Die belofte van die erfgename - Romeine 4:13
Die belofte van die erfgename - Romeine 4:13
Ek beloof…⤒🔗
Ons hoor gereeld die woord “belofte” (of “beloof”) in die gereformeerde belydenisgeskrifte wanneer die betekenis van die christelike doop verwoord word. Trouens die doop word gesien as ‘n belofte van God. Veral word aandag gegee aan Christus wat ons in die doop ‘n belofte gee (vgl. o.a. Heid. Kat. Vr. 71). Die woord “belofte” kry by ons so maklik die invulling as iets wat êrens in die toekoms gedoen sal word. Dan het die woord die funksie gekry van “voorspelling”. “Ek beloof” beteken dan “ek voorspel”. Dit is natuurlik NIE met hierdie betekenis dat die woord gebruik word i.v.m. die doop (en nagmaal) nie.
Ons moet die belofte wat ter sprake is in die doop verstaan teen die agtergrond en betekenis daarvan in veral die briewe van die apostel Paulus. Teenoor die soeke van ’n geregtigheid buite Christus, stel Paulus die lewe van die regverdige wat uit die geloof is in die belofte van God :
Rom. 4:16 : Die belofte dat Abraham erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. As die erfenis uit die wet sou wees, dan het die geloof waardeloos en die belofte tot niet geraak. Daarom, so beklemtoon die apostel, is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die BELOFTE kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal. Die belofte vereis dat al ons aandag gefokus kan word op die werk van Christus. In Christus het ons te doen met ‘n “belowende God”. ‘n God wie se Woord betroubaar is. Werd om ten volle aangeneem te word
Belofte-Woord←⤒🔗
Die hele lewe van die kerk van die Here in Ou-en Nuwe Testament word gedra deur hierdie “beloftekarakter van die heil”. God se genade kom na ons deur sy beloftewoord en word deur ons ontvang in die geloof wat eweneens gerig is op hierdie belofte van God. Heel tereg maak J.G. Woelderink die belangrike punt dat “heel de prediking en het werk der hervormers word gedragen door de erkenning van dit belofte-karakter van het heil.”
In teenstelling met die sakramentele genade van die Roomse Kerk, het die reformator van Genève die gelowige verwys na die sprekende God, wat Hom in sy Woord geopenbaar het. Oor die hele front van sy teenstand teen die Roomse Kerk, wat haar met haar leergesag bo die Skrif verhef het, beroep Calvyn hom op die Woord van God as beloftewoord wat in die verbond na sy volk toe kom. God maak sy verlossing bekend in die weg van die belofte en ons kry geen ewige deel aan daardie verlossing, anders as deur die lewende geloof in hierdie belofte nie!
Juis hier breek die kerk van die Reformasie met die kerk van die Middeleeue – waar die kerk weer leef uit die lewende Woord van God! God se heil word nie outomaties die mens ingestort deur die sakramente (ex opere operato) nie, maar deur die verkondiging / prediking van Gods Woord! Die genade is geen fisiese “substansie” wat die mens ingestort (gratia infusia) kan word nie, maar ’n “geloofswerklikheid”. Dit word ons s’n deur die Gees van God wat deur die Woord alleen (sola scriptura) in ons die geloof werk deur die belofte. Wanneer ons God betroubaar praat, werk Hy daarmee self vertroue in ons harte. Hierdie twee sake kom verbind ons belydenisgeskrifte só nou met mekaar – ‘n betroubare (belowende) God (woord) en ‘n gemeente wat vertrou.
Hier lê die hartklop van die stryd rondom die regverdiging. Die weë gaan uiteen wanneer aandag gevra word vir die MANIER waarop die regverdiging plaasvind. Die Reformatore vra aandag daarvoor dat die geregtigheid van Christus ons geskenk word alleen in die belofte van die Evangelie van Christus. Deur die geloof word dit aangeneem. Die hele lewe van Christus se kerk moet daarom getipeer word as ’n lewe van die geloof. Want in alles leef Christus se bruid uit die Woord van die Bruidegom! Die beloftekarakter van die verlossing soos verkondig deur die reformatore en in ons belydenisgeskrifte en liturgiese formuliere neerslag gevind, wil ons rig op die lewe vanuit God se genade-Woord.
Inhoud van die belofte : “Christus geklee met sy belofte”←⤒🔗
“Die ware kennis van Christus is dus as ons Hom aanneem soos Hy deur die Vader vir ons aangebied word, naamlik geklee in sy evangelie. Soos Hy immers as die doel van ons geloof bestem is, sal ons nie reguit na Hom koers hou tensy die evangelie voor ons uitgaan nie. As dit vir ons gesluit bly, sou Christus weinig voordeel vir ons ingehou het.” Met hierdie woorde gee Calvyn ons ’n duidelike sig enersyds op wie die werklike “inhoud” van die belofte is (Christus) en andersyds wat hierdie belofte van ons vra (geloof). Die geloof staan altyd in verhouding tot God se Woord en dit kan net so min van God se Woord losgeskeur word as wat die strale van die son, wat die bron daarvan is, losgemaak kan word. Daarom roep God tot sy volk deur al die eeue : “Luister na My en julle sal lewe” (Jes. 55:3). Wanneer die profete die volk wil aanspoor om te glo, sê hulle : “Vandag as julle my stem hoor verhard julle harte nie” (Ps. 95:8).
God self maak onderskeid tussen sy kinders en die buitestanders buite die kerk, deurdat Hy self al sy kinders sal onderrig en hulle sal deur Hom geleer wees. Paulus beskryf geloof as gehoorsaamheid aan die evangelie. In geloof gaan dit dan juis hieroor, sê Calvyn, naamlik dat ons sal begryp wat God se wil met ons is. Dit is veral vir ons belangrik, nie om te weet wie Hy self is nie, maar hoe Hy vir ons wil wees. Geloof, so verduidelik Calvyn vêrder, is die kennis van God se wil met betrekking tot ons soos ons dit uit sy belofte leer. Hierdie wil van God met betrekking tot ons word alleen in Christus geleer. So beskryf hy vervolgens die ware karakter van geloof as die “vaste en seker kennis van die welwillendheid van God jeens ons, wat in die waarheid van sy genadige belofte in Christus gegrond is, en deur die Heilige Gees aan ons verstand geopenbaar en in ons hart beseël word.” Van hierdie belofte wil die doop ons ‘n sekerheid kom gee, sodat ons sal glo en lewe eerder as vol wantroue teenoor God staan en verlore gaan.