Wat is kerkreg?
Wat is kerkreg?
Onderstaande artikel neem ek oor via die blad Nader Bekeken (April 2003) uit De Wekker (21 Maart 2003). Dit is van die hand van prof. W. Van’t Spijker, emeritus hoogleraar in Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Teologiese Universiteit van die Christelijk Gereformeerde Kerken in Nederland. Dit handel oor sommige wesenlike aspekte rakende die Kerkreg. Ek plaas die artikel met die besef dat die kerkreg so maklik verwronge kan raak en ongelukkig ook verword het in ‘n kerkverband soos byvoorbeeld die NG Kerk. Daar het die kerkreg deels verander in ‘n bestuursreglement vir ‘n sosiale organisasie. Weerstand teen kerkreg is dan noodsaaklik, maar dan nie weerstand teen kerkreg as sulks nie, maar teen die verwronge kerkreg wat verander het van die reg van Christus in sy kerk tot die bestuursgereedskap van ‘n kerklike hiërargie. Kerklike reformasie is vir ‘n groot deel die roeping om te besin oor die belang van die Koningskap van Christus in die kerk en om ons aan Sy gesag alleen gewillig te wil onderwerp in die lewe van die gemeente. Ons bely immers in NGB Artikel 27 dat Christus tog die Koning is wat nooit sonder onderdane kan en sal wees nie. Van’t Spijker skryf soos volg :
Koningskap van Christus⤒🔗
Dit sal nie skade doen om ‘n paar begrippe langs mekaar te plaas wat almal te doen het met die reg van die kerk nie. Met hierdie laaste uitdrukking, die kerkreg, dink ons aan die manier waarop Christus die kerk regeer. Hy is die Koning wat alle mag het in die hemel en op die aarde. Dit is ‘n geloofsuitspraak wat ons alte maklik vergeet. Hierdie allesomvattende koningskap van Christus is egter van ‘n ander aard, van ‘n ander gehalte, as sy koningskap oor die gemeente. Christus oefen sy regte as Koning binne die kerk uit deur middel van die Woord. As ‘n mens dit vergeet, kan jy nooit ‘n goeie idee kry van wat kerkreg en kerkorde se betekenis is nie. Dan sal ‘n mens hoogstens die opvatting huldig dat die kerkreg ‘n kwessie is vir fanatici, wat met ‘n skerp potloodjie in die hand kerklike bepalings probeer opstel en verklaar. Droë stof, geskik vir mense met gesigte van perkament. Hulle snuffel dan ook graag in perkament geskrifte, asem liefs die stof van bedompige argiewe in en staan hulle oë en knip in die sonlig as hulle weer buite kom. Watter idee het die gewone / gemiddelde gemeente van die kerkreg? Dis ‘n gekleurde boekie waarin dinge staan oor wat nie gesing mag word nie [Prof Van’t Spijker het dit hier oor die voorkoms van die uitgawe van die Kerkorde met bepalings van die sinode soos gepubliseer deur die Christelijk Gereformeerde Kerken in Nederland – E.V.]. Lidmate trek hulle skouers op en is van mening dat die kerkreg en kerkorde niks met die evangelie te make het nie.
20 Desember 1520: kerkreg verbrand←⤒🔗
Inderdaad het Luther, toe hy die evangelie ontdek het, onder gejuig van sy studente die hele kanonieke reg saam met die pouslike banbul in die vuur gegooi. Dit het inderdaad ‘n dik, duistere orakelboek geword, waarin baie innerlike teenstrydighede voorgekom het waaruit net spesialiste iets wys kon word. Luther het gesê: Weg daarmee! Ons kies vir die evangelie. Maar in later jare het hy agtergekom dat ‘n kerk tog wel regeer moet word. Toe het hy aan die owerheid, die wêreldlike owerheid, ‘n taak toegeken in sy visie op die kerkreg. Die vors of die magistraat het as ‘n soort noodbiskop opgetree. En daardeur het ‘n kerklike stelsel tot stand gekom waarvan die gereformeerdes gesê het: só moet dit nie wees nie. In teorie het die Lutherane en die gereformeerdes se visie op die verhouding tussen kerk en staat dalk nie soveel verskil nie. Maar in die praktyk was daar wel ‘n wesenlike verskil. Die volgelinge van Calvyn het gekies vir ‘n vorm van moontlike verset teen die owerheid. Hulle het nie geaarsel om hierdie reg van verset aan hulself toe te ken nie. Nie omdat hulle rewolusionêr was nie, maar omdat hulle agter hierdie reg niks anders gesien het nie as die reg van Christus. En daar moet toegegee word dat hierdie gereformeerde opvatting oor die kerk en haar reg, teen die agtergrond van die koningskap van Christus, ook ‘n middel was waardeur sy in die gevaarlike tyd van vervolging en verdrukking kon oorleef. Sy kon deur die tagtigjarige oorlog kom, omdat daar ‘n gereformeerde kerkorde was. Dit lyk na oordrewe taal. Miskien moet dit minder sterk gestel word. Maar die gereformeerde denke omtrent die kerk, haar belydenis van Christus alleen en niemand anders nie, dit was die krag waardeur die kerke staande gebly het. Die kerklike struktuur, die kerklike “sisteem”, die “Verfassung”, het aan haar ‘n middel gegee om die hoof omhoog te hou terwyl die owerheid verdrukking gepreek het. Hierdie werklikheid het voortgevloei uit die ander geloofswerklikheid, naamlik dat Christus alleen die Hoof is van sy gemeente.
