Jesulatrie Jesulatrie: ‘n Redelik Onbekende Woord wat die Valse Geloof áán ‘n Christuslose Jesus Beskryf
Jesulatrie Jesulatrie: ‘n Redelik Onbekende Woord wat die Valse Geloof áán ‘n Christuslose Jesus Beskryf
Die eniggebore Seun van God is die Een wat deur die Heilige Gees tot ons hoogste Profeet, ons ewige Koning en ons enigste Hoëpriester gesalf is. Hy is deur sy Vader uit die luisterryke heerlikheid van die hemele in hierdie wêreld gestuur om ons uit ons totale doemwaardigheid te verlos. Hy het ons weer met God versoen deur sy volmaakte offer aan die kruis. Hy het vir ons die ewige lewe verwerf deur sy opstanding uit die dood. Dit is die enigheid en die uniekheid van die Here Jesus wat ons uit die Skrifte op die getuienis van die apostels leer ken.
Servet het reeds in die dae van Calvyn die drie-eenheid van God ontken. Deesdae is daar verskeie invloedryke persone wat dit waag om in die openbaar veel verder te gaan. Vir hulle is Jesus maar net ‘n legendariese figuur wat net soos die godedom van die Grieke en Romeine uit die nadenke van mense in aansyn gebring is. Jesus is maar net die heldefiguur van ‘n ‘Joodse sekte’ wat weens sy uiterste humane lewe as mens baie mense se bewondering ontlok het. Hulle het van Hom ‘n Messias gemaak.
Die omvang van die skade wat die kritiese wetenskapsbenadering, ondanks sy vele goeie punte, aan die openbaring van God in sy Woord gedoen het, is onberekenbaar groot. Die denkende mens het sedert die Renaissance die plek van God ingeneem en aanvaar slegs gegewens wat die toets van menslike denke slaag. In die post-modernisme van vandag, regeer ons eie kultuurvoorstelling wéér ons denke soos dit in al die vorige antieke beskawings was. Elke paragraaf in die Bybel is reeds op een of ander manier onder verdenking van bedrog geplaas. Waar die integriteit van die Bybelteks deurgeloop het, het noodwendig ook die boodskap daarvan geval. Die kritici se Godvoorstelling is niks anders as ‘n refleksie van hulle menslike aspirasies nie. So het hulle ‘n Jesus geskep wat bloot armes ryk maak, verdruktes vry maak, onderdaniges emansipeer en die politieke ‘Gees’ van menseliefde en menseregte daarstel. Sonde is niks anders of méér as maatskaplike onreg nie. Die nuwe lewe is iets wat ons reeds hier op aarde vir onsself skep soos wat die tegnologiese ontwikkeling vorder.
Die belydenis van Chalcedon (451) bely dat die twee nature in die een Persoon van Christus verenig is. Die belydenis van Nicea (321) het die drie-enigheid van die Vader, die Seun en die Heilige Gees geformuleer as een in Wese en drie Persone. Dit word vandag vir blote uitgediende ortodokse konstruksies aangesien, onaanvaarbaar vir die post-moderne denkende mens. Die tyd waarin die Bybel en die kerk ‘n bydrae kon maak, is helaas verby. Die westerse beskawing het nou mooi geleer hoe hulle goed gemanierd moet lewe. Die mense kan maar sonder die kerk en sonder die mite van ‘n Jesus wat die Seun van God is, verder lewe.
Eintlik is dit veel erger. Nietzsche het die kerk die graf van God genoem. Alfred Loisy skryf: Jesus het die ryk van God verwag – wat toe daar uitkom was die kerk. Die kerke preek Christus, deel Hom as sakrament uit. Ondertussen lyk dit of Jesus in hulle hande ‘n sagte dood gesterwe het.
