God se Skepping - Ons Omgewing
God se Skepping - Ons Omgewing
⤒🔗
Die Ryk Braamplukker←⤒🔗
Godfried Bomans het die sprokie geskryf van ”Die ryk braamplukker”. Hierdie man het in die bos gewoon. En hy het ryk gevoel: elke oggend was die gras vol pêrels, het hy geniet van die blou plafon met bewegende mosaïek, hy het tussen pragtige suilgange gewoon; die mooiste vir hom was die solosanger wat vir ongelooflike optredes gesorg het.
Toe hy dit ’n slag aan ’n ontdekkingsreisiger vertel, gaan laasgenoemde reguit na die stad. Hy vertel wat die braamplukker aan hom gesê het en al die mense kom toe saam om in die rykdom te deel. Die braamplukker was bly toe die mense in die bos aankom, nou was daar meer mense om al die mooi dinge te geniet.
Die volgende oggend was die ontrafeling; die pêrels was die doudruppels, die blou met bewegende mosaïek was die hemel met al die wolke wat verby gly, die suilgange was die bome in die bos, die majestueuse sanger was, in die woorde van die mense van die stad, “’n eenvoudige nagtegaal”. “Ons is bedrieg!” het hulle geroep en hulle het die ryk braamplukker opgehang.
Die braamplukker was nie verkeerd nie; dit was maar net dat die mense uit die stad nie kon sien hoe mooi al hierdie dinge was nie. Die braamplukker kon die skoonheid raaksien, hy kon daarvan geniet.
Oop Oë←⤒🔗
So is dit in God se skepping: jy moet dit raaksien, oog daarvoor hê. Met oop oë rondkyk in God se skepping. Dan sien jy die Maker.
Al eeue voordat die groen golf van natuurbeheer en omgewingsversorging oor Wes-Europa geslaan het, was daar ’n dominee wat die mense se aandag daarop gevestig het: Guido de Brès. Die opsteller van die Nederlandse Geloofsbelydenis het die volgende (vry vertaal) in artikel 2 gesê: Wie sy oë in die skepping, in die natuur, goed oophou, sien ’n kunswerk. Want alle skepsele wat jy dan waarneem, is soos die letters van ’n pragtige boek.
Toe De Brès die skepping met ’n boek vergelyk het, het hy nie aan ’n sakboekie gedink nie, ons moet eerder dink aan pragtige Statenbybels, boekwerke wat met sorg saamgestel is.
Die Skrifbewyse onderaan Art 2 van die NGB is op hierdie punt baie beperk. Daar word slegs na Psalm 19:2-5 verwys: die skepping sê (vertel, verkondig) alles oor die Skepper.
Daar is meer Bybelgedeeltes wat hiervoor van betekenis is. Hebreërs 11:3 noem die skepping en wys daarmee terug na Genesis 1. Vanselfsprekend, want Genesis 1 vertel van die druk van die “boek van die natuur”. Dit was baie goed.
Dat die skepping wys op die Skepper, vind ons ook in sogenaamde natuurpsalms; Psalm 8, 104, 147, 148. Ook die laaste hoofstukke van Job (38-41) lê so ’n duidelike verbintenis tussen die Skepper en die skepping, dat elkeen wat met kennis van die Bybel die natuur bekyk, die hand van die Maker sien.
Die voorwaarde moet wel bykom: kennis van die Bybel is nodig om die Skepper te ken. Calvyn het hieroor pragtige dinge gesê, wat tot vandag bekendheid geniet. Hy het die Bybel die bril genoem. As jy die bril dra, is jy in staat om die boek van die natuur te lees. Sonder kennis van die Bybel sien jy slegs dat daar iets staan. Maar wat daar staan, is slegs te sien as jy die bril – die Bybel – opsit. Die taal van die boek van die natuur kan die mens nie verstaan as hy die boek sonder bril lees nie. Wie slegs met ’n verkyker die natuur ingaan, sien ondanks die hulpmiddel, nie wat die gelowige deur die bril van God se Woord wel opmerk nie: die Skepper.
