Leerverskille - hoe ver kan ons gaan?
Leerverskille - hoe ver kan ons gaan?
"Die drie formuliere van eenheid" - so noem ons die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Ons noem dit so omdat die eenheid van die gereformeerde kerke juis in hierdie drie belydenisskrifte (formuliere) tot uitdrukking kom. Ons is een omdat ons dieselfde geloof bely. Met hierdie drie formuliere sê die gereformeerde kerke: só en só verstaan en bely ons die Skrifboodskap. Omdat ons dit eenders verstaan en bely, is ons één in ons geloof.
Verskillende interpretasies⤒🔗
Maar tog gebeur dit dat Gereformeerdes die drie belydenisskrifte nie eenders verstaan nie. Ons hoef nie ver te gaan soek om voorbeelde hiervan te kry nie. In ons eie geledere was daar vroeër vanjaar 'n lewendige diskussie oor hoe artikel 36 van die NGB verstaan moet word:
- Op 23 Februarie stel 'n skrywer die standpunt dat die landsowerheid kragtens artikel 36 die Godgegewe roeping het om die koninkryk van Jesus Christus te bevorder en sodoende die ryk van die Antichris ten gronde te rig. Dit is die klassieke (en letterlike) verstaan van hierdie artikel van ons geloof.
- Op 4 Mei skryf iemand dat hy artikel 36 anders verstaan. Hy beskou dit as die taak van die owerheid om te reël dat alle godsdienste vry kan wees om hulle eie godsdiens te propageer, sonder om op ander se vryheid inbreuk te maak.
- Op 8 Junie skryf 'n derde broeder, ook met verwysing na artikel 36, dat die owerheid "nie die taak het om die Satanisme as anti-godsdiens wat op die vernietiging van die Christelike godsdiens gerig is, te verbied nie".
Baie mense was ongelukkig oor die feit dat bogenoemde debat in plaasgevind het. "Ons word daardeur verwar", skryf een leser. Inderdaad kom dit verwarrend voor. Want wat is die taak van die landsowerheid dan nou werklik? Moet hy die Christelike godsdiens in die besonder beskerm of moet hy alle godsdienste op gelyke wyse behandel? Moet hy ten doel hê om die ryk van die Antichris ten gronde te rig, of moet hy ook daaraan sy beskerming bied? Al hierdie interpretasies kan tog nie almal onder die één kombers van artikel 36 toegemaak word nie! Of kan dit?
Moet leerverskille maar geduld word?←⤒🔗
Ook hieroor bestaan daar meningsverskil. Daar bestaan naamlik 'n benadering dat ons, ter wille van die eenheid van die kerk, maar verskillende interpretasies van die belydenis moet verdra. 'n Voorbeeld hiervan: 'n broeder skryf oor die vraagstuk of Allah van die Moslems die ware God is al dan nie. Hy sluit sy artikel af met 'n pleidooi vir "verdraagsaamheid onder Gereformeerde broeders teenoor die wat aanvaar dat Allah nie 'n afgod is nie".
Daarmee het ons al 'n goeie ent gevorder op die pad van wat ons kan noem die leer-relasionisme. Die relasionisme is die beskouing wat sê dat daar geen vaste waarheid bestaan nie - ook nie in die Bybel nie. Elkeen verstaan en verklaar die Bybel vanuit sy eie omstandighede. Hierdie beskouing sou eweneens geld vir die verstaan van die Belydenisskrifte. In die Belydenisskrifte is daar geen vaste waarheid opgevang nie. Elke leser verstaan en verklaar hulle maar vanuit sy eie ervaringswêreld. Daarom moet ons bereid wees om maar 'n (onbeperkte) aantal verskillende interpretasies van die belydenis te verdra.
As ons in die Gereformeerde Kerke sou waag om hierdie pad op te gaan, is ons besig met 'n gevaarlike eksperiment. Met reg sou 'n mens kon vra: As elkeen die Belydenisskrifte maar kan verstaan soos hy wil, wat bly dan van die eenheid van die kerke oor? Kan 'n mens dan nog enigsins van die formuliere van eenheid praat?
Die belydenisskrifte juis ter wille van eenheid←⤒🔗
Natuurlik sal daar meningsverskille onder Gereformeerdes bestaan. Die kerk bestaan immers uit mense. Juis om 'n situasie van "soveel hoofde, soveel sinne" te voorkom, het ons die drie formuliere van eenheid, om leereenheid in die kerke te bewaar. Maar as ons dan "ter wille van eenheid" ernstige leerverskille sou tolereer, is ons besig om onsself in die voet te skiet. Dan is ons besig om die eenheid van die kerk te ondermyn. Ware eenheid is immers 'n eenheid in die waarheid. In die kerk kan ons nie tevrede wees met 'n blote oppervlakkige eenheid nie. Nee, ons word geroep om "in een gees vas te staan, een van siel, een van sin" (Fil. 1:27; 2:2).
In Matteus 16:16 leer die Here Jesus ons dat Hy sy kerk op die rots van die belydenis sal bou. Solank die kerk rotsvas op die belydenis staan, sal selfs die poorte van die doderyk dit nie oorweldig nie! Maar wee die kerk wat hierdie fondamente in stukke wil breek. Die Here Jesus waarsku ons immers óók: "'n Koninkryk wat teen homself verdeeld is, kan tog nie bly staan nie" (Matt. 12:25).