'n Tiende uit Dankbaarheid
'n Tiende uit Dankbaarheid
Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie
Deut.14:21b
Op heelparty plekke in die Skrif vind ons aanwysings oor die HERE se wil met betrekking tot die gee van tiendes. Twee van die duidelikste aanwysings staan in Deuteronomium 14 en 26 opgeteken. Die uitspraak in Deuteronomium 14 begin met ’n vreemd klinkende verbod: ‘Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie’. Op die oog af het dit niks te doen met die gee van tiendes nie. As ’n mens egter agterkom waaroor die kook van ’n bokkie in sy ma se melk gaan, blyk dit dat dit alles met die gee van tiendes te doen het.
Heidense Ritueel⤒🔗
Vir die heidense boere in Kanaän was dit ’n belangrike ritueel om een maal per jaar, in die herfs, ’n boklam te slag en dan te kook in die melk van sy ma. Dit was vir hulle ’n godsdienstige handeling. As die groeiseisoen verby is, so het hulle geglo, sterf Baäl, die god van vrugbaarheid. Gedurende die winter is Baäl dood – daarom dat daar geen groeikrag in die natuur is nie. Om seker te maak dat Baäl aan die begin van die nuwe seisoen weer tot lewe kom, moet daar ’n boklammetjie geslag word. Die boklammetjie is ’n simbool vir nuwe lewe. Dié lammetjie moet dan gekook word in die melk waarvan hy self gedrink het: sy ma se melk – nóg ’n simbool van lewenskrag. As die lammetjie klaar gekook is, moet die melk oor die land uitgegooi word. Daarna sal Baäl weer tot lewe kom wanneer die nuwe lente aanbreek. So glo die Kanaäniete. As dit nie gedoen word nie, kan die nuwe seisoen nie aanbreek nie. Op die stuk grond wat nie met gekookte melk besprinkel is nie, rus ’n vloek. Daar sal geen oes wees nie.
Toe die volk Israel, die HERE se eiendomsvolk, in die beloofde land Kanaän intrek, was hierdie ritueel normale praktyk. Hulle het met hulle eie oë gesien hoe die oorgeblewe heidense boere die boklam slag en kook en dan die melk oor die land uitgooi. Hulle het gou te hore gekom wat die rede vir hierdie vreemde handeling is. Dié dinge het ’n groot indruk gemaak. Daarom die streng verbod van die HERE: julle, Godvresende boere, julle mag die heidense ritueel van die Kanaäniete nie oorneem nie. Julle mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.
Godgegewe Wet←⤒🔗
Om die verbondsvolk Israel te help om onvoorwaardelik op die HERE te vertrou, gee die HERE vir hulle ’n ander wet om te onderhou: Jy moet noukeurig ’n tiende van die hele opbrings van jou saad wat jaar vir jaar uit die land uitspruit, afsonder. Daardie tiende moet jy voor die aangesig van die HERE bring op die plek wat Hy uitkies om te woon. Die doel daarvan word by name genoem aan die slot van vers 23: ‘dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees’. Teenoor afgodsvrees ware Godsvrees – dit is die primêre doel van die gee van die tiende. Teenoor ’n bange gevoel dat die nuwe seisoen dalk ’n rampspoedige mislukking kan word, ’n kinderlike vertroue dat God die Vader die ganse skepping in sy hand vashou. Teenoor ’n heidense, magiese ritueel om ’n boklam in sy ma se melk te kook, ’n geloofsdaad – gee die eerste van jou opbrings aan die HERE terug.
Dat die gee van die tiende uit en uit ’n geloofsdaad moet wees, blyk nog duideliker uit die bepaling van Deuteronomium 26. Israel moet glo dat die land waarin hulle woon ’n erfenis van die HERE is. Die boer besit grond en lewer sy insette, dit is volkome waar. Hy ploeg en plant en maak nat. Maar die HERE laat groei. Dit mag die Israelitiese boer nooit vergeet nie. As hy aan die einde van die seisoen sy tiende na die tempel bring, moet hy ’n dubbele verklaring aflê. Hy moet in die eerste plek verklaar dat die grond waarop hy boer nie syne is nie; dit is die HERE s’n. In die tweede plek moet hy verklaar dat die oes wat hy ingesamel het ook nie syne is nie; dit is eweneens die HERE s’n. Deur die eerste tiende van die oes aan die HERE terug te gee, erken hy openlik dat sy grond en die hele oes aan die HERE behoort. En dan, ná sy dubbele verklaring, moet die boer voor die aangesig van die HERE neerbuig. Dan moet hy die HERE vra vir seën vir die nuwe seisoen.
