1 Petrus 3:18-20 - Hellevaart of Hemelvaart?
1 Petrus 3:18-20 - Hellevaart of Hemelvaart?
Ook Christus het eenmaal vir die sondes gely... Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is... Die doop (...) is ’n bede tot God om ’n goeie gewete — deur die opstanding van Jesus Christus wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.
1 Petr. 3:18-20a, 21b-22
Christus het, so skryf Petrus, na die geeste in die gevangenis gegaan om aan hulle ʼn sekere boodskap te verkondig. Hou hierdie dalk verband met die artikel ‘neergedaal na die hel’ uit die Apostoliese Geloofsbelydenis? Die oorspronklike lesers het waarskynlik, soos Petrus, oor agtergrondinligting beskik waarvan ons nie nou meer kennis dra nie. Wie is hierdie geeste? Waaroor gaan Christus se verkondiging? Wanneer het dit gebeur?
Wanneer?⤒🔗
Om met die laaste vraag te begin: Sommige ontleders koppel dit aan die tyd van Noag. Volgens Petrus se ander brief het hy (Noag) immers die wil van God verkondig (2 Pet. 2:5). In die tyd wat die ark gebou is, het Noag sy tydgenote opgeroep tot bekering en agter hom, sou ʼn mens kon sê, het die Gees van Christus gestaan. So kon dit dus eintlik Christus self wees wat destyds deur Noag gespreek het. Hierdie uitleg vind ons eerste by Augustinus. Hy het die woorde ‘geeste in die gevangenis’ as figuurlik beskou en vertolk as synde ongelowige mense wat in sonde vasgevang is. Maar vers 20 hierbo noem Noag nie hoofsaaklik as bouer van die ark, of as familiehoof of boetprediker nie. Sy naam dien veral as tydsaanduiding. Verder lyk dit vir ons, as moderne lesers van die Bybel, ietwat vergesog dat Christus ‘via Noag’ gepreek het.
ʼn Ander verklaarder beweer dat die ‘geeste in die gevangenis’ verwys na afgestorwenes. Het Christus self nie gesterf en is Hy nie ook begrawe nie? Het Hy toe nie, in ʼn geestelike gedaante, afgedaal na die doderyk nie? Dikwels word by hierdie verklaring verwys na wat daar verder staan: ‘Daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig...’ (4:6). Daar gebruik die Grieks egter ander bewoording en word nie na Christus self as die verkondiger verwys nie. Petrus se bedoeling is daar dat die afgestorwenes, toe hulle nog op aarde geleef het, die Woord nie tevergeefs gehoor het nie. Die woorde ‘en neergedaal na die hel’ van die Apostoliese Geloofsbelydenis is dus nie hier van toepassing nie.
Watter Verkondiging?←⤒🔗
Ook wat die verkondiging self betref, is daar verskeie menings. Wie is die groep wat Christus met hierdie verkondiging wou bereik? Baie Rooms-Katolieke verklaarders meen dat Christus sy oorwinning oral wou bekend maak. Terselfdertyd kon Hy dan die mense uit die tyd van die sondvloed wat berou getoon het, dié wat hulle in die laaste oomblikke wel bekeer het maar tog in die ramp omgekom het, uit hulle tydelike gevangenskap (die vagevuur) bevry. Ander is van mening dat Christus na die doderyk afgedaal het om daar persoonlik aan al die ongelowiges die evangelie te verkondig. So sou hulle dan tog nog die geleentheid kry om hulle te bekeer. Maar, as Christus ʼn boodskap vir alle afgestorwenes wou oordra, waarom verwys die teks dan na slegs een kategorie, naamlik dié uit die tyd van Noag? En word die mens nie juis tydens sy lewe op aarde slegs voor een beslissende keuse geplaas nie (Luk. 16:19-31)?
