'n Stad bo-op 'n berg
'n Stad bo-op 'n berg
Een van die mens se grootste vrese is waarskynlik dat hy nie raakgesien word nie. Elkeen wil sy merk maak en erkenning kry in so 'n wye kring as moontlik. Die eienaardige dinge wat soms gedoen word, net om aandag te trek, laat 'n mens soms verstom staan. Ook in die kerk kan hierdie vrees ontwikkel. Veral in Suid-Afrika, waar die kerk lank daaraan gewoond was om raakgesien te word. As die kerk gepraat het, het selfs die landsregering dikwels geluister. Maar dit het nou verander. Die kerk is as 't ware na die kantlyn toe uitgerangeer. In die nuwe Suid-Afrika dreig die kerk om irrelevant te raak. Wat moet die kerk doen om weer in die kalklig te kom?
Dit lyk of verskillende mense verskillende strategieë bedink. Omstandighede verg dat die kerk aktief bemark moet word, word dikwels gesê. Die dryfkrag hieragter is dikwels die vrees dat die kerk saam met sy aansien ook sy lidmate gaan verloor. Veral die jongmense gaan loop, word gevrees. Daarom word allerlei verjongingskure vir die kerk voorgeskryf. Veral die erediens moet 'n ontrimpeling ondergaan, sodat jongmense makliker daarmee sal assosieer. 'n Orkes in plaas van 'n orrel; lekker-sing-liedjies in plaas van psalms; 'n loslit-dominee in plaas van 'n prediker- alles strategieë om die jongmense dan sogenaamd nader te lok.
Onlangs het die dagpers egter gerapporteer dat die kerk met sulke strategieë net vir 'n kort rukkie aandag trek en 'n toestroming beleef, maar dat dié nuutjie na 'n tyd sy trekpleister-effek verloor. Boonop verloor die kerk daarmee by baie mense ook sy geloofwaardigheid.
'n Ander strategie om aandag te trek, is dat kerklui opspraakwekkende uitsprake maak. Die advertensiewaarde van sensasie is natuurlik baie groot. Enige blootstelling is goeie blootstelling, is tog 'n ou slagspreuk in die sakewêreld. Die afgelope paar maande het ons in Suid-Afrika 'n deeglike kwota hiervan gehad. Daar was teoloë wat beweer het dat 'n mens nie Christus nodig het om verlos te word nie; ander wat geweldig "verligte" uitsprake oor seksualiteit maak; die jongste debat (vgl. die TV-program Carte Blanche van Sondag 29 Oktober – blykbaar oor die vraag of ons werklik kan weet hoe Jesus gedink het, veral aangesien die Bybel "die ware feite nie heeltemal reg weergee nie").
Die ellende van dié sensasie-strategie is dat dit baie verwarring by gelowiges veroorsaak. Ter wille van sensasie is dit juis die gevestigde oortuigings van die kerk wat bevraagteken word, soos die betroubaarheid van die Bybelse leer, die waarheid oor God en die egtheid van die Christelike godsdiens.
Die gevolg is dat die kerk wel in die kalklig kom, maar om die verkeerde redes. Behalwe dat dit 'n struikelblok vir baie gelowiges word, skep die kerk se vyande 'n sensasionele behae daarin dat die kerk blykbaar besig is om sy eie fondamente te ondergrawe.
Hoe dan gemaak? Moet die kerk hom dan maar in sy eie hoekie terugtrek en geen impak op die samelewing hê nie? Allermins. Die Here gee tog uitdruklik die opdrag aan sy kerk om as sout en lig vir die wêreld op te tree (Matt. 5:13,14). Ons mag nie 'n eenkant-kloosterbestaan voer nie. Dit kan ook nie, sê Jesus. Solank die kerk waarlik kerk bly, kan die wêreld nie anders as om daarvan notisie te neem nie. "'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie," sê Jesus in vers 14.
Belangrik is dat die stad bo-op die berg, en nie elders nie, geleë is. Daarom moet die kerk deurentyd nooit laer mik as die bergtop nie. Waar is die bergtop? Ons bergtop is dáár waar ons met Christus leef. Hoe verder van Christus af, hoe laer is ons ligging. Die taak van die bruidskerk is dus nie om haarself te bemark nie, maar om Christus haar Here te verkondig.
Die probleem met die meeste bemarkingstrategieë van ons tyd, is dat dit op niks anders gerig is nie as dat die kerk raakgesien moet word. Maar dit gaan nie oor die kérk wat raakgesien moet word nie. In vers 16 sê Jesus: "Laat julle lig so skyn voor die mense dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik". Solank dit vir die kerk dan werklik om ons hemelse Vader gaan, om Hom en sy Woord aan die wêreld te bring – ook deur ons eie optrede – sal ons soos 'n stad wees wat niemand kan miskyk nie.