Die Oratorium van St. Filip Neri
Die Oratorium van St. Filip Neri
Dit mag uiters vreemd klink: 'n Predikant van gereformeerde belydenis, besoek die Katolieke “Oratorium van St. Filip Neri” en woon boonop 'n Vrydagaand Mis by! Tog is dit presies wat gebeur het, toe ons onlangs in Oudtshoorn met vakansie was. Ek het besoek gaan aflê by Vader Leon Mostert, priester van een van die parogieë wat tot díé Oratorium (plek van gebed) behoort. Vader Mostert het opgegroei as 'n Dopper (Gereformeerde Kerk) en was op weg na Potchefstroom om vir predikant te studeer, toe hy in sy matriekjaar 'n Katoliek word en uiteindelik 'n priester! Ek het van nuuskierigheid gebrand om sy verhaal te hoor en was ook gereed om van die Here se vrye genade - wat ekself leer ken het - te getuig. En wat 'n (vreemde) ondervinding was dit nie! Ons is soms geneig om oor die Katolieke te praat op grond van hoorsê of literatuur wat vanuit Protestantse oogpunt geskryf is, maar dit is iets anders om uit hul eie mond te hoor hoe hulle oor kerngeloofsake dink en om die Mis (van die Latyn missio. Dit beteken “stuur”. Die Mis is die gebeurtenis waar gebede na God gestuur word) persoonlik te beleef. Hier volg enkele indrukke wat ek graag met u deel. Die bedoeling is nie om 'n wetenskaplike artikel oor die Katolieke geloof te skryf nie, maar slegs indrukke weer te gee van wat ek by die Oratorium beleef het. Om dit makliker te maak, word dit onder 'n aantal hoofpunte uiteengesit:
* Eerbiedige aanbidding.⤒🔗
Een ding is seker: binne die Katolieke spiritualiteit word erns gemaak met aanbidding en eerbied voor God. Volgens Vader Mostert was dít juis een van die dinge wat hom destyds - as jong man - aangetrek het na die Kerk van Rome: die aanbidding. My besoek aan die Mis, het dit ook bevestig: die totale liturgie staan in die teken van konkrete aanbidding – dikwels met liggaamsgebare. En die liggaamsgebare beklemtoon weer die eerbied vir God. Dit geld vir dinge soos die maak van die kruisteken vanaf die voorhoof na die bors, die kniebuiging in die rigting van die “tabernakel” waarin die gekonsekreerde hostie (Nagmaalsbrood) gehou word – wat die fisiese liggaam en Persoon van Christus is volgens Katolieke oortuiging (die “praesentia realis”), die neerkniel in die kerkbank wanneer die gebou betree word, die veelkleurige kasuifel wat die priester dra, die mildelike gebruik van wierook, ensovoorts. Daar sal selde gebid word sonder die vou van die hande. 'n Besoeker kan nie anders as om daarvan bewus te raak dat eerbiedige aanbidding die deurslag gee nie – die hele atmosfeer spreek daarvan. Natuurlik berus die meeste van hierdie gebare op tradisie en nie op direkte Skrifgegewens nie. 'n Mens sou dus nie kon sê dat dit noodwendig die Bybels-korrekte wyse van aanbidding is nie. Dit behoort egter gereformeerdes tot nadenke te stem oor die aard, inhoud en kwaliteit van eerbied en aanbidding binne die gereformeerde erediens en liturgie. Die Katolieke se manier van doen hoef sekerlik nie nageboots te word nie, maar die sáák is belangrik en gereformeerdes behoort te besin oor die vraag óf lidmate werklike aanbidding beleef in die eredienste.
* Christus se heilswerk.←⤒🔗
Die rol wat Christus se heilswerk in Katolieke denke speel, is interessant en kompleks. Vader Mostert bely ronduit dat sy vertroue slegs op Christus se soendood en opstanding gerig is vir sy verlossing. In geraadpleegde Katolieke literatuur kom dit ook telkens na vore dat Christus se heilswerk as die mens se redding aanvaar word. Daarby bly dit egter nie. Dit asof die eenvoud van die evangelie verruil word vir 'n veel meer komplekse verstaan van die heil. Die gereformeerde verstaan van die heil as belofte-en-geloof, is vir Vader Mostert “té abstrak”. Die feit dat God in Sy Woord die volbragte heil aan die mens toesê en die mens dit mag glo, is te eenvoudig en nie konkreet genoeg nie. Daarom speel die sigbare, voelbare en ervaarbare in die Katolieke spiritualiteit so 'n groot rol. Dink maar aan die gebruik van die Crucifix, die beelde en ikone, die reinigingswater by die ingang van die kerkgeboue, die sigbare fisiese liggaam van Christus tydens die Eucharistie ensovoorts. Die heil moet “tasbaar” wees – konkreet. God se genade word as iets konkreet verstaan. “Geloof” beteken dan om te vertrou dát God deur middel van al hierdie konkrete gestaltes, Sy heil in die mens “instort”. Natuurlik is dit 'n lewenslange proses waaraan die gelowige moet saamwerk (sinergisme) deur sy/haar deel te doen – byvoorbeeld deur goeie werke van allerlei aard.
