Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Skat van die Evangelie

Lees 2  Korintiërs  4:1-15  (1983-vertaling)  Teks:  Vers  7

erdekruike

Die tweede Korintiërsbrief is 'n verdedigingsgeskrif. In hierdie brief verdedig die apostel Paulus hom teen kwaadwillige stories wat daar in Korinte oor hom en sy dienswerk as apostel versprei is. Die stories is deur 'n groep dwaalleraars versprei wat Paulus en sy dienswerk by die gemeente onder verdenking wou bring.

Wat die stories alles was, weet ons nie. Ons kan maar net uit Paulus se brief afleidings maak. So kan ons aflei dat hulle hom daarvan beskuldig het dat hy vir eie aansien en eer gewerk het. Hierteen verweer Paulus hom in die brief: Hy werk nie vir eie aansien en vir eie eer nie! Inteendeel, as apostel van die Here weet hy baie goed watter plek sy eie persoon in sy apostoliese dienswerk inneem.

Hierdie verhouding tussen sy eie persoon en sy dienswerk beskryf die apostel Paulus hier in hoofstuk 4 vers 7. Hy beskryf dit op 'n treffende manier, hy gebruik beeldspraak. Hy sê:

Ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.

Die beeld wat hy gebruik, is iets wat die Korintiërs goed geken het: 'n skat in erdekruike. Korinte was immers 'n welvarende handelstad, met baie ryk mense wat groot skatte opgegaar het. Die skatte het hulle, soos destyds maar gedoen is, in kruike gesit. En hiervan maak Paulus ‘n beeldspraak.

Simbool🔗

Hy gebruik die rykes se skatte (silwer, goud en edelstene) as simbool vir 'n ander skat, 'n ander kosbare besitting wat God aan sy diensknegte gee. Wat is die kosbare skat wat God gee? In vers 6 sê hy wat die skat is:

... die kennis van die heerlikheid van God in Jesus Christus!

Dit is dus 'n skat van kennis! Ook in die brief aan die Kolossense noem Paulus 'n skat:

... skatte van wysheid en kennis wat in Christus verborge is.

Hieruit is dit duidelik dat die skat van kennis nie maar algemene kennis is nie. Dit is kennis wat ons in Christus ontvang, kennis van die heerlikheid van God. Ons kan dit so stel: die skat van kennis wat God aan sy diensknegte gee, is 'n bekendmaking van wie God is en wat Hy doen, in besonder wat Hy in Christus gedoen het en nog doen.

Kortom: die skat wat God gee, is die skat van die evangelie van Jesus Christus!

Die Gelowige as Erdekruik🔗

En hierdie skat, sê Paulus, het ons in erdekruike. Die beeldspraak van 'n skat in erdekruike sou by die Korintiërs twee gedagtes wakker gemaak het:

In die eerste plek sou hulle dink aan 'n skat wat vervoer word. Die rykes het hulle skatte in skatkamers (thesauroi) bewaar. Daar in die skatkamer is die skatte dikwels in houers gesit, ook in potte en kruike van alle soorte. Maar veral wanneer hulle die skat vervoer het, wanneer hulle die skat uitgedra het, het hulle van kruike gebruik gemaak. Die kruik was dus bewaarmiddel, maar veral vervoermiddel vir die skat.

Paulus sê dus: Ons het die skat van die evangelie in erdekruike, deur God daarin geplaas om die skat te bewaar en om dit uit te dra.

Die erdekruike, waarin God die skat van die evangelie uitdra, wys op die apostels. Paulus is erdekruik, en die ander apostels, en so ook elke ander dienskneg wat God op sy tyd roep om die evangelie van Jesus Christus te bewaar en uit te dra. Wat hier in hoofstuk 4 vers 7 staan, geld steeds vandag vir elke Woordbedienaar en in die finale instansie vir elke gelowige! Vir God is ons almal — elkeen op besondere wyse — erdekruik vir die bewaring en uitdra van die evangelieskat. As erdekruik van God het ons elkeen die taak om die evangelie te bewaar teen aanvalle, teen verdraaiing, teen misbruik. As erdekruik van God het ons elkeen die taak om die evangelie uit te dra in 'n wêreld wat arm is aan hoop en wat sonder uitsig is.