(Vir bespreking)
Ons lees oor God se sorg in die verslag van die skepping in Genesis 1, en van Sy liefde sodat die skepping bly bestaan (Gen. 8-9, Ps. 147). Art. 2 NGB sê: “...’n pragtige boek waarin die skepsele die letters is”. Is die uitsterf van plant- en diersoorte dan ’n sonde? Of is dit te swaar gestel? Wat dink u van die stelling: Gereformeerdes het wel voldoende oog gehad vir “die boek van die Skriftuur (die Bybel)”, maar te min vir “die boek van die natuur”?
←⤒🔗
Voorskrifte in die Bybel←⤒🔗
God se liefde vir Sy skepping blyk uit die Bybelgedeeltes wat hierbo genoem is. Dit blyk ook uit die gedeeltes wat, om dit dan so te sê, baie direk is. Die Here gebied die mense om op ’n bepaalde manier om te gaan met wat Hy gemaak het. Hieronder volg ’n paar gedeeltes uit die Bybel waar uit dit na vore kom. So byvoorbeeld:
-
Barmhartigheidsbepalings vir diere in die natuur (Deut. 22:6, 7).
-
Barmhartigheidsbepalings vir landboudiere (Deut. 22:10, 25:4). Dink ook aan die vee wat in die sabbatsgebod genoem word.
-
Bepalings wat matigheid wil leer in die gebruik van wat in die skepping beskikbaar is (Lev. 25:1-22, Deut. 20:19-20).
Wie God in Sy sorg vir die skepping ken (Luk. 12:6, Ps. 147:9), sal op hierdie aarde “beeld van God” wil wees. Veelseggend is hierin ook die bekende teks in Spreuke 12:10: “Die regverdige ken die natuur van sy dier”.
Ons vind hierdie voorskrifte in die Ou Testament. Ons sê dat ons hierdie bepalings nie meer moet handhaaf nie, omdat Christus gekom het (sien artikel 25 van die Nederlandse Geloofsbelydenis). Maar dieselfde artikel 25 sê dat ons die bepalings nog as aanwysings kan gebruik om ons lewe in te rig.
Die bedoeling van God is duidelik. Die lewe in die skepping (plante en diere) mag gebruik word, maar dit mag nie uitgeroei en uitgeput word deur die mens nie. Die les wat ons hier vir die inrigting van ons lewe leer, is beheersing. Geen uitputting, geen verbruik ten koste van natuur en omgewing nie. En diere het die reg om deur die beeld van God so behandel te word, dat hulle “agterkom” hulle het te doen met die onderkoning van die Skepper.
Die Skepper en die Skepsele←⤒🔗
Liefde, waardering, respek, sorgvuldigheid. Dit is woorde waarmee die houding wat die mens teenoor die skepping moet inneem, gekenmerk kan word. Daarin vertoon die mens die beeld van sy God. So behoort die mens om te gaan met die skepsels. Terselfdertyd hou dit in dat hy daarmee mag omgaan. Ons wil nou laasgenoemde beklemtoon.
Die groen golf van natuur- en omgewingsbeheer het ook baie invloed op die religieuse denke. In die New Age kringe kom ’n mens ’n vergoddeliking van die natuur teë. Maar ook binne die Christendom is daar denkrigtings wat die natuur vergoddelik. Die onderskeid tussen Skepper en skepsel verdwyn dan, en die enigste wet wat oorbly is: hou jou hande af van die goddelike natuur. ’n Mens sou kon praat van ‘n “groen teologie”. Dit is, kort gesê, ’n vorm van afgodediens. Die natuur is nie God nie en moet nie vereer word nie. Ons eer God, die Skepper, in ons bewondering vir die natuur. Die natuur, God se pragtige skepping, prys God.
Hier kan weer verwys word na Psalms 8 en 147. Daar lees ons dat God nie deel word van die skepping nie, Hy staan daarbo. Hy hoor die roep van die jong rawe (Ps. 147:9). Die kaal (en daardeur lelike) kuikens bly nie in lewe omdat hul ouers voedsel soek nie, maar omdat die Here na hulle luister. In hul roep “bely” hulle hul afhanklikheid van ... God. So eer hulle Hom. In hierdie versorging sien jy dat God nie deel is van die natuur nie, maar daarbo staan. Die skepping is dus daar tot Sy eer.