* Geen geloofsversekering.←⤒🔗
Die noodwendige gevolg van bogenoemde is dat die Katoliek geen werklike sekerheid van saligheid besit nie. Vader Mostert erken ronduit dat 'n mens nie hierdie sekerheid kan hê nie. Indien die afgehandelde heilswerk van Jesus Christus alléén, soos toegesê in Sy Woord alléén, nie as énigste grond van saligheid aanvaar word nie, volg die onsekerheid vanself. Wanneer die afgehandelde heilswerk van Christus aangevul word deur allerlei konkretisering en die Woord aangevul word deur Tradisie (sien punt hieronder), kán daar geen sprake wees van sekerheid nie. Die vaste fondament word immers verswak deurdat die mens se doen en late 'n aanvullende faktor tot God se werk word. Dan is die tafel gedek vir nimmereindigende twyfel. In die boekie Vuurkolom – Pilaar van Waarheid. Die Katolieke Kerk en God se plan vir jou (Die Oratorium Uitgewery. Oktober 2004) – word daar 'n paragraaf gewy aan die feit dat die “hemel aan niemand gewaarborg word nie”. “Daar kan geen absolute versekering van verlossing wees nie.” (p. 39). Die rede hiervoor word gevind in die (tereg) onvolmaakte en onsekere rol van die mens se volharding en toewyding. “As ons nie volhard nie, sal ons nie saam met Hom regeer nie – dit is dus moontlik vir 'n Christen om nie die hemel te beërwe nie.” (p.38). “'n Christen kan sy/haar verlossing verloor indien hy/sy afvallig word.” (p.39). Ten diepste word die mens sy eie verlosser – met God se hulp! “God gee aan ons die genade om Sy gebooie in liefde na te kom en dan vergoed Hy ons met verlossing wanneer ons hierdie liefdesdade aan Hom terug offer.” (p. 36). 'n Mens sou kon vra waarom Christus dan enigsins gesterf het – indien die mens homself kan red deur die gebooie na te kom met God se hulp. Christus se heilswerk word totaal ontkragtig en oorbodig gemaak. Wat dít betref verskil die Katolieke nie van enige nie-Christelike godsdiens nie. In hierdie opsig is Luther se eensydige klem op die SOLA (alléén) te verstane: Sólus Christus (Christus alléén), Sóla gratia (genade alléén), Sóla Fide (geloof alleen) en Sóla Scriptura (Woord alléén). Die Katolieke se besware teen Luther was nie gerig teen “Christus, geloof, Woord en genade” nie, maar teen die ALLÉÉN! Dit was die groot steen des aanstoots. “Nie 'alléén' nie, maar 'óók' ”- sê die Katoliek – en dan word die religieuse mens op vrome wyse ingebring as mederolspeler saam met God: óók die méns!! Met die gevolg dat alle heilsekerheid tot in sy kern vernietig word.
* Rol, funksie en plek van die Bybel en Tradisie.←⤒🔗
Binne die Katolieke denkraamwerk, is die Bybel slegs die een helfte van God se openbaring. Die ander helfte is Tradisie. Die Bybel word dus redelik laag geag. Daar is geen twyfel dat “Heilige Tradisie” die meeste gesag dra en aan die Bybel sy gesag verleen nie. Opsigself het die Bybel nie enige gesag nie. Die kerk gee aan die Bybel gesag, want die geloofsgemeenskappe van die Ou Testamentiese tydvak asook die vroegste Nuwe Testamentiese tyd het die Bybel tot stand laat kom. Die kerk was eerste en die Bybel tweede. Tradisie (met hoofletter) word onderskei van tradisie (met kleinletter) wat dui op allerlei oorgelewerde menslike gebruike. Die Tradisie is deel van die mondelings oorgelewerde Godsopenbaring en vind neerslag in al die eeue se Konsiliebesluite, dogmatiese uitsprake en Pouslike ex cathedra uitsprake. Voorbeelde hiervan is die leer oor Christus se twee nature, die leer oor die Drie-Eenheid, die kinderdoop, die vagevuur en Maria se ewige maagdelikheid. Dit was mondelings deur die Apostels oorgelewer, maar is nie so duidelik in die Bybel nie. Die Tradisie gee aan Katolieke lidmate die gemoedsrus dat dit wat hulle glo altyd voorheen só deur die antieke kerk geglo is, al is dit strydig met die Bybel. Byvoorbeeld die leer oor