Die oordeel in die prediking
Die oordeel in die prediking
Wat die Skrif ons leer oor God se oordeel en sy toorn, behoort in die prediking aan die orde te kom. As prediking Skrifgetrou wil wees, is dit vanselfsprekend. Die hele Skrif is immers vol van die aankondiging van die oordeel van die Here. Nie alleen in die Ou Testament nie, maar ook in die Nuwe Testament. Met name in Jesus se eie prediking is daar plek vir die oordeel oor elkeen wat hom nie bekeer nie. Elkeen wat in die Seun glo, het die ewige lewe, maar elkeen wat ongehoorsaam is aan die Seun sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom (Joh. 3:36). In ooreenstemming met hierdie boodskap, sal daar in die prediking in gemeentes, plek moet wees vir die verkondiging van die oordeel wat rus op onbekeerlikheid. God se genade in Christus is onpeilbaar diep en breed. Wie egter nie uit hierdie genade leef nie, stel homself buite die genaderyk van God.
God se oordeel kom sonder twyfel oor ongelowiges en onbekeerlikes. Daarom is dit baie belangrik dat hierdie oordeel juis ook in die midde van die gemeente verkondig word. Ons sal ongelukkig hopeloos te oppervlakkig besig wees met die plek van die oordeel in die prediking, indien ons dit slegs maar as iets van die toekoms sien. Asof die oordeel van die Here slegs maar ‘n saak van die toekoms is wanneer die Here sy oordeel sal voltrek.
Wanneer ons praat van die plek van die oordeel in die prediking, hoef ons glad nie in die eerste plek te dink aan spesifieke oordeelsdade van die Here in die oordeelsdag nie. God se oordeel is in die eerste plek ‘n uitspraak van God wat in die verkondiging van sy Woord na elke hoorder van die Woord kom! Presies net soos wat God deur die verkondiging van sy Woord sondaars regverdig verklaar. Dit is die roeping van die verkondiger van God se Woord om bekend te maak wat God se uitspraak is in vryspraak van sonde, sowel as God se veroordeling van sonde.
Die wat daarom onder die oordeel van God kom, is nie slegs die hipokriete (skynheiliges) in die kerk, die ongelowiges en onbekeerdes nie. Ook elke gelowige kom onder die oordeel van God! Juis wanneer dit nie meer tot uitdrukking kom in die prediking nie, word God se genade “goedkoop genade” (“billige Genade”, om ‘n bekende frase van D. Bonhoeffer te gebruik). Wanneer God se oordeel oor sy kinders nie meer uitgespreek word nie, word die vryspreek van ons sondes ‘n aan-die-slaap-sus-in-die-sondes.
Die Skrif praat hieroor tog duidelike taal. Laat ons maar dink hoe die Skrif praat oor die sonde van Dawid. Sy sonde word nie net genoem nie, maar uitdruklik word gesê dat dit God mishaag het en dat dit ‘n groot kwaad in die oë van die Here was. Die plek van die oordeel in die prediking, is daarom nie alleen om gelowiges te laat verstaan dat hulle steeds nog sondaars is nie. Dít sal dikwels maar al te maklik deur almal toegegee word. Maar die oodeel van die Here wil ons laat verstaan dat ook ons sonde die Here mishaag. Dat dit sy toorn wakker maak.
Het ons nie reeds die evangelie verloor, wanneer ons dit so verkondig (en hoor) dat gelowiges hulle slegs maar moet verbly oor die verlossing wat daar in Christus is nie? Wanneer hierdie blydskap oor die verlossing beteken dat ons ons oor die sondes waaraan ons onsself skuldig maak, nie meer hoef te bekommer of mag bekommer nie, doen ons die verkondiging van Christus ernstig tekort.
Graag wil ek hier verwys na die duidelike Skriftuurlike taal van hoofstuk 5 van die Dordtse Leerreëls. In Artikel 5 van die vyfde hoofstuk, word oor die growwe sondes van die gelowiges die volgende gesê : “Met sulke growwe sondes vertoorn hulle God vreeslik, verdien hulle die dood en bedroef hulle die heilige Gees”. Hierdie is geen droë dogmatiese stelling nie. Dit is die beskrywing van ‘n eksistensiële werklikheid in die konkrete lewe van ‘n kind van die Here. Die manier waarop hierdie toorn heel konkreet beleef word, word verder in dieselfde artikel soos volg beskryf : “(hulle) versteur die oefening in die geloof, verwond die gewete ernstig en verloor soms ‘n tyd lank die besef van die genade. Dit gebeur totdat God, wanneer hulle deur opregte berou op die regte pad terugkeer, weer die lig van sy Vaderlike aangesig oor hulle laat skyn”
Wanneer moet ‘n mens dus van die oordeel van die Here hoor? Slegs vóórdat jy vir die eerste keer tot geloof kom?? Die skrywers uit die Nadere Reformasie ( vgl. die sogenaamde “Oude Schrijvers”) het byvoorbeeld dikwels die aanklaagende funksie van die wet beperk tot die tyd vóór die eerste kom-tot-geloof in die lewe van ‘n Christen. Werklike verkondiging van die oordeel van die Here, begin egter nie deur ‘n dreigende vinger te wys na wat “eendag” in die oordeelsdag gaan gebeur nie. Dit ís natuurlik die lewende verwagting wat ons het dat Christus weer sal kom om oor die lewendes en dooies te oordeel (vgl. vr. en antw. 52 van die Heidelbergse Kategismus). Die werklike veroordeling van alle sondige werke in die Woord van die Here as ‘n werklikheid van vandág reeds, behoort egter veel meer te klink, juis om ons te bewaar van die kómende oordeel. God se veroordeling van ons sondige werke, hoor ons nêrens duideliker as in die verkondiging van Christus se kruis nie!! Hy is aan die kruis vasgenael, sodat God se oordeel nie meer oor my sondes volbring sal word nie. Die nagmaalsformulier stel dit so mooi dat Hy “die vervloeking wat op ons was, op Hom gelaai (het), om ons met sy seën te vervul”. In elke verkondiging of viering van die vryspraak van ons sondes, klink die oordeel van God oor ons sondes. Die lewe uit hiérdie werklikheid (deur die geloof) kweek die ware godvrugtige/vroom lewe.