Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Enkele Gedagtes oor Orgaanoorplanting

hart

Orgaanoorplantings het die afgelope dekades geweldig toegeneem. Verskeie tegnologiese ontwikkelings het hierdie operasies vir steeds meer mense moontlik gemaak. Behalwe die vraag na die tegnologiese moontlikheid, is dit ook belangrik om die vraag na die etiese grond vir orgaanoorplantings te vra. Kan ons as christene die oorplanting van organe vanuit die Skrif regverdig? Is dit versoenbaar met ons taak as profete, priesters en konings?

Die oorplanting van organe of weefsel kan geskied van een liggaam na die ander byvoorbeeld 'n nier van een pasiënt word oorgeplant na 'n ander pasiënt. Organe kan ook van een plek na 'n ander plek op dieselfde liggaam oorgeplant word. Byvoorbeeld kan vel oorgeplant word van die been na die arm by pasiënte met brandwonde.

Tydens orgaanoorplantings is daar sprake van donors en ontvangers. Die donor skenk die orgaan terwyl die ontvanger die orgaan ontvang.

In 1933 het 'n Russiese chirurg die eerste nieroorplanting gedoen. Die pasiënt is egter vinnig na die operasie oorlede. Die tegniese aspekte van die operasie was teen 1954 grotendeels opgelos nadat 'n geslaagde nieroorplanting in hierdie jaar in Boston op 'n identiese tweeling gedoen is. Die grootste probleem is egter die verwerping van organe deurdat antiliggame teen die orgaan gemaak word.

In die laaste 15 jaar het meer en meer oorplantings moontlik geword met beter resultate. Veral beter tegnieke om weefsel te tipeer, middels om verwerping te verhoed, beter tegnieke om organe te preserveer asook chirurgiese ervaring het hiertoe aanleiding gegee.

Die volgende organe kan oorgeplant word: hart, lewer, niere, pankreas, longe, kornea (horingvlies van die oog), vel, been, hartkleppe en die beenmurg. Veral hart-, nier-, horingvlies-, vel- en beenoorplantings is deesdae algemeen.

Omdat daar 'n geweldige gebrek aan organe is, en baie pasiënte lê en wag op 'n geskikte donororgaan, word baie navorsingswerk verrig om weefsel en organe makliker beskikbaar te maak. Sodoende kan meer pasiënte baat vind by die voordele van orgaanoorplantings. Onder andere word die inligting van donororgane en weefsel elektronies wêreldwyd beskikbaar gestel sodat 'n geskikte ontvanger op die waglys 'n geskikte donororgaan so gou moontlik kan kry. Sodoende kan byvoorbeeld 'n donorhart in Amerika binne 'n kort tyd na 'n geskikte ontvanger in byvoorbeeld Europa gevlieg word, vir oorplanting.

Daar is ook organe en weefsel wat nie dadelik oorgeplant hoef te word nie byvoorbeeld been, vel, horingvlies en hartkleppe. Hierdie organe en weefsel word dan in banke bewaar waar dit dan later onttrek kan word vir moontlike oorplanting. Deesdae is daar ook spermbanke waar kinderlose egpare as gevolg van 'n mediese probleem by die man, sperms kan haal om hul onvrugbaarheidsprobleem aan te spreek.

Die kloning van diere soos onder andere die skaap Dolly wat onlangs in die nuus was, word ook grotendeels deur maatskappye gefinansier met die oog op die moontlike kloning van organe en weefsel vir die oorplantingsmark. Daar is soveel pasiënte wat wag vir orgaanoorplantings, meer as wat die "donormark" kan voorsien. Daarom word baie geld belê in navorsing oor kloning.

Die vraag is in hoeverre ons as christene met die ontwikkelinge ten opsigte van orgaanoorplantings kan saamgaan? Dit is duidelik dat orgaanoorplantings ook verskeie uitwasse tot gevolg het byvoorbeeld spermbanke en die moontlike kloning van organe vanaf mens-embrios (selle uit die kiemlae van die jong menslike embrio kan moontlik gekloon word om sekere organe in die laboratorium te laat "groei" vir latere oorplanting). Die vraag is of ons nie te veel van die idee uitgaan dat die mens 'n masjien is waarvan onklaar onderdele vervang kan word nie? Is daar organe wat ons beslis nie mag oorplant nie? Moet die menslike liggaam nie in sy geheel begrawe word nie?

spermbank🔗

Gods Woord as Vertrekpunt🔗

As Christene wil ons die Bybel as vertrekpunt neem om hierdie vrae te beantwoord.

In die Bybel tref ons nie direkte antwoorde oor orgaanoorplanting aan nie. Wel het ons genoeg riglyne uit die Skrif om 'n antwoord te kan gee. Die Bybel leer ons dat ons met eerbied moet omgaan met die lewe van mense. Die lewe van mense het egter nie absolute eerbied nie, maar die Skepper en Onderhouer van die lewe kom die absolute eerbied toe. Selfbeskikkingsreg oor die lewe van mense is 'n gedagte wat vreemd aan die Bybel is. Ons is rentmeesters van ons en ons naaste se lewe, nie heersers en meesters nie. God het die mens as kroon van sy skepping geskape, 'n eenheid van liggaam en gees. Elke mens is uniek geskape of dit nou sy breinselle, geslagselle en organe soos die lewer en niere is.