Duidelike Boodskap←⤒🔗
Die boodskap van die tiende is duidelik. Op ’n tasbare manier word die HERE erken en gedank vir dit wat verby is. Bowendien word daar vertroue in die HERE uitgespreek: onvoorwaardelike vertroue met die oog op alles wat in die komende seisoen voorlê. Israel moet die HERE erken, dank, vertrou.
Hoe dikwels het die volk dit egter nie vergeet nie? Die profete konfronteer die volk omdat hulle hul tiendes verontagsaam. Hulle beroof die HERE deur swak diere te offer, of nie die volle tiende te bring nie. Die erns hiervan is dat hulle die HERE nie na behore erken en eer nie. Hulle dank Hom nie vir sy genade nie. Hulle vertrou Hom nie volkome nie. Dan kla hulle ook nog dat dit met hulle swaar gaan!
Dit is opmerklik dat ons in die Nuwe Testament slegs sporadies van die gee van tiendes lees. Die Here Jesus verwys daarna as Hy in ’n gelykenis vertel van die Fariseër wat spog omdat hy sy tiendes so getrou gee (Lukas 18:12). Die Here Jesus vermaan die geveinsde skrifgeleerdes en Fariseërs wat tiendes gee van kruisement en anys en koljander, maar intussen laat hulle ná om reg en barmhartigheid en trou uit te leef (Matteus 23:23). Beide kere is die verwysing negatief. Nie dat die Here Jesus daarmee die gee van tiendes afkeur nie. Inteendeel, die volk moet steeds uit hulle middele vir die HERE offer. Daarvan lees ons by herhaling in die Nuwe Testament.
Vervulde Tiende←⤒🔗
Die Here Jesus wys ook op die doel van daardie offer. Hy leer ons hoe alles van die Ou Testament in Hom vervul word. Ook die boodskap van die gee van tiendes.
Erkenning, dank, vertroue – dit word aksies wat in Christus se soenoffer ’n voller betekenis kry as wat dit ooit in die Ou Testament gehad het. Waar sien ons duideliker dat die aardbodem van die mag van die dood verlos is as in die kruisdood van ons Here Jesus Christus? Aan Wie is alle mag in die hemel en op die aarde gegee? Wie beheer die temperatuur van die oseane, die sirkulasie van lugstrome en die uitstort van reënbuie? Wie sorg dat alles vir God se kinders ten goede moet dien? Wie anders as die Seun van God deur Wie die Vader oor alle dinge regeer? Ons Verlosser is ons Koning – ook ons Koning in die skepping, die Beheerser van die natuurelemente, die Here oor die verloop van gebeure.
Ons weet hierdie dinge. Ons bely dit elke Sondag. Maar ons nood is dat ons dit so maklik vergeet, of dat dit ’n soort onwerklike belydenis word. Dit wat ons Sondag bely en dit wat ons Maandag tot Saterdag beleef kom nie altyd by mekaar uit nie. Die Maandag-tot-Saterdag-werklikheid is dat die boer met sy vinger in die grond krap om te kyk wat van sy geplante mieliepit word. ’n Ander werklikheid is dat hy met sy oog op die weerkaart kyk om vas te stel wanneer die volgende reënbui uitsak. Hierdie werklikhede word deur alle boere beleef – gelowig sowel as ongelowig.
Wat doen die ongelowige boer? Hy praat oor ’n droogte aanslag wat die mensdom bedreig. Agter daardie boer staan die besigheidsman wat gis oor hewige skommelings op die wêreldmarkte wat hierdeur veroorsaak kan word. Saam doen hulle hul beplanning. Die aanslag moet met mag en mening teengestaan word. Daar moet solank gekyk word na rampfondse, alternatiewe hulpbronne en risiko-faktore.
Is al hierdie beplanning verkeerd? Verseker nie. Dit word verkeerd as dit nie uit erkenning en dankbaarheid en vertroue in Jesus Christus die Seun van God gedoen word nie. Op hierdie elementêre punt loop die lyne radikaal uit mekaar. In geloof, onder voorbidding moet ons beplan aan die hand van gegewens tot ons beskikking. Sodanige beplanning rus in Christus wat sy lewe vir ons en ons grond en ons mielie-oes en ons studies en ons ganse voortbestaan afgelê het. Die boodskap van die Ou Testamentiese tiende klink in Christus onveranderd op: word nie soos die moderne heiden wat angsvallig probeer walgooi teen die nukke van ’n stomme noodlotsgod se aanslae uit die buitenste ruimtes nie. Vertrou God volkome in al jou weë – heel konkreet deur jou eerste tiende van jou inkomste vir Hom te gee. Ploeg en plant van dááruit, studeer en werk, ontwikkel en bou op, in die wete dat God wat alles beheer sy seën nie van sy kinders weerhou nie.