2 Tessalonisense 2:13-14 - Uitverkies!
2 Tessalonisense 2:13-14 - Uitverkies!
Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid, waartoe Hy julle geroep het deur ons evangelie om die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry.
2 Thessalonisense 2:13-14
Voordat ons Here Jesus Christus weer kom met die wolke van die hemel moet die antichrist sy verskyning maak. Die voorkoms van die antichris word noukeurig in die eerste twaalf verse van 2 Thessalonisense 2 beskryf. Hy is die seun van die verderf. Hy is die teenstander van God, wat in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is. Sy aanslag op die mensdom is groot. Hy plaas vraagtekens oor alles wat vas is. Hy verdraai die Woord van God. Onder die vaandel van waarheid en geregtigheid en billikheid wil hy sy sin kry. Hy laat mense doelbewus dwaal, weg van God af.
Oor sy verskyning word daar in vers 6 gesê dat daar iets is wat hom teëhou. Daardie "iets" is die evangelie van Jesus Christus. Solank as wat daar nog geluister word na God se Woord, kan die antichrist nie sy mag ten volle ontplooi nie. Daar kom egter 'n tyd wat die Skrif heeltemal eenkant geskuif word in die samelewing. Die verkondiging van die evangelie word teëgestaan. God gaan dit toelaat. Wat meer is: God gaan die krag van dwaling stuur sodat diegene wat nie waarlik glo nie, skuld sal beken. Die eindtyd voor Christus se wederkoms word 'n tyd van skeiding. Dit sal duidelik word wie God waarlik liefhet en wie nie. Deur beproewing kom daar loutering.
Nou ontstaan die vraag: sal die ware gelowiges staande kan bly te midde van soveel swaarkry? Word die aanslag nie so subtiel en so gemeen dat ons almal dreig om daarvoor te swig nie? Dit is maklik om selfversekerd te sê: ons het ons beginsels, ons weet waarvoor ons staan. In wese is dit bitter gevaarlik om so te praat. Want wie meen dat hy sterk is, word vinnig-vinnig 'n prooi van sy eie swakhede. Die vraag bly staan: oor watter energie beskik die volk van God om die energie van dwaling te weerstaan?
Verse 13 tot 17 van 2 Thessalonisense 2 lig die sluier oor dié saak. In hierdie Skrifoordenking val die kollig op verse 13 en 14. Die kerk van Christus vind haar onblusbare krag, haar allesoorwinnende energie in haar Goddelike uitverkiesing.
Vanaf vers 13 is daar 'n duidelike verandering te bemerk in die manier waarop Paulus met die gemeente van Thessalonika praat. Die eerste twee verse was een en al 'n dringende waarskuwing. Oppas broeders, moenie met die oog op Christus se wederkoms julle verstand verloor nie. Moenie verskrik raak oor alles wat die mense om julle te vertelle het nie. Laat julle nie beïnvloed deur sensasionele verhale van die mensdom nie.
As Paulus klaar gewaarsku het, verduidelik hy in die volgende 10 verse, vanaf vers 3-12, waarom hy so indringend met die gemeente praat. Dit is naamlik die eeue-oue taktiek van Satan om God se gelowige kinders deur middel van verwarring in vertwyfeling te bring. Hy stel listige vrae. Langs dié weg ontstel hy die gelowige in so 'n mate dat 'n mens kan begin twyfel aan dinge wat vir jou altyd onwrikbaar vas gestaan het. Vir die gemeente in Thessalonika word die waarskuwing met die oog op die wederkoms konkreet: moenie in Satan se slagyster trap nie, te meer noudat julle presies weet hoe die strik gestel word.
En dan volg die eerste woorde van vers 13. Ons hoor hoe Paulus begin bid nadat hy hard en indringend met die gemeente gepraat het. Hy sê: "Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word!" 'n Sterk teenstelling word hier gemaak: maar! Wat is die teenstelling? Wat motiveer die apostel om skielik van 'n waarskuwing oor te slaan na danksegging? Die antwoord op hierdie vrae vind ons in die vervolg van vers 13 en in vers 14. Paulus sê uitdruklik waarvoor hy God dank. "Ons dank God dat Hy julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid, waartoe Hy julle geroep het deur ons evangelie om die heerlikheid van ons; Here Jesus Christus te verkry". In een sin word 'n besonder ryk en troosryke dankgebed weergegee.