Ons liggame is tempels van die Heilige Gees (1 Korinthiërs 6:19) en is geroep tot tempeldiens. Dit is priesterdiens voor God en ons naaste. Ons word opgeroep tot liefdediens teenoor ons naaste (HK, antw. 55).

Indien iemand sy organe sou skenk kan dit wel as priesterdiens beskou word. As die tempeldiens vir ons hier op aarde voltooi is kan ons met die skenking van organe bydra tot die tempeldiens van ons naaste. Dit is inderdaad so dat die skenking van bv. 'n nier aan iemand wat in nierversaking is hierdie persoon baie sal help. Die volgende is 'n voorbeeld: Na die skenk van 'n nier van persoon A (wat gesterf het) aan persoon B, is persoon B nou in staat om weer sy werk te doen, hy kan sy roeping as pa in die gesin beter vervul, en hy gaan makliker kerk toe. By die voltooiing van die ampsdiens van persoon A op aarde, kan persoon B sy ampsdiens (wat hy egter ook met sy siek niere op sy siekbed gehad het), tot 'n groter mate die orgaanoorplanting uitvoer.

Ons moet egter waak om orgaanskenking in alle gevalle as konkrete naastediens te beskou. Die motief waarmee orgaanskenking gedoen word kan baie goddeloos wees. Die tegniek het vandag in die geneeskunde amper oorheersend geword. Alle oplossings word daarvan verwag. Op alle moontlike maniere word gepoog om die lyding uit die wêreld te verwyder. Dit is egter belangrik om te onthou dat alhoewel dit belangrik is om lyding te verlig, dit moet kan instem met die gebooie van die HERE.

Orgaanoorplanting word dikwels vandag in 'n sfeer van humanitêre propaganda geplaas. In die sfeer van goedwillige humaniteit word mense opgeroep om hul organe te skenk. Baie christelike etici roep mense op om hul organe te skenk om hierdie rede. So sal baie lyding uit die wêreld verwyder word. Hierdie propaganda is dikwels eensydig gerig op die liggaamlike bestaan en gegrond in 'n materialistiese wêreldbeskouing. Is dit so dat ons met die afstaan van organe die geluk van die ander werklik kan bevorder, of sy of haar lewe kan red in die volle sin van die woord? Dit is iets wat slegs ons Here Jesus Christus kan gee. Ons moet nie aan orgaanskenking die betekenis van 'n goeie daad by die dood gee nie. Ons strewe na lewensverlenging van die liggaamlike lewe as hoogste waarde, is nie christelik nie. Orgaanskenking binne die milieu van die vertegniseerde en materialistiese wêreldbeeld is 'n strewe wat nie met God en die roeping van die mens rekening hou nie, en is daarom goddeloos. Die onverenigbaarheid van oorgeplante organe en verwerping van hierdie organe wat dikwels voorkom, dui vir ons aan dat hierdie medies-tegniese beeld van die mens ook biologies net gedeeltelik waar is.

Dit beteken nie dat orgaanoorplanting nie christelik is nie. Die motiewe agter hierdie tegniese operasie is bepalend. Iemand wat in 'n lewensgevaarlike situasie wel 'n orgaan sou wou ontvang, sou egoïsties optree as hy dan nie ook 'n orgaan wil afstaan nie.

organe

As priesters mag ons agter Christus aan soek na die herstel van ons naaste. Hierdie soeke is egter gebonde aan Christus en sy Woord. (Dit maak spermbanke en die kloon van menslike embrionale weefsel byvoorbeeld ongeoorloof).

Christus leer ons dat Hy die opstanding en die lewe is. (Johannes 11:25) Of ons dan lewe en of ons dan sterwe, ons behoort aan die Here (Romeine 14:8). Die lewe in Christus word nie deur die dood tot niet gemaak nie. Dit gee onmiddellik rus in 'n oorspanne strewe om die lewe te verleng. Die Skrif leer ons dat die liggaam van die oorledene nie sonder waarde is nie, maar met sorgvuldigheid behandel moet word. As ons egter die liggaam na die sterwe open om organe ten dienste van die naaste te stel is dit nie dieselfde as skending van die liggaam nie. Nadat organe verwyder is vir oorplanting kan die liggaam op die normale manier begrawe word.

Die mensbeeld van die moderne geneeskunde, naamlik dat die organe as vervangbare onderdeel gesien word, is in teenstelling met die Bybelse verstaan van die mens waarin die ampsdiens van die mens wesenlik met die liggaamlike bestaan verbind word. As ons dus 'n orgaan skenk, doen ons dit nie met die idee om iemand se lewe te red nie, maar om by ons voltooide ampsdiens die ampsdiens vir 'n ander meer uitvoerbaar te maak in sy siekte.