’n Paar Bybelgedeeltes hieroor:
In Psalm 148 kry verskeie skepsele die opdrag om die Here te loof. Jesaja 40:26: Alleen al deur haar bestaan, eer die skepping haar Maker. Kolossense 1:16: “alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape”.
Ons sal apart aandag moet gee aan die mens. Die mens loop op hierdie aarde rond met die duidelike opdrag om God te eer. As wese met ’n verstand, in staat om God te ken, het die mens soveel meer die opdrag as die ander skepsele. Maar hoe is die mens se plek dan in die skepping? Watter houding moet hy teenoor die natuur inneem om sowel die natuur as homself te laat bestaan tot God se eer?
Uit die Bybel blyk dat die mens die skepping mag gebruik. Bogenoemde tekste oor ’n voël met eiers en ’n dorsende os wys dat die eiers geëet mag word en dat ’n os (’n gekastreerde stier!) as landboudier gebruik mag word. Vanaf die allereerste begin mag die mens homself vegetaries voed (Gen.1:29, 2:17, 3:2). Later lees ons ook van die goddelike toestemming om vleis te eet (Gen. 9:2-3). Daaruit blyk dat die natuur nie alleen regstreeks daar tot eer van God is nie. Die mens wat bewus lewe tot God se eer, mag die natuur gebruik. So dra die skepping ook indirek by tot God se eer (vgl. art. 12 NGB).
Wat sê ‘n teks soos Spreuke 16: 4 in hierdie verband?
Beheer←⤒🔗
Uit die tekste genoem in voorafgaande gedeeltes blyk dat die mens verantwoordelik moet omgaan met die skepping. Vanaf die begin was dit sy opdrag (lees Genesis 1:26-28 en 2:19b-20a).
Maar hoe gaan ons nou konkreet om met hierdie opdrag? Hoe gee ons in ons eie lewe gestalte aan die opdrag om verantwoordelik om te gaan met die skepping? Mag jy vir ontspanning visvang? Skepsele van God opoffer? Is ’n woord soos ”plesierjag” in die lig van die Bybel nie ’n bespotlike term nie? (Uitdunning is die noodsaaklike skiet van wild, om watter rede ook al, maar “plesierjag” is die skiet van diere slegs vir die genot van die mens). Aan die ander kant, ’n mens moet ook nie te puriteins wees nie. Die lesers kom wel agter dat hier vir my vrae lê – ek sou sê: kom ons dink saam verder oor hierdie dinge!
Onlangs was daar in ’n tydskrif ’n artikel oor die pragtige balans in die natuur op die Noordpool. Die grond is altyd bevries. In die somer (Junie-Augustus) is slegs die boonste vyf-en-twintig sentimeter ontdooi. Daaronder is die grond permanent gevries. Die water kan nie daardeur wegsak nie. In die stilstaande water ontwikkel miljarde larwes hulle tot insekte. Daardeur broei daar miljoene voëls in die gebied, want hulle kan net hul snawel oopmaak om asem te haal en hul maag is vol. Omdat die son in die somer nie in hierdie gebied ondergaan nie, kan hulle letterlik dag en nag eet. Wat ’n ramp as die klimaat warmer word en die gevriesde ondergrond ontdooi. Die water sypel weg, geen insekte, geen voëls. Wit bladsye in die boek van die natuur.
Dit laat iets sien van die verantwoordelikheid van die mens. Ware Christene laat die sorg vir omgewing en natuur nie oor aan die omgewingsfanatici nie. Hulle besef dat daar ‘n verskil is tussen misbruik en gebruik. Die broeikas-effek moet ons wel deeglik besig hou. Is ek verkeerd as ek sê dat ons verantwoordelikheid miskien groter is as wat ons partykeer dink?
Tussen Psalm 8 en Romeine 8←⤒🔗
Psalm 8 vertel ons van die heerlike Naam van die Here in die skepping: die hemel, die maan en die sterre is ’n kunswerk. Daarin het die mens ’n besondere plek: “U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal en ook die diere van die veld”. Hierdie woorde laat ’n mens sommer gou goed voel.