die vlekkelose ontvangenis van Maria. Omdat die kerk se leergesag dit só leer, is dit die waarheid en aanvaar almal dit. Wanneer die Katolieke leergesag met 'n nuwe doktrine na vore kom, word daar gesê dat hulle slegs iets duidelik definieer wat die kerk al van die Apostels se tyd af glo, selfs al is daar weinig historiese getuienis dat dit werklik die geval was en bots dit met die Skrif. Die Mariaverering is 'n voorbeeld hiervan. Die Katolieke Kategismus is 'n moderne opsomming van die totale Godsopenbaring, waar die Skrif - soos geïnterpreteer deur die Tradisie - aan die orde kom. Die kerklike leergesag soos vergestalt in die “Magisterium”(onderwyser) is die gesaghebbende liggaam wat steeds deur die Gees gebruik word om die Skrif korrek uit te lê. Die Magisterium bestaan uit die Pous en sy biskoppe (direkte opvolgers van die apostels). Die Heilige Tradisie kry dus konkrete gestalte in die Magisterium wat die Skrif foutloos uitlê. Dít is die volle Godsopenbaring. Deur middel van die kerklike leergesag word die “suiwere leer” dus deur alle eeue bewaar en oorgedra van geslag tot geslag sonder dat daar ooit verstellings aan die inhoud gemaak word. Daarom beskou die Katolieke die nie-katolieke gelowiges (wat slegs aan die Bybel as Woord van God vashou) as armoedig en uitgelewer aan duisende uiteenlopende (en soms teenoorstaande) subjektiewe interpretasies van die Bybel. Vandaar die verdeeldheid in die Protestantse wêreld. Daarom die duisternis van splintergroepe. Uit Katolieke oogpunt is “Sola Scriptura” (Die Woord alleen) die doodsvonnis oor die nie-Katolieke kerkwêreld, want die ortodoksie (korrekte geloof) kan nie bewaar word deur slegs aan die Bybel vas te hou nie. As teenvoeter hiervoor stel die Katolieke die Bybel, Tradisie en Magisterium wat die verkondiging van korrekte leerstellinge waarborg en die kerk tot eenheid saamsnoer. Dit is opvallend dat die gereformeerde belydenisskrifte die Katolieke Skrifbeskouing totaal weerspreek (sien bv. NGB Art 3-7). Behalwe vir die belydenis van die absolute gesag van die Skrif en die feit dat die Skrif volkome voldoende en volkome is, bely ons óók dat die Skrif sy gesag in homself dra. Dit word nie deur die kerk gegee nie (Art 5). Die Skrif staan bó die kerk en gaan die kerk vooraf en nie andersom nie.
* Apostoliese suksessie.←⤒🔗
Ten nouste verbonde aan bogenoemde, is die katolieke se aanspraak dat hulle biskoppe die direkte opvolgers is van die oorspronklike Apostels en dat die Pous die opvolger van Petrus is. Petrus sou dan die eerste Pous gewees het. Die geskiedenis self weerspreek dit egter, want die pouslike amp, soos dit vandag funksioneer, dateer eers vanaf ongeveer die jaar 600. Tewens, die Rooms Katolieke Kerk, in sy huidige organisatoriese struktuur het vir die eerste 600 jaar ná Christus nie bestaan nie! Tog hou die Kerk van Rome vol dat Christus Sy kerk op Petrus bou (Mat 16:18) en dat dit die Pous is. Die vraag of énige kerk die ware kerk van Christus is, is of sodanige kerk in gemeenskap met die Pous lewe! Die argument is dus dat die leer van die Apostels binne die Katolieke Kerk suiwer gehandhaaf is omdat dit van geslag tot geslag oorgelewer is deur die Apostels se opvolgers (pous en biskoppe). Die waarborg van die bewaring en handhawing van die suiwere leer is dus gesetel in die fisiese persone: eerstens die Apostels en tweedens hul opvolgers. Volgens gereformeerde oortuiging gaan dit egter oor die inhoud van die leer van die Apostels en nie oor hulleself as persone wat outentiek is nie. En hierdie apostoliese leer is volledig te vinde in hul geskrifte, naamlik die Nuwe Testament. Die Waarheid is dus nie te vinde in 'n kerklike ampsdraer wat 'n opvolger van die apostels is nie, maar in die leer van die apostels wat volkome in die Bybel te vinde is.