Onder druk gebore←⤒🔗
Dit is opvallend dat die gereformeerde kerklike struktuur haar dinamiese krag juis kon bewys in dié lande waar die vervolging die ergste was: Frankryk, die Suidelike en die Noordelike Nederlande, Skotland lewer vir ons bewys daarvan. In 1559 is in Frankryk die grondslag gelê vir, soos ons dit nog steeds noem, die presbiteriaal-sinodale stelsel. Parys was ‘n plek van heftige geweld teen die Protestante. In 1568 het die oorlog teen Spanje uitgebreek. In dieselfde jaar is in Wesel ‘n fundamentele besluit geneem omtrent die toekomstige struktuur van die kerke in die Lae Lande. Die Konvent wat daar byeengekom het, het gekies vir ‘n opset wat via verskeie sinodes uitgeloop het op die Dordtse kerkorde, vasgestel gedurende die twaalfjarige wapenstilstand in die stryd teen Spanje. Dit alles was goeie gereformeerde denke. Die bedoeling daarvan was niks anders nie as dat die kerke in vryheid die evangelie sou kon verkondig. Ons kan nie ontken nie dat Dordt die Arminianisme slegs kon oorwin deur op die punt van die verhouding met die owerheid toegeeflik te wees. Die Afskeiding van 1834 kon pas die ou ideaal herstel. Daar het ‘n vrye kerk tot stand gekom, wat sonder direkte band aan die owerheid die evangelie wou gehoorsaam. Ook hierdie keer het dit onder druk en vervolging tot stand gekom.
Verouderde begrippe?←⤒🔗
Menigeen sal dink: wat doen ons nog vandag met hierdie opvattings en sienswyses uit die sestiende eeu? Is hulle nie totaal en al verouderd nie? Vanuit ‘n historiese oogpunt mag dit dalk interessant wees, maar die praktyk van vandag vra iets anders. Die invloede van charismatiese, evangeliese stromings het inderdaad afbreuk gedoen aan die betekenis van die gereformeerde denke oor die kerk. Volgens teenswoordige menings het selfs die moderne media ‘n geweldige impak op die kerk. Die elektroniese kerk, van oorsee sowel as van binne ons eie grense, neem kerklike funksies oor wat volgens ons mening vêr buite hul opdrag val en wat ook met hul vae, permanente en latente kritiek ‘n prinsipiële denke oor die kerk ondermyn.
Gesien binne hierdie geheel, is die sestiende-eeuse opvatting en die kerklike vormgewing daarvan in ‘n presbiteriaal-sinodale struktuur, naamlik dat Christus Koning is en dat Hy sy regering uitoefen in die midde van sy gemeente deur prediking en ampsbediening, nog wel toepaslik? Dit is alles gerelativeerd. Daar word nie nou vêrder uitgebrei op die oorsake daarvan nie. Die Reformasie, met name die verwesenliking daarvan binne die gereformeerde tradisie, het geleef uit hierdie belydenis van Christus se Koningskap. Die Nadere Reformasie het dieselfde belydenis as uitgangspunt gekies. Ook ons kan die regte insig omtrent die struktuur van die kerk verkry as ons hierdie selfde belydenis oorneem en aktueel probeer maak vir ons eie tyd.