Maar daar is ook ’n ander sy. Dit staan beskryf in Romeine 8. Vers 19 sê dat die skepping wag met reikhalsende verlange, omdat (vers 22) die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is. Dit lyk of die skepping slegs die ritme ken van: geboorte – lewe – sterwe. Dit is “vrugteloos”, soos Paulus sê in Romeine 8. Gevolg van die mens se sondeval. As ’n dier ’n normale lewe van geboorte – lewe – sterwe sou ken, sou daar baie minder vrae op ons afkom as wat nou die geval is. Daar is sulke geweldige probleme in ons samelewing as ons kyk na die mens en sy omgang met God se skepping. Hier is ’n paar voorbeelde:
-
Uitgestorwe diere en plante kla die mens aan. Die mens dra die skuld vir die wit bladsye in die boek van die natuur.
-
Die dreiging dat nog baie meer soorte sal uitsterf, is nie iets waarby ’n Christen skouerophalend kan verbyloop nie. Laat ons hierby ook dink aan oormatige vissery, viskwotas en die diskussies daaroor.
-
Allerlei dieresiektes dwing ons om onsself af te vra of ons nie te ver aanspraak gemaak het op die diereryk nie. Maar nog meer, dit laat die verskrikking van die sondeval sien. Dit demonstreer iets van die vrugteloosheid, die versugting en die barensnood.
Die mens het die natuur saamgesleep in sy val. Deur die sonde van die mens het daar tallose diere in die sondvloed verdrink – die eerste keer dat ons iets merk van die probleme wat die mens deur sy sondeval aan die skepping besorg. Ons staan eeue daarvan af – die mens het intussen veel meer moontlikhede - maar die probleme wat dikwels by genetiese manipulasie (= die verandering van erflike eienskappe) voorkom, het in wese dieselfde basis: die mens is God se onderkoning wat hier namens sy Meester moet beheer (Ps. 8), maar wat nie daartoe in staat is nie (Rom. 8). Dit is nie maar net die verbruikersmentaliteit of die wetenskapsdrang wat die mens probleme in die omgang met die diereryk besorg nie. In al hierdie sake sal ons ook as Christene belydenis van ons sondes moet doen.
Gelukkig is dit nie die laaste wat ons moet sê nie. Paulus sê in die gedeelte van Romeine 8 ook dat die skepping met reikhalsende verlange wag op die bevryding van die verganklikheid. Die skepping sal bevry word. Volgens Karl Barth moes hierdie teks in vlammende skrif bo elke slagpaal, jaghut en laboratorium aangebring word. Die bedoeling is duidelik: ook die diereryk moet verlos word. Dit sal ook gebeur. Die natuur merk die gebrokenheid waarin ons leef. Omgewingsprobleme en bedreigde natuur het gekom mét die sondeval van die mens.
Dit beteken nie dat ons passief moet word en niks moet onderneem nie – inteendeel! ’n Christen ken ook hier sy opdragte. Dit is goed om hier die sondeval ter sprake te bring, omdat dit dan des te duideliker is dat die werk van Jesus Christus vir die hele skepping van betekenis is. Hy verlos ook die diere- en planteryk van die verdriet en die verganklikheid.
Wat het Jesaja 11:1-10 met natuurbeheer en omgewingsprobleme te doen?
Vir Bespreking←⤒🔗
-
Wat is die betekenis van die verbond met Noag (Gen. 9:8-17) vir ons denke oor natuur en omgewing?
-
In die skepping sien ons God. Sien ons dit net so helder as De Brès (art. 2 NGB); probeer iets uit die natuur noem waardeur ons God sien en/of beter leer ken.
-
Is daar vir Christene die opdrag om by te dra tot natuur- en omgewingsorganisasies?
-
Is daar voldoende besef van die Skriftuurlike opdrag tot natuur- en omgewingsbeheer?
-
Is daar voldoende aandag aan die natuur in die prediking? Het u al ’n slag ‘n “groen” preek gehoor?