geen werklike liefde vir die HERE by Saul nie.
Daarom word Saul hier eintlik al onttroon. Hy is nog wel koning, maar hy kan weinig meer uitrig. In die volgende hoofstukke gaan die eer na Dawid.
Was Dawid dan altyd gehoorsaam? Ons kan ook van Dawid baie dinge noem wat sondig en ongehoorsaam teen die HERE was.
Tog is daar verskil. Uiteindeik het Dawid berou gehad. Hy het voor die HERE op sy knieë gegaan, elke keer weer.
Maar Saul doen dit nie. Hy sê wel vir Samuel: ek het gesondig. Maar uiteindelik gaan dit nog steeds oor homself: 'Eer my tog nou voor die oudstes en voor Israel'.
Saul speel selfs met sy berou.
Hy is maar net bang dat die mense sal bemerk dat daar 'n breuk gekom het tussen hom en Samuel.
So kom Saul se koningskap tot 'n einde. Die HERE het hom verwerp. En die HERE gaan na Dawid. Dawid was die man na God se hart.Ook Dawid was 'n sondaar. Ook Dawid was beslis nie die Messias nie. Uit Dawid se nageslag het die Messias voortgekom. Hy wat volkome gehoorsaam was. Christus wat vir ons ongehoorsaamhede betaal het.
En dit word dan nie gou genoem as goedkoop genade nie. So in die trant van: ons kan maar 'n bietjie ongehoorsaam wees, daar is immers tog vergewing, nie.
Ja, daar is vergewing vir sondaars wat met opregte berou na die HERE gaan. Wat berou het oor al hulle halfhartigheid in die dien van die HERE. Vergewing vir hulle wat berou het oor alle verskonings wat hulle maak om die halfhartigheid te bedek. Vergewing by Hom wat gehoorsaam was tot die dood.
By Hom kan ons sê: ons het gesondig. En danksy Hom kan ons vra vir gehoorsaamheid wat ons self nie het nie, vir 'n nuwe gehoorsaamheid. Daardie gehoorsaamheid wat Christus vir ons verdien het, en wat Hy deur sy Heilige Gees wil gee.
Laat ons dan ook hiervoor vra. Elke dag!