Habakuk - lewe vir die een wat glo
Habakuk - lewe vir die een wat glo
Ons geloof is geen teoretiese saak nie. Dit het betekenis vir ons lewe. En nie slegs vir “eendag” in die lewe hierna nie. Dit raak ons hele lewe van elke dag. Nie verniet vra ons in Sondag 23 van die Kategismus ‘n baie praktiese vraag nie : “Wat baat dit jou dat jy dit alles glo?” Wat het jy daarvan dat jy glo? Habakuk wil ’n antwoord op hierdie belangrike vraag gee in ‘n tyd waarin hierdie vraag deur baie gevra is.
Toekoms vir die een wat glo!⤒🔗
Die profeet Habakuk het ‘n heel helder antwoord op die vraag. Hy sê: die regverdige sal deur sy geloof lewe (Hab. 2:4). Die nut van die regverdige se geloof is dat hy sal lewe. Die antwoord kom gee hy in heel besondere omstandighede. Op geen gemaklike tyd in sy lewe en die lewe van die volk Israel nie, gaan worstel hy met die vraag wat dit nou eintlik baat om vas te hou aan die evangelie. Dit was geen oorbodige vraag in daardie tyd nie. Habakuk leef in ‘n tyd waarin dit nie goed gegaan het met die volk nie. Ons kan dit só stel – hy leef in ‘n tyd waarin dit behoorlik sleg gegaan het met die kerk. Kerkmense het nie uit geloof geleef nie. Habakuk vra daarom vir die Here: “Waarom laat u my al hierdie onreg sien?” (1:3). Die volk van die Here het self onreg gepleeg.
Onreg in die kerk←⤒🔗
Daar is sekerlik niks wat mens so aan die sin en betekenis van die geloof kan laat twyfel as juis dit nie. Wanneer kerkmense nie meer laat sien dat hulle geloof enigsins hulle lewe raak nie. Teendeel – kerkmense leef goddeloos. Hulle houding spreek nie van liefde vir die Here en bewoënheid met hulle naaste nie. Dit dompel mense wat werklik gelowig wil leef in onsekerheid. Dink maar hoe ‘n nuwe geslag jongmense moet opgroei onder sulke omstandighede! Hoe glo ‘n mens wanneer die voorbeeld van pa en ma of ander mense wat in die kerk is, se lewe geen goeie leiding gee nie?
Wat dit vir Habakuk nog moeiliker gemaak het, is dat die Here dit in sulke omstandighede nog moeiliker gemaak het. Immers, die Here het doodstil gebly het in tye van sulke onreg. Waar is die Here dan? Maar die laaste strooi wat die kameel se rug breek, is die wet self. Daaroor kla Habakuk in vers 4. Wat het ‘n mens aan jou geloof, wanneer die boodskap van verlossing wat die Here deur Moses gegee het, kragteloos blyk te wees? Hoe glo ‘n mens nog wanneer daar oënskynlik nie krag in die boodskap van verlossing self is nie. Dit was die muur waarteen Habakuk vasgekyk het. Werklik ‘n klaagmuur. Die wet self was kragteloos. Dit kon nie die onreg in toom hou nie. Die beloftes van seën wat die wet gegee het, was nie sigbaar nie.
Ingryp deur onreg?←⤒🔗
En dan nog een laaste skeppie wat bo-op kom…in plaas daarvan dat die Here in sy genade in die situasie ingryp om sy volk te red uit hulle vasgevalle situasie, kondig die Here aan dat Hy wel gaan ingryp. Maar dan op ‘n onverwagte manier. Die Here doen iets wat hulle nie sal glo as dit net aan hulle vertel word nie. Die Here self wek ‘n goddelose volk, die Chaldeërs op. ‘n Volk wat die Here self sê ‘n growwe, skandelike, verskriklike, magtige, selfgesentreerde en geweldadige volk is.
Hierdie boodskap moet Habakuk nog op groot tafels graveer en langs die pad sit sodat elkeen wat verbygaan kan lees. Dit sal sekerlik gebeur. Die uitwerking daarvan op die goddelose, is dat dit hom nog net meer opgeblase en hoogmoedig maak.
Gaan vra nou maar in sulke omstandighede die vraag: “Wat baat dit jou nou dat jy glo?” Wat maak die regverdige in hierdie omstandighede? Hy sal deur sy geloof lewe. Dit is die nut van sy geloof. Hy staan voor God regverdig en sal bly lewe. Hy sal nie omkom nie. Die band met die Here sal vir hom nie tot niet gaan nie. Dit is presies hierdie antwoord wat Sondag 23 wil gee: “Dat ek in Christus voor God geregverdig en ‘n erfgenaam van die ewige lewe is”.