Die kernsaak waarvoor Paulus die Here dank, is die uitverkiesing. Paulus weet dat die Here die broeders (en ook die susters) in die gemeente van Thessalonika uitverkies het. Nee, Paulus is nie nou besig om 'n aanname te maak of 'n wens uit te spreek nie. Hy dank God vir iets wat werklik bestaan. Op grond van die Thessalonisense se geloof in die waarheid en op grond van die God-gerigte lewe wat hulle uit die krag van die Heilige Gees lei, kan Paulus met sekerheid sê dat hulle tot die ewige lewe uitverkies is: Want dit is immers hoe die uitverkiesing van God werk! Die gelowige het geen onduidelikheid daaroor nie. Ons hoef nie te wonder: is ons uitverkies of is ons nie? Inteendeel: die uitverkiesing staan vas in ons lewe.
In sy brief aan die Efesiërs, hoofstuk 1, het Paulus die hele saak rondom die uitverkiesing ook al breedvoerig uiteengesit. Nou doen hy dit weer. Voor die grondlegging van die wêreld, voordat God geskep het, het Hy in sy onbegryplike welbehae besluit wie Hy uitkies en wie Hy verwerp. Vir die mense wat Hy uitkies, gee Hy die gawe van geloof. Deur die verkondiging van die evangelie roep Hy die uitverkorenes na Hom toe en werk Hy die geloof in hulle harte. Hoe meer sy kinders die evangelie hoor en bestudeer, hoe verder groei hulle in geloof. Hoe verder hulle in geloof groei, hoe meer leef hulle 'n heilige lewe tot eer van God. Hoe meer hulle heilig tot eer van God leef, hoe intenser word hulle daarvan oortuig dat hulle die ewige lewe in Christus het. Geloof en heiligmaking is duidelik sigbare vrugte van die uitverkiesing. So bely ons dit ook op grond van die Skrif in die Dordtse Leerreëls (1, 16).
Hierdie Skrifgegewe is besonder troosvol en versterkend. Uitverkiesing is geen tergende vraagstuk wat soos 'n swaard bo ons koppe hang nie. Inteendeel, uitverkiesing is die fondament van waaruit ons, ons geloof beleef. En daardie vaste fondament gee ons krag teen die aanslag van die antichrist. Die antichris poog in die eindtyd om ons van alle sekerheid te ontneem. Die antichris maak alles relatief. Hy laat 'n mens twyfel aan die korrektheid van die Bybel. Hy stel die enige ware God gelyk aan met die nietige afgode. Hy versoek jou daartoe om 'n kompromie aan te gaan met die leuen, om net 'n bietjie toe te gee. Die gelowige word die hele tyd op dieselfde swak plekkies versoek: is jy seker van dit wat jy glo? Is jy seker jy glo reg? Voldoen jy aan bepaalde kenmerke? Is jy nie eensydig met jou geloof nie? Moet 'n mens nie vanuit 'n breër perspektief na die werklikheid kyk nie? Kan die miljoene aanbidders van ander gode almal verkeerd wees?
Vrae, vrae, vrae. Die antwoord is enkelvoudig en boonop eenvoudig: ons dank God dat ons uitverkies is! Ons laat ons nie ondermyn nie, want ons weet wat ons in God het. Wat die antichris ons ook al probeer wysmaak: die Here het ons lief. God het ons eerste liefgehad, en Hy gee ons die geloof om Hom te dien, om Hom lief te hê. Ons word geroep om te deel in die heerlikheid van Jesus Christus — dit staan onwrikbaar vas.
In ons stryd teen die antichris word ons teruggedwing na die groot dade van God. Daarvoor moet ons Hom dank. Dank God dat Hy ons tot sy kinders uitgekies het. Dank Hom dat Hy ons voortdurend deur die verkondiging van die Woord roep en so die geloof in ons werk. Dank Hom dat ons lewe vas is in sy hande, ondanks alle tergende vrae waarmee die Antichris ons daagliks voorlê. Die fondament is gelê, daaraan kan geen bose mag iets verander nie. Dank Hom welbewus daarvoor — sonder ophou!