Die idee dat Christus ook vir afgestorwenes gepreek het, rus veral op een spesifieke interpretasie van die voorafgaande, waar Petrus skryf dat Christus ‘as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak’ is. Christus sou dan in ʼn geestelike gedaante die afgestorwenes toegespreek het. Hierdie uitleg is egter nie korrek nie. Petrus stel twee magte teenoor mekaar: Mense het Christus doodgemaak, maar God het Hom deur sy Gees tot lewe gewek. Met laasgenoemde word die opstanding bedoel. Petrus wil sê dat Christus, deur hierdie selfde Gees, ook tot die geeste in die gevangenis gespreek het (in die Grieks is die woorde en hooi grammatikaal verbind aan kèrussein). Hierdie verkondiging het, volgens die teks, plaasgevind by die heengaan van Christus. Wat word nou eintlik hiermee bedoel? Waarheen het Christus gegaan? Het Hy afgedaal na die doderyk? Maar Petrus skryf hier juis oor die stygende lyn van die opgestane Heiland. Die feit dat die geeste in gevangenskap verkeer, beteken nie noodwendig dat Christus hulle daar persoonlik besoek het nie. Slegs die boodskap wat Hy moes bring, het blykbaar by hierdie gevangenes uitgekom.
Die opwaartse beweging, wat met die opstanding begin het, kry verdere momentum wanneer Christus opstyg na die hemel. Die ‘gaan’ van vers 19 kan verbind word met die ‘heengegaan’ van vers 22 waar dit duideliker gestel word: ‘heengegaan het na die hemel’. Petrus bedoel dus nie ʼn hellevaart nie, maar die Hemelvaart: Christus het gepreek terwyl Hy ingegaan het (na die hemel) (Grieks: poreutheis ekèruxen).
Hierdie was geen evangelieverkondiging in die gebruiklike sin van die woord nie (daarvoor gebruik Petrus die werkwoord euangelizein: 1:12; 4:6). Dink hier eerder aan ʼn herout wat ʼn besondere boodskap moet afkondig. Dit kan ʼn tyding van onheil of tyding van oorwinning wees. En inderdaad, die Hemelvaart het onheil beteken vir God se teenstanders, omdat Christus nou vir altyd met majesteit beklee is, maar genade en oorwinning vir elkeen wat op Hom vertrou.
Veral die gevangenes waarna hierbo verwys word, sou erg beïndruk gewees het met die nuus van Christus se oorwinning. Ons verneem egter niks van enige reaksie van hulle kant af. Hulle moes blykbaar maar net stilswyend die meerwaardigheid van die opgestane Here erken.
Wie is Hierdie Geeste?←⤒🔗
Kom ons ondersoek nou die identiteit van die geeste in gevangenskap: Mense of engele? Hoewel die verwysing na die tyd van Noag in vers 20 ons in die eerste instansie aan mense laat dink, kan ons dit nie maar eenvoudig aanvaar nie. Die ongehoorsaamheid van die mense voor die sondvloed kom nêrens in Genesis eksplisiet ter sprake nie. Dit word hier egter deur Petrus self so gestel. Terwyl hy verder in sy brief herhaaldelik op menslike ongehoorsaamheid wys, by name dié aan die Woord of aan die evangelie (2:8; 3:1; 4:17), word dit hier nie so gekategoriseer nie. In die dae van Noag was daar ʼn sogenaamde ‘suiwere’ ongehoorsaamheid, ʼn konflik met die gesag van die Skepper, wat op die aarde, sowel as in die engelewêreld voorgekom het. Die vraag bly dus: gaan dit oor mense of engele?
In die Bybel word daar gewoonlik engelemagte bedoel wanneer daar na ‘geeste’ (pneumata) verwys word: dit kan óf bose óf dienende geeste beteken (Mat. 8:16; Luk. 10:20; Ef. 2:2; Heb. 1:14). Wanneer Petrus hier oor afgestorwenes skryf, verwys hy na hulle as ‘dié wat dood is’ (sien 4:6: nekroi). Slegs een keer lees ons in die Bybel (Heb. 12:23) van ‘die geeste van die wat vrygespreek is’. Maar verdere omskrywing maak dit daar dan duidelik dat daar na mense verwys word. Daar is dus geen rede waarom die gebruiklike betekenis van ‘geeste’ as engele nie hier van toepassing sou wees nie. Inteendeel, wanneer Petrus in hoofstuk 3 vers 22 weer na die Hemelvaart verwys, skryf hy dat Christus die hemel ingegaan het, ‘nadat Hy die bose magte aan Hom onderwerp het’.