Die Skat Kosbaarder as die Kruik🔗

Daar is egter ook 'n tweede betekenis. Dit hou verband met die feit dat die kruike erdekruike is. Paulus praat uitdruklik van erdekruike.

Skatte is in verskillende soorte kruike bewaar en gedra. Soms was die kruik self van kosbare materiaal gemaak; van seldsame metaal, van siersteen, soos albaster of van glas. In sulke gevalle was die kruik so kosbaar dat dit self deel van die skat was.

Maar met erdekruike was dit anders. Skatte is ook in erdekruike bewaar en gedra, maar dan was die kruik nie deel van die skat nie. Erdekruike (kleipotte, soos die 1983-vertaling dit noem) het maklik gebreek en was goedkoop, en was daarom alledaagse gebruiksartikels, ook vir die armes.

gebroke kruik

Paulus se argument is dus: die dienskneg wat die skat van die evangelie van Jesus Christus uitdra, is soos 'n erdekruik. Self is hy broos en breekbaar, niks om jou oor te verwonder nie. Maar die skat wat hy dra, is kosbaar. So sien Paulus ook sy eie posisie. Sy teenstanders beweer dat hy eie eer en aansien by die mens soek. Maar vir homself is Paulus 'n erdekruik, met min eiewaarde. Sy enigste waarde lê in die kosbare skat wat hy dra.

Dit geld vir enige evangeliedraer. Die predikant moet nie meer as erdekruik wil wees nie. En die gemeente moet nie meer van hom as erdekruik wil maak nie. Die dominee is nie self die skat nie. Hoe meer die kruik op sy eie wil skitter, hoe minder word die glans van die skat raakgesien. Daarvan is die geskiedenis hartseer getuie. Waar die dominee werklik erdekruik is, daar verlustig die gemeente hulle in die heerlikheid van die skat van kennis in Jesus Christus. Daarvan is ook die geskiedenis blye getuie.

Tussen die skat en die erdekruik moet daar dus 'n oneweredigheid wees. Die skat is baie kosbaarder as wat die kruik ooit kan wees. Maar 'n mens moet jou nie deur die oneweredigheid laat flous nie: al is die kruik maar net van klei gemaak, al is dit dalk lelik, vol barste en krake — die skat daarbinne is vlekloos, pragtig, volmaak.

Belang vir Gemeentelike Lewe🔗

Hierdie insig is van groot belang in die gemeentelike lewe. Ons is almal verskillende erdekruike waarin die skat van die evangelie gedra word. Van buite sien ons allerlei krake en barste in ons medebroeders en -susters raak — gebreke en eienskappe waarvan ons nie hou nie. Maar die buitekant van die erdekruik mag ons nie blind maak vir die heerlikheid van die skat wat binne-in is nie.

Hierdie insig is veral belangrik t.o.v. die dienswerk van ampsdraers in die gemeente:

  • Wanneer die predikant preek, is daar baie kritiek as hy nie soos 'n indrukwekkende spreker vertoon nie, as daar nie genoeg 'skop' in sy preek is nie. Maar met sulke kritiek word die kruik dan weggegooi sonder om na die skat binne-in te kyk. Uit die eerste Korintiërbrief blyk dit dat Paulus self nie juis 'n dinamiese orator was nie!

  • Of wanneer die ouderling kom vermaan, mag ons nie sê 'Wie is hy om my te vermaan?' nie. Want dan verwerp ons nie net die erdekruik nie, maar ook die skat wat hy dra.

  • En wanneer die diaken tot groter meelewing kom opskerp, moet ons onthou: hy is maar net die draer. Die skat wat hy dra, is van God.

Natuurlik beteken dit nie dat predikante of ouderlinge of wie ook al eie luiheid kan regverdig met 'n beroep daarop dat hulle net erdekruike is nie. Natuurlik mag ons nie minder as erdekruike wil wees nie. Paulus lê egter klem daarop dat hy nie meer as erdekruik wil wees nie. Daarmee verweer hy hom teen die beskuldigings dat hy eie eer sou soek.

Deur Paulus se verweer maak God dit vir ons elkeen duidelik: Paulus en elke ander apostel, en elke Woordbedienaar, en elke gelowige, wat bereid is om erdekruik te wees waarin die skