Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Boekresensie: Die Einddinge

Wat is waar en wat is nie waar nie?🔗

Onder bostaande titel het ds. Hanan Viljoen (geen familierelasie van ondergetekende nie) onlangs ‘n boek laat verskyn. Ons wil graag die boek onder u aandag bring, omdat dit ‘n welkome bries van vars lug is teenoor ‘n stroom van literatuur geskryf vanuit ‘n Chiliastiese oortuiging. Ons is die afgelope paar jaar oorval met publikasies wat die rykste fantasieë aan die woord stel oor wat in die sg. “laaste dae” sal gebeur. Ds. Viljoen het ons almal ‘n guns bewys deur hierdie goed leesbare boek te skryf as antwoord vanuit die Skrif op die chaos van stemme oor allerlei temas wat in verband gebring kan word met die “eindtyd”. Graag sien ons dat lidmate veel eerder hierdie boek (172 paginas!) van ds. Viljoen ter hand neem as wat Hal Lindsey of W.J. Ouweneel ons voorhou.

Alles beeldspraak?🔗

Daar is werklik alle goeie rede om die leer oor die einddinge (eskatologie as u wil) ter sprake te bring. Teoloë praat selfs van ‘n krisis in die christelike toekomsverwagting. Predikante en lidmate is dikwels in verleentheid oor ons toekomsverwagting. Ons hoor hopeloos te min die sugtende gebed: “Kom Here Jesus!” (Openbaring 22: 20).

Besinning oor en bewusmaking van ons christelike toekomsverwagting het nog meer dringend noodsaaklik geword, noudat daar openlik geleer word dat daar geen hemel en geen hel bestaan nie. Laat staan nog maar die gedagte dat iemand uit die hemel met ‘n wolk van heerlikheid op die aarde sal neerdaal. Hendrikus Berkhof sal openlik verkondig dat hy nie meer kan glo in ‘n plotselinge totale verandering of in ‘n inbraak van bo-af wat eeue-oue ontwikkelinge sommer so tot stilstand kan bring nie. Al hierdie verwysings na hemel, hel en wederkoms is vir hom suiwer beeldspraak.

Hy wil wel in alle erns graag vêrder besin oor presies waarvan hierdie woorde alles beeldspraak is. As ons nie hierdie vraag - oor die betekenis ágter hierdie tradisionele woorde - verstaan nie, sal ons opgeskeep sit, volgens Berkhof, met ‘n mitologiese toekomsverwagting wat die vrug is van fantasie. Daar word daarom betoog dat ons toekomsverwagting uitgedruk moet word in kategorieë wat vir ons as moderne en postmoderne mense verstaanbaar is. Met hierdie taak is talle al sedert die Eerste Wêreldoorlog besig. Die noem van die naam van Rudolf Bultmann met sy “ontmitologiseringsprogram” hoef genoeg te wees om ons te laat verstaan dat jy dan in ‘n heel ander wêreld tereg kom.

Bultmann wil die begrip “toekoms” verstaan vanuit die eksistensialistiese filosofie. Kortliks kom dit ongeveer hierop neer : Die wese van die mens bestaan in sy taak om te “eksisteer” – jy moet buite jouself tree. Die mens - anders as ander wesens - kan buite homself tree en homself na die toekoms werp. Te midde van ‘n wêreld van baie slawerny waaraan ons verknog word, kan ons op dié manier “vry” word. Hierin moet die mens van God se kant gehelp word, want die mens kan nie homself aan sy eie hare uit die moeras trek waarin hy beland het nie. In die prediking van die evangelie word die mens gekonfronteer met “die laaste dinge”, die “eschaton”, die toekoms. Dit is ‘n ander manier om te sê dat ons op hierdie manier gekonfronteer word met dit wat van “van God” na die mens kom as geskenk waarin die mens waarlik “eksisteer”. In hierdie verkondiging hier en nou beleef die mens die toekoms, die laaste dinge. Die toekoms is geen kosmiese gebeurtenis oor ‘n bepaalde tyd in die toekoms nie, maar ons eksistensiële vryheid waaroor ons nie vanuit onsself beskik nie, maar wat as uitnodiging van God wat na ons kom in die evangelie.

U sal verstaan dat hierdie geen Bybelse of christelike verstaan van ons toekomsverwagting meer is nie. Hier het ons te doen met die “drogredes” en “vleeslike gesindheid” waarteen Paulus as apostel ons waarsku om nie in meegevoer te word nie.