Ook die ‘gevangenis’ wys eerder op engele as op mense. Nêrens in die Bybel word die wêreld van die gestorwenes ʼn gevangenis genoem, maar ons lees wel van engele wat geboei is wanneer in 2 Petrus en Judas hierna verwys word om, by wyse van ʼn voorbeeld, aan te toon dat sonde nooit ongestraf bly nie. Petrus gebruik hiervoor Griekse terminologie (‘in die Tartarus’), terwyl Judas ʼn Hebreeuse begrip gebruik (‘in die onderwêreld’, die sjeool). Maar hulle verwys tog albei na dieselfde: ongehoorsame engele word gevange gehou tot die tyd van die laaste oordeel. Die volgende tekste het hier betrekking:
God het selfs die engele nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel.2 Pet. 2:4
Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag.Jud. :6
Hoewel hierdie tekste in die verlede dikwels aangehaal is as bewys vir ʼn sondeval in die engelewêreld, wat nie in Genesis 3 beskryf is nie, is verklaarders deesdae van mening dat beide hierdie tekste verwys na opstokers van die verdorwenheid van Genesis 6:1-4. Voor die sondvloed was daar ʼn opstand in die engelewêreld. Sommige engele (verwys na as ‘seuns van God’) het toe hulle woonplek in die hemel verlaat, en hulle met mense vermeng om baie ongeregtigheid op aarde te veroorsaak. Daar bestaan ook ʼn welbekende Joodse tradisie betreffende Henog, die man wat naby God geleef het en deur God na Hom toe weggeneem is. Henog moes daar, in die hemel, die vonnis aankondig aan ʼn groep van tweehonderd opstandige engele, wat hulle met mense vermeng het om die mense tot sonde te verlei. Op hulle versoek het hy probeer om hulle saak by God te bemiddel, maar God het Sy oordeel gehandhaaf. Toe kom die sondvloed oor die aarde en die opstandige engele, die aanstigters van die ongeregtigheid, word gevange gehou tot die laaste oordeel. So verdwyn hulle dan vir altyd van die wêreldtoneel.
Hierdie verhaal moes besonder gewild gewees het, ook onder die Christene van daardie tyd. ʼn Kort verwysing na Henog vind ons selfs ook nog in die brief van Judas (14-15). Petrus verwys dus, met enkele sleutelwoorde, na hierdie tradisie waar hy dan met ‘geeste in die gevangenis’ hierdie engele uit die tyd van die sondvloed bedoel. Omrede hulle verderflike invloed op die toenmalige aardbewoners, dien die tyd van Noag dus as ʼn kenmerkende voorbeeld van ongehoorsaamheid (Mat. 24:37-38; Luk. 17:26).
Wat Petrus hier dus bedoel, is dit: Ongehoorsame sondaars, engele sowel as mense, sal hulle straf nie vryspring nie, maar regverdiges word uit die oordeel gered. Christus het immers, deur middel van die Hemelvaart, Sy oorwinning aangekondig. Hy het die opstandige engele vir goed die swye opgelê en laat nou alle gelowiges deel in Sy oorwinning.
Geen Doodloopstraat←⤒🔗
Petrus het sy brief geskryf aan Christene wat, vanweë hulle geloofskeuse en doop, gediskrimineer is. Wie in Christus se voetspore volg, begeef hom inderdaad dikwels op ʼn lydensweg. In Sy geval was dit oënskynlik selfs ʼn weg wat sou doodloop. Tog het die opstanding, tydens die Paasfees, gekom en het Christus vervolgens die hemel binnegegaan. Waar dit gelyk het of die pad sou doodloop, was dit in werklikheid ʼn oorwinningspad. Christus sit nou aan die regterhand van God. Waar jy in Sy naam gedoop is, is jy, as Christen, dus ook by voorbaat aan die wenkant!