Christen en Kuns
Christen en Kuns
Die Interkerklike Kommissie vir Opvoeding en Onderwys (IKKO) het na besinning tussen die verteenwoordigers van die drie Afrikaanse Kerke ooreenstemming bereik met betrekking tot die volgende riglyne as uitgangspunte vir die Christen se verhouding tot die kuns.
-
In gehoorsaamheid aan die Skeppingsopdrag (Genesis 1:28; 2:15) is die kunstenaar geroepe om sy talente ywerig te beoefen en kunsprodukte tot eer van God en tot heil van die medemens te lewer.
-
Dit is die roeping van die kunstenaar om die lewenswerklikheid te verken, te interpreteer en om met die aanwending van sy besondere talente sy bevindinge te openbaar.
-
Die skerpsinnige waarneming van die begaafde kunstenaar en sy uitbeelding van die waarheid dwing bewondering af terwyl dit die ingeskape behoefte aan skoonheid by die mens bevredig.
-
Die ongeregtigheid en die sedeloosheid binne die samelewing mag by geleentheid die kunstenaar dwing om hierdie kwaad te identifiseer sodat ander dissiplines dit kan bestry.
-
Die Bybelskrywers bied aan die kunstenaar die model vir die uitbeelding van die sondige en gebroke werklikheid deurdat die kwaad nie deur die beskrywing daarvan verheerlik word nie. Selfs die seksuele word só diskreet behandel dat verkeerde hartstogte nie opgewek word nie (Vergelyk Genesis 19:31-36; Genesis 38; Genesis 39:2; 2 Samuel 11; 2 Samuel 13; Spreuke 7; Esegiël 23.)
-
'n Kunswerk besit nie net estetiese waarde nie — daar is ook maatskaplike, psigologiese religieuse, etiese, staatkundige en ekonomiese norme wat met die beoordeling van die kunswerk meespreek.
-
Die Christen-kunstenaar maak hom nie aan die oorbeklemtoning van die dissonante in die geskonde werklikheid skuldig nie.
-
Die sogenaamde egte goeie kuns, wat Godonterend is en die heil van die medemens aantas, is ten spyte van sy kunskwaliteite onaanvaarbaar.
-
Die vryheid wat die skeppende kunstenaar geniet, stel hoe eise aan die verantwoordelikheidsin van daardie kunstenaar. Daarom verdien die gemeenskap van owerheidsweë beskerming teen die produkte van onverantwoordelike kunstenaars.
-
Die kerk betuig besondere waardering teenoor die kunstenaars wat in die beoefening van hulle gawes die Christelike lewensnorme eerbiedig.