1 Korinthiers 11:19 - Partyskappe Moet Daar Wees
1 Korinthiers 11:19 - Partyskappe Moet Daar Wees
Onmin, konflik, onenigheid, verdeeldheid, skeurmakery – dit is woorde wat die kerklike debat die laaste maande, en in besonder die laaste weke oorheers. Dit is woorde wat eweneens in die Skrif voorkom. Rondom die Persoon en optrede van ons Here Jesus Christus het daar menigmaal onenigheid ontstaan. Daar het verdeeldheid onder die skare gekom, veral as die Here Jesus die Ou Testament oopmaak en wys hoe alles wat daar geskrywe is op Hom betrekking het (Johannes 7:43, 9:10, 10:19).
In sy eerste brief aan die Korintiërs verwys Paulus ook na skeuringe. Hy vermaan die gemeente van Korinte ‘om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening’ (1 Korintiërs 1:10). Later in die brief, in hoofstuk 11, herhaal Paulus sy vermaning.
Skeuring⤒🔗
Die apostel kan die gemeente van Korinte nie prys oor die manier waarop hulle saamkom nie (1 Korintiërs 11:17). Die boodskap het by hom uitgekom dat, as die gemeente in erediens vergader, ‘daar skeuring (skisma) onder julle is’. Die aard en omvang van die skeuring word nie in soveel woorde beskryf nie. Uit die konteks blyk dat daar in die gemeente verdeeldheid ontstaan het oor die verskillende voorgangers wat in Korinte die woord van die Here bedien het. Sommige is Petrus aanhangers. Ander hou meer van Paulus. ’n Derde groep is vurige Apollos ondersteuners. Daar was selfs ’n groep wat gesê het: ons is van Christus – asof Christus, die Opperherder van die kudde, op een lyn met die aardse herders geplaas kan word (1 Korintiërs 1:10-16).
Daar het ook verwydering ingetree tussen die sogenaamde ryk en arm lidmate in die gemeente. Die rykes verhef hulle bo die armes. Hulle ooreet hulleself, terwyl die armes honger ly. As daar dan nagmaal gevier word, is die armes honger en die rykes dronk. Dit is ’n gruwel in die oë van die Here. Nagmaal dui op tweevoudige eenheid – eenheid met God in Christus, ook eenheid in die gemeente, tussen ryk en arm. Nagmaal word ontheilig indien die rykes hulle harte en hande vir die armes sluit. So ’n verdeeldheid mag daar in die liggaam van Christus nie wees nie (1 Korintiërs 12:25).
Partyskappe←⤒🔗
In direkte aansluiting by die vermaning oor skeuringe skryf Paulus: ‘Want daar moet ook partyskappe (hairesis) onder julle wees’ (1 Korintiërs 11:19). Partyskappe is heeltemal iets anders as skeuringe. Partyskappe dui in die eerste plek op ’n keuse wat gemaak word, of ’n beslissing oor ’n bepaalde saak. Mense wat dieselfde keuses maak, kom bymekaar uit. Hulle vind mekaar omdat hulle dieselfde mening oor sake deel. Hulle vorm ’n party. ’n Tweede betekenis van partyskappe is minder gunstig, eintlik totaal ongunstig. Die Griekse woord ‘hairesis’ kan ook op kettery dui. Dwaalleraars vind mekaar eweneens rondom hulle gedeelde (verkeerde) siening van sake. Hulle snoer kragte saam, en vorm ’n ‘hairesis’: ’n partyskap. ’n Onheilige partyskap. Oor sulke partyskappe word daar ernstige oordele uitgespreek (2 Petrus 2:1). Dit is kenmerkend van die vrug van die vlees (Galasiërs 5:20).
Tog skryf Paulus vir die Korintiërs: Partyskappe moet daar wees. Die klem val op ‘moet’. Die Here dwing dit af. Dit klink na ’n contradictio in terminis, ’n innerlike teenstrydigheid. Geen skeuringe – wel partyskappe. Skeuringe mag nie – partyskappe moet daar wees. Hoe klop dit? Die apostel antwoord die vraag: ‘Sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word’. Duidelike standpuntstelling moet lei tot duidelike standpunt inname. Solank as wat sake onduidelik is, kan die gemeente van Christus geen ferm standpunt inneem nie. Die oomblik wat argumente egter klinkklaar genoem en helder teenoor mekaar gestel word, kan elke standpunt in die lig van Gods Woord beproef word en daar ’n beslissing (hairesis) gemaak word. Dan weet die gemeente van Jesus Christus waar sy staan.
Dringende Moet←⤒🔗
Uit die betoog in 1 Korintiërs 11 word dit duidelik hoe belangrik dit is dat daar in die gemeente (en kerkverband) eerlik, reguit, Skrifgetrou gepraat word. Verdeeldheid mag nie toegesmeer word nie. Daar moenie ‘vrede, vrede’ gepraat word, terwyl die kerke in beroering is oor fundamentele sake soos Skrifbeskouing en hantering, die kerklied, die viering van nagmaal en die plek van die vrou in die kerk van Jesus Christus nie. Partyskappe moet daar wees, sodat elke gelowige presies sal weet hoe sake staan. Uiteraard is die manier waarop sake gestel word van kritiese belang. Stel van standpunte kan al te maklik met aggressie, naywer, vyandskap en toornigheid gepaard gaan. Kort voor lank eindig so ’n partyskap in skeuring.
Die teenoorgestelde moet gebeur. Medegelowiges wat van mekaar verskil moet uiteindelik by mekaar uitkom. Die oorsaak van die partyskap moet uit die weg geruim word, sodat die gemeente(s) eendragtig kan saam staan en haar plek in die koninkryk van God kan volstaan.
En as daar wel skeuring kom? Dan is die skeurmaker(s) diegene wat hulleself van God en sy Woord losmaak en ander oorhaal om dieselfde as hulle te doen. Skeurmakers stel hulle woord bo God se Woord, hulle saak voor God se saak. Skeurmakers is mense wat aan hulle eie woord meer gesag verleen as aan elke woord wat uit die mond van God uitgaan.