Wat maak HM Kuitert van Jesus? Hy is die eerste om te erken dat Jesus maar is wat mense van Hom máák. Sy betekenis is maar die betekenis wat mense aan hom toeskryf. Daar kom ook die verskillende Jesusbeelde vandaan. Dit is die Christus wat deur die kerk geyk is. Buite die kerk is daar nog allerhande ‘christologieë’ in omloop soos byvoorbeeld deesdae in die ‘new age’-beweging. Kuitert stel ’n Jesusleer (christologie) voor waarmee mense mekaar nie sal teëgaan nie, maar so veel as moontlik hul eie religieuse ervaring aan Jesus as kapstok kan ophang.1
Onlangs het daar weer ’n groep ondersoekers (Jesus Seminaar) op die soekpad gegaan om die historiese Jesus op die kaart te bring (New Quest). Ook hierdie poging het geblyk ‘n illusie te wees, want ons weet so min betroubaars van Jesus. Daarby het die Evangeliste hulle deur belydenistaal van mense laat bedien. Hulle belewenisse en die evangelies self verteenwoordig niks anders as ’n staaltjie van gemeenteteologie nie. Ook ‘feite’ as sulks bestaan nie. Wat mense as feite wil aandien is gekleur deur diegene wat dit vertel - met hulle interpretasie word hulle verstaan van die betekenis daarvan voorgehou. Wie is Jesus – ‘n mislukte Messias (Strauss), die eskatologiese profeet (Schweitzer), die gnostiese wysheidsleraar (Robert Funk), die Gees-vervulde swerwer (Gerd Theissen)? ‘Sê my wie jou Jesus is, en ek sal sê wie jy is.’
Hierin speel Kuitert saam: 2 ‘Die christelike kerk het later van Hom die Heiland van die wêreld gemaak, maar wat Hy gedoen het was niks meer as om sy eie Joodse volk na God toe terug te roep nie. Jesus as ‘n tweede God-op-aarde, aldus die kleed wat die kerk Hom aangetrek het’ is die slotsom van Kuitert. ‘‘n Skitterende stralekrans rondom hierdie besondere mens heen gedrapeer, maar niks meer as dit nie. Die idee van ‘n God-mens is nie alleen nie by Jesus self terug te vind nie, maar staan ook haaks op die strenge monoteïsme wat Hyself as Jood aangehang het.’ Kuitert het nog alles oor vir ’n ernstige lewe voor die aangesig van God, maar ‘Tot Jezus kun je niet bidden...’
Jesulatrie – die aanhang van ’n Christuslose Jesus; die valse geloof aan niks meer as ’n menslike ikoon, ’n ‘liewe Jesus’ nie. Die mens het ons Here Jesus gestroop van sy Goddelike natuur, van sy salwing as ons Messias en sy eenheid met – en binne – die Triniteit. Dan is die kerk inderdaad die indrukwekkendste klugklub van alle eeue. Dan is christene wat in ‘n Christus as ons Saligmaker glo alleen met heilige bedrogspel besig. Soms tog nog inderdaad ernstige spel, maar nietemin bedrogspel. Dan is dit verstaanbaar waarom die kerke, ook in Suid-Afrika, besig is om teen ’n tempo van duisende per jaar leeg te loop.
Ons Here Jesus is ons enigste Hoëpriester, ons ewige Koning en ons hoogste Profeet. Hy sit aan die regterhand van die almagtige Vader in die hemele. Hy tree gedurig vir sy uitverkorenes by die Vader in. Met sy almag beheer Hy die gang van die geskiedenis. Deur sy Gees en sy Woord regeer Hy sy kerk. Dit bly ’n onveranderlike heerlike werklikheid. Vir die openbaring van God het ons heilige ontsag.
Ons is saam met die ganse skepping in barensnood en sien met reikhalsende verlange uit na sy koms op die wolke, na sy nuutmaking van die skepping deur vuur heen, sy openbaarmaking van die kinders van God en sy veroordeling van die wat Hom misken. Maranata! Kom Here Jesus, kom gou! Halleluja!