1 Petrus 3:19 - Hemel en hel
1 Petrus 3:19 - Hemel en hel
Die "Vraag en Antwoord"-rubriek in die uitgawe van 19 Mei 1993 ("Was Christus in die hel?") het by verskeie lesers nog vrae ontlok waarop prof. G.J.C Jordaan in hierdie rubriek sy antwoord gee.
Wat dan van 1 Petrus 3:19?⤒🔗
As Christus dan nie tussen sy kruisiging en opstanding in die hel was nie, hoe moet ons dan 1 Petrus 3:19 verstaan? In 1 Petrus 3:19 staan daar dat Jesus "heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis".
Inderdaad is 1 Petrus 3:19 moeilik om te verklaar. Daarom gee geleerdes ook verskillende en uiteenlopende verklarings daarvan. Myns insiens is die mees bevredigende verklaring dié van prof S. Greijdanus (Kommentaar op het Nieuwe Testament), wat die volgende inhou: 1 Petrus 3:19 moet verstaan word binne die geheelverband van verse 17 - 22. In vers 17 skryf die apostel vir sy lesers dat dit beter is "dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen".
In verse 18-22 gee hy dan 'n illustrasie van sulke lyding; "Want Christus het ook een maal vir die sondes gely . . ." Sy lyding was dus goeie lyding en eindig dan ook in heerlikheid. Petrus skryf: "Hy is wel gedood na die vlees, maar is lewend gemaak deur die Gees". Hy het opgestaan uit die dood. En, lees ons in vers 19, Hy het heengegaan. Waarheen? Na die hel? Nee, dit is nie wat daar staan nie. Trouens, in vers 22 lees ons waarheen Hy heengegaan het: Hy het heengegaan na die hemel waar Hy in heerlikheid aan die regterhand van God is!
En juis dit - die triomfantlike hemelvaart van Christus - was 'n prediking aan die "geeste in die gevangenis". Die Grieks kan ook vertaal word: "Deur heen te gaan het Hy gepreek . ..". Christus se hemelvaart was dus 'n prediking aan die geeste in die gevangenis.
Van watter "geeste in die gevangenis" skryf Petrus hier? In vers 20 verduidelik hy: die mense wat in die tyd van Noag aan God ongehoorsaam was. Hulle is ook gedood, in die sondvloed, maar omdat hulle vanweë hulle ongehoorsaamheid gesterf het, was hulle uiteinde die hel - het hulle "geeste in die gevangenis" geword.
Christus se hemelvaart was vir hulle 'n finale bevestiging - 'n prediking - dat hulle wat ter wille van die goeie ly, die loon van die heerlikheid ontvang. Hulle wat in die tyd van Noag geweier het om hulle aan God te onderwerp, moes met die hemelvaart van Christus met spyt besef dat Hy die Koning is aan wie hulle hul moes onderwerp het.
Soos Jesus se hemelvaart 'n prediking vir die goddeloses se "geeste in die gevangenis" was, so sal ook sy wederkoms 'n prediking wees vir almal wat Hom verwerp het. In Openbaring 1:7 lees ons: "Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf". Sy wederkoms sal so 'n kragtige prediking van sy koninklike heerlikheid wees dat "elke knie sal buig van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader" (Fil. 2:10-11).
Bestaan die hemel en die hel werklik?←⤒🔗
In die Vraag en Antwoord-rubriek van 19 Met het ek geskryf dat "die hel nie 'n ruimtelike plek is nie (en ook nie die hemel nie)". Dit het by sommige lesers die vraag laat ontstaan: Maar is daar dan nie 'n werklike hemel en 'n werklike hel nie? Hierop moet ons dadelik sê: die hemel en ook die hel is albei werklikhede wat baie beslis bestaan! Dit maak die Bybel tog baie duidelik.
Die Here Jesus het baie keer gepraat van die Vader wat in die hemel is en ons ook geleer om te bid tot ons Vader wat in die hemel is (Matt 6 : 9). Na sy opstanding het Jesus self liggaamlik na die hemel opgevaar (Hand. 1:11), en toe Stefanus gestenig is, het hy die hemele geopen gesien en Jesus Christus aan die regterhand van God sien staan (Hand. 7:56). Die hemel is dus 'n werklikheid wat sonder enige twyfel bestaan - waar Jesus Christus aan die regterhand van die Vader is (vergelyk Heidelbergse Kategismus, Sondag 18).
Omdat die Bybel egter nie 'n volledige beskrywing van die hemel vir ons gee nie (ons moet aanvaar dat God aan ons geopenbaar het wat Hy in sy alwysheid weet vir ons geloof genoegsaam is, vergelyk NGB artikel 7), gebeur dit dat mense begin bespiegel oor hoe die hemel lyk. Hoe ook al 'n mens aan die hemel dink, kan ons met ons beperkte insig nie anders nie as om te dink aan 'n plek soos ons as mense dit ervaar: 'n bepaalde gebied, waarvan ons die hoogte en die breedte en die diepte sou kon meet. So word vertel dat die Russiese ruimtevaarder Yuri Gagarin met sy terugkeer uit die ruimte gesê het: "Ek was daarbo, en daar is geen hemel nie".
Teenoor sulke voorstellings moet ons duidelik stel dat die Bybel ons nêrens leer dat die hemel 'n bepaalde ruimtelik-beperkte gebied is nie. In Openbaring 21 vind ons wel 'n beskrywing van die nuwe Jerusalem, met afmetings (vers 15-17). Soos elders in die Openbaringboek moet ons sekerlik aanvaar dat ons ook daar met simboliese taal te doen het. Nogtans sê dit nog niks oor hoe die hemel daar uitsien nie.
Waaroor die Bybel wel duidelik is - en dit is wat vir Vraag en Antwoord van 19 Mei van belang was — is dat wanneer ons in die hemel kom, ons in volkome blydskap verkeer omdat ons by God is en sy heerlikheid beleef (2 Tess. 2:13-14).
Desgelyks weet ons oor die hel ten minste dit: al is dit nie 'n bepaalde geografiese gebied "daar onder die aarde" (soos mense hulle dikwels voorstel) nie, is dit 'n werklikheid, 'n ewige verderf weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte" (2 Tess. 1:9).