* Die Eucharistie.←⤒🔗
Die totale geloofslewe van 'n Katolieke lidmaat sentreer in die Eucharistiese (dankbaarheid) Misoffer – wat nie verwar mag word met die Nagmaal nie. Die Eucharistie vorm die kern van elke Mis. Dit herinner aan die Nagmaal, met díé verskil dat – volgens katolieke oortuiging – dit Christus sélf is wat geëet word. Nadat die priester die brood en wyn gekonsekreer het (met die instellingswoorde van die nagmaal in Mar. 14: 22-24) word die tekens deur 'n wonderdaad van God letterlik verander in die liggaam en bloed van Jesus (transsubstansiasie). Ná die konsekrasie is daar geen brood en wyn meer op die altaar nie, maar is dit waarlik Christus self – onder die gedaantes van brood en wyn. Dit lei daartoe dat Christus ook daadwerklik in die gedaante van die brood aanbid word en geëet word. Gedeeltes soos Johannes 6:53 en Markus 14: 22-24 word dus letterlik verstaan. In elke katolieke kerkgebou word 'n “tabernakel” aangetref. Dit is 'n klein “kassie” waarin die gekonsekreerde brood bewaar word. 'n Rooi lamp – die “Godslamp” - brand buite as aanduiding dat Christus in die tabernakel teenwoordig is. Die gekonsekreerde brood is dus in die tabernakel. Die Katolieke gelowige sal dan 'n kniebuiging in die rigting van die tabernakel maak. Op gereelde basis vind daar ook “die uitstalling van die allerheiligste sakrament” plaas, wanneer die gekonsekreerde hostie voor die oë van die gemeente “uitgestal” word deurdat dit in 'n “monstrance” (Engels) geplaas word. Die gemeente spandeer dan etlike ure om die allerheiligste sakrament letterlik te aanbid. Die broodkoekie is mos Christus self. Ek het persoonlik só 'n geleentheid in Oudtshoorn bygewoon. Dit is egter belangrik om te verstaan dat – volgens Katolieke geloof - die Eucharistie geen hernude offer van Christus is nie. Christus word nie telkens weer opnuut geoffer tydens elke Mis nie. So word dit gesê in die Katolieke boekie Vuurkolom – Pilaar van Waarheid. Die Katolieke Kerk en God se plan vir jou (Die Oratorium Uitgewery. Oktober 2004) (p. 28). Die offer van Christus kan nie herhaal word nie (volgens Hebr. 9: 26-28). Wat wél in die Eucharistie gebeur is dat “dieselfde kruisoffer wat Hy op Golgota gebring het, aanwesig gemaak word op die altaar. (p.28). Dit is waarom die Mis nie net nóg 'n offer is nie, maar 'n deelname aan dieselfde eens-en-vir-altyd offerande van Christus aan die kruis.” (p.29). By monde van die Heidelbergse Kategismus (Sondag 30) beskou gereformeerdes die Mis as afgodery – met spesifieke verwysing na die aanbidding van Christus in die brood. Daarby oordeel gereformeerdes dat die Eucharistie ten diepste 'n verloëning is van die enige offer van Christus omdat die volle vergifnis en saligheid nie gevind word deur geloof in Christus se volbragte offer alléén nie, maar dat die daaglikse deelhê in Sy offer - deur Hom fisies te eet - as die éíntlike saligheidsvereiste gestel word.
* Konklusie.←⤒🔗
Dit is moeilik om weg te kom van die idee dat die Rooms Katolieke Kerk in sekere opsigte glad nie verskil van die nie-Christelike kultusse nie. Dieselfde kern wat by alle kultusse aangetref word, is ook by die Katolieke Kerk teenwoordig, verwysende na veral drie aspekte: a) By feitlik alle kultusse word ekstra heilige literatuur bý die Bybel noodsaaklik geag ten einde die vólle waarheid te bekom. Met die gevolg dat die Bybel se gesag ondermyn word en ondergeskik aan die bepaalde kultus se heilige geskrifte gestel word. b) Christus se verlossingswerk word as onvolkome geag en menslike verdienste word noodsaaklik om die saligheidsknoop deur te haak. c) Gevolglik bestaan daar geen sekerheid van verlossing nie.
Die aspek wat egter op my die meeste indruk gemaak het tydens my besoek aan die Oratorium van St. Filip Neri, was die Katolieke se aanspraak op kerkeenheid téénoor die verdeeldheid in die Protestantse geledere. Die verdeeldheid, skeuring en standpunte binne die Protestantisme (om nie eens te praat van die gereformeerde vleuel van die Protestantisme nie) – en dit in die lig van ons belydenis van Sola Scriptura - sal nóóit die Katolieke Kerk oortuig van óns geloofsoortuigings nie. Uit Katolieke oogpunt gesien, is die verdeeldheid 'n klinkklare bewys van die feit dat ons buite die Waarheid staan. Daarom is dit nie om dowe neute dat die gereformeerde belydenisskrifte Formuliere van EENHEID heet nie. Die geloof in die ware apostoliese leer, soos in die belydenisskrifte verwoord, is die kragbron van ware eenheid. Ten alle koste moet hierdie eenheid konkrete gestalte kry – in die naam van die Waarheid wat ons bely!