Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Die Erediens: Geen Soektog, maar Fees van Gevind-Wees!

soek

Die metodisme is daarvoor bekend dat dit die kerk as ʼn “bekerings-instituut” sien. Al waarde wat die kerk – en die erediens – het, is dat dit die gerieflike plek is waar mense tot bekering gelei kan word. In die metodisme word byna elke preek dan ook, op die een of ander manier, afgestem op die bekering en heilstoeëiening. Vanweë die metodisme se arminiaanse (remonstrantse) inslag, val die klem op die noodsaak van die mens se beslissing.

Die arminiaanse metodis is gedurig daarop ingestel om mense te laat eksamen skryf. Geloof en bekering word gesien as ʼn soort toets wat geslaag moet word om gered te kan word. Die redding is altyd slegs ʼn “moontlikheid”, dit is nie volmaak volbring op Golgota nie. Hierdie “moontlikheid” word ʼn realiteit wanneer die mens sy kant gebring het deur hom/haar te bekeer. Die oorwegende klem val dus op die mens se inisiatief. Nodeloos om te sê hoe die metodisme ook Gereformeerde kerke histories beïnvloed het – soos byvoorbeeld die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Die geskiedenis van hierdie kerkverband dui dit onomstootlik aan.

Maar, wat is die (onbewustelike) invloed van die metodisme op ons praktiese belewenis van die erediens van elke Sondag? Ons praktiese belewenis word gestempel deur ons sig wat ons op die erediens het. Hoe sien ons die erediens? Met watter verwagting gaan ons na die erediens? Neem dit die vorm aan van ʼn soektog? Gaan dit oor iets wat gevind moet word? Gaan dit oor Iemand wat gevind moet word? Word daar gesoek na ʼn bepaalde belewenis? Word daar gesoek na “kontak” met die Here? Is die verskillende elemente van die gereformeerde liturgie bedoel om kontak met die Here te soek?

Wanneer ons die verskillende elemente van die liturgie sien as maniere om die Here te vind, word die gereformeerde erediens ʼn eindelose teleurstelling en vermoeienis. Die liturgie is immers nie bedoel as ʼn manier om kontak met die Here te maak nie. So ʼn uitgangspunt sou die hele Evangelie onderstebo draai. Die vraag is egter of dit nie juis een van die redes is waarom sommige mense so verveeld raak met die gereformeerde erediens nie! Is dit nie waarom daar so gesoek word na ander tipe eredienste wat “kontak bewerkstellig” nie? Dit is nie noodwendig ʼn tipiese “post-moderne” tendens nie. Dit kan ook die gevolg wees van ʼn fundamentele verkeerd-verstaan van die Evangelie self.

 Die Evangelieboodskap laat nie die klem op die soekende mens val nie. Die Evangelie laat val die klem op die God wat die mens reeds gevind het – deur Sy vrye genade – op Golgota. Die Evangelie laat die klem val op die inisiatief wat van God uitgaan. Hy het ʼn verbond opgerig met ons en ons kinders. Wanneer ons – binne hierdie verbond – van die erediens ʼn soektog maak na kontak met God, slaan ons die liturgiese bal totaal mis. In die kader van die verbond, word die erediens nie ʼn soektog nie, maar ʼn blye viering van deur God gevind te mag wees! Dit maak ʼn verskil so groot soos dag teenoor nag! Dit is die verskil tussen rus en onrus, sekerheid en onsekerheid.

Die gereformeerde erediens het eintlik niks met uitgediende “tradisie” te make nie. Die gereformeerde erediens is geskoei op die gestalte van die Evangelie self. Die erediens staan in die kader van God se vrye genadeverbond. Hy het ons op die kruis gered en met Homself versoen. Hy het ons gevind. Hy het kontak met ons bewerkstellig. Hy het Sy Gees op ons en ons kinders uitgestort. Deur die geloof mag ons dit ken en met verbasing ons daaroor verwonder. Ons mag Hom vereer omdat Hy Hom laat vind het. In die erediens hoef niemand sekerheid te soek nie. In die erediens gee die Here die sekerheid. In die erediens mag ons deur die geloof ontdek dat ons gevind is. Elke element van die erediens werk hiertoe mee. Wie die erediens vanuit die korrekte verstaan van die Evangelieboodskap benader, vier fees – die fees van verbaasde verwondering. Nie ʼn soeke om “geraak” te word of om “volgens smaak” bedien te word nie. Sodoende word ons bevry van ons vermoeienis en onrustigheid en kom ons elke Sondag opnuut tot rus in Hom wat ons gevind het – in die erediens!