Ons geloof maak nie van ons mense wat nie deur teëspoed getref word nie. Ons is nie uitgesluit van die seer en droefheid en teleurstellings en teëspoed wat baie mense op aarde tref nie. Dink maar aan Habakuk. ‘n Regverdige man en profeet van die Here. Maar Habakuk word nie uitgesluit van groot beproewings nie. Hy ken baie terugslae, teleurstellings, hartseer en kwellende vrae in sy lewe. Hy leef in ‘n tyd waarin dit lyk asof die Wet al sy krag verloor het – dit kan nie red nie. Dit laat mense in hulle goddeloosheid. Die nut van ons geloof is nie dat die Here hierdie dinge van ons weghou nie.
Aan die Here toevertrou←⤒🔗
Wat die nut van Habakuk se geloof is, word duidelik in sy gebed wat hy bid (3:1-17). Habakuk kan in moeilike omstandighede homself aan die Here toevertrou. Hy dink terug aan die wonderlike dinge wat die Here in die verlede gedoen het om sy volk te red. Hy verbly hom oor die Here se ontferming in die verlede. Hy bly vashou aan die mag van die Here wat eers die volk uit Egipte gelei het en daarna deur sy mag die beloofde land vir hulle gegee het. Die Here sal weer met oordeel optree teen die vyande van die kinders van die Here en Hy sal weer redding gee vir Israel.
Dit bring hom by die “nogtans” van die geloof. Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – NOGTANS sal ek jubel in die Here (3:17-18). Sy verlossing is nogtans in die Here en daaraan sal hy vashou. Die Here is sy sterkte en Hy maak sy voete soos die van die herte. Die nut van die geloof, is dat ek voor God regverdig kan staan. Selfs wanneer die Here oordeel uitspreek. Jy mag weet hoe God oor jou dink - wat God se oordeel oor jou is. Voor God staan jy nie beskaamd nie, staan jy nie veroordeel nie. Nie alleen op die dag van God se finale oordeel nie, maar nou. Vandag. Erfgenaam van die lewe – nou…en vir ewig.
Die Here kom tot redding←⤒🔗
Hoe kan dit wees? Hoe is dit moontlik dat iemand soos Habakuk so regverdig voor God staan? Sekerlik het sy gewete hom ook aangekla. Sekerlik was hy daarvan bewus dat ook hy teen die Here gesondig het. Ook hy was in staat om swaar te sondig. Die regverdige kan uit die geloof lewe alleen maar omdat die Here self uittrek tot redding van sy volk (3:13). Daar is alleen hoop op die toekoms (selfs in die dae van Habakuk), slegs omdat die Here beloof het dat Hy self die vyande van sy volk sal oorwin. Habakuk vertel hoe hy bewend voor die Here gestaan het in afwagting wanneer die Here met sy groot mag die oorwinning gaan behaal (3:16 !).
Daardie oorwinning behaal Christus self wanneer Hy uit die graf opstaan en opvaar na die hemel om só oor al sy vyande te triomfeer. Dit is hierdie oorwinning van Christus wat God vir ons skenk uit genade deur geloof alleen. Alles wat Hy vir ons gedoen het, sy geboorte waarin Hy Homself vir ons gee, sy lyding, sterwe en opstanding - dit alles wat vir ons gedoen is, word aan ons geskenk. Dit gee die Here vir my asof ek nooit enige sonde gehad het nie. Dit wat Christus gedoen het, word myne asof ek self al die gehoorsaamheid nagekom het wat Christus gedoen het toe Hy sy hele lewe Hom vrywillig aan die wil van die Vader onderwerp het. Daaraan het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem. Dit is die uitnodiging aan elkeen van ons – gee uself in geloof steeds meer oor aan hierdie genade van die Here.
Voor God regverdig←⤒🔗
Hoe mag ons voor God regverdig wees? Ons gewete ignoreer en rasionaliseer? Vir onsself troos deur te sê dit is nie so erg nie en ook ander is net soos ons? Die mooi van die evangelie is nou juis dat ons nie onsself hoef te regverdig deur alles waarvan ons gewete ons aankla, mooi te praat of weg te praat nie. Vraag 60 van die Heidelbergse Kategismus is: “Hoe is ek regverdig voor God?”. Die antwoord : “Só dat, al kla my gewete my aan dat ek teen al God se gebooie swaar gesondig het, ek deur die geloof mag deel in al Christus se geregtigheid en heiligheid” – dit word alles vir my geskenk. Ek is dus nie regverdig deurdat ek begin vrede maak met die gedagte dat ek nou maar eenmaal ‘n sondaar is nie. Dit wat ons as ons gewete beskryf, is dikwels niks minder nie as die Heilige Gees wat met die Woord diep in ons harte kom werk – en sal ons dan nou die Gees die swye oplê?
Maar nou is die mooie dat God aan elke gelowige, sonder enige verdienste van ons kant, uit genade, alles wat Christus vir ons gedoen het, kom skenk. Hy reken dit vir ons toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie. Asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus gedoen het. Sien u die nut van die geloof? God hou nie meer rekening met ons sondes wanneer Hy ons regverdig nie.
Hy hou alleen maar rekening met wat Christus gedoen het. Die regverdige sal deur hierdie geloof lewe. Ook wanneer die oordeel van die Here kom.