Vashou aan die Hoof🔗

Teenoor die ontwikkelinge in die verstaan van die eskatologie in die 20’e eeu, moet ons versigtig wees om nie maar net nog ‘n toekomsvisie op die tafel te probeer plaas nie. Die Christelike toekomsverwagting is ‘n geloofsaak. Daarmee bedoel ek alleen maar dat ons toekomsverwagting alles te doen het met die toekoms van ons Here en Verlosser. Ons toekoms is ten nouste te verstaan vanuit ons geloofsband met Christus. Die toekomsverwagting wat die Skrif ons leer is dan ook geen poging om ‘n gedetailleerde toekomskaart vir ons te gee van alles wat gaan gebeur nie. Ons moet dit ook nie begeer nie. Ons begeerte moet daarna uitgaan om Christus nog beter te leer ken. En dan veral wat die Skrif ons leer oor Sý toekoms. Spekulasie oor die toekoms mag ‘n skyn van wysheid hê, maar dit verblind mense uiteindelik tog maar vir Christus.

Dit word heel mooi uitgedruk wanneer die apostel Paulus waarsku teen ‘n “lewenswandel in die vlees” van hulle wat nie vashou aan die Hoof nie (Kol 2:18). Los van hierdie (geloofs)band met Christus, word alle gesprekke oor die toekoms losse spekulasie en nuttelose praatjies – hoe vroom en “korrek” ons ook al mag besig wees. Alles in die Skrif is vir ons gegee tot onderwysing in die geloof en geregtigheid – ook dit wat die Skrif ons leer oor die toekomstige dinge. Dit gaan oor die toekoms van Christus en dié wat aan Hom behoort (Kol 2:19).

‘n Boek wat vrae beantwoord🔗

Die boek van ds. Hanan Viljoen is nie geskryf vanuit ‘n positiewe uiteensetting van wat die Skrif leer nie. Die doelstelling word weergegee op die agterblad van die uitgawe. Dit is ‘n boek wat op ‘n klomp vrae wil antwoorde gee. Op sig is dit natuurlik ‘n edel begeerte, maar dit het wel gelei tot ‘n bont potpourri van temas, opinies en eksegese van bepaalde skrifgedeeltes.

Vrae wat die boek wil beantwoord is o.a. : “Gaan daar ‘n wegraping wees?, Is Israel nog steeds God se uitverkore volk?, Is die Chiliasme feit of fiksie?”. Opmerklik genoeg word verbygegaan aan of redelik onvolledig behandel wat die Skrif leer oor die nuwe hemel en die nuwe aarde, die antichrist, die plek van die Lam in die Nuwe Jerusalem, die liggaamlike opstanding, hemel en hel. ‘n Boek kan natuurlik nie altyd tereg bekritiseer word oor wat dit nie aanspreek nie, maar bogenoemde is tog wel opvallende leemtes in die boek.

Anti-Chiliasties🔗

As ‘n boek wat teenoor die populêre Chiliasme goed gefundeerde antwoorde wil gee, is die boek vir lidmate (en predikante!) sterk aan te beveel. Ons moet nie die diepgewortelde gedagtes van die Chiliasme by baie lidmate onderskat nie. Die spekulatiewe en oppervlakkige omgaan met die Skrif deur die Chiliasme, verlei en verslaan sy tienduisende. Die positiewe uiteensetting oor die plek van die koms van die koninkryk, die plek van Israel sedert Christus se eerste koms saam met die eksegese wat gebied word van relevante skrifgedeeltes by die behandelde onderwerpe, maak hierdie boek waardevol. In “Die einddinge – wat is waar en wat is nie waar nie?”, word goeie voorligting gegee.

‘n Mens hoef nie met elke detail van die boek saam te stem om nogtans te hoop dat die boek deur baie gelees sal word nie. Dit is ‘n boek wat inderdaad baie se vrae oor hierdie belangrike aspek van ons geloof sal beantwoord. Lesers wat egter ‘n beter geordende en sistematiese uiteensetting begeer van wat die Skrif ons leer oor die laaste dae en die dag van die Here, sal nogal teleurgestel word deur die boek. Jammer genoeg word die ernstige dwalings in die eskatologie vanuit die Teologie van Hoop aan wie die name van o.a. Ernst Bloch en Jurgen Moltmann verbind word, glad nie aangespreek nie. Hoe belangrik die dwalings vanuit die Chiliasme ook al is om weerlê te word, moet ons nie onopmerksaam wees vir die meer gesofistikeerde en filosofiese dwalings oor die toekoms van Christus en sy kerk nie. Nogtans bedank ons die skrywer vir die goeie diens wat hy ons bewys het met die skryf van hierdie boek en spreek ons die vertroue uit dat dit deur baie vrugbaar gebruik sal word.

Die boek : Die Einddinge – wat is waar en wat is nie waar nie?, kan bestel word by :
Lig Publikasies
Posbus 15754
Lynn East 0039
Tel : (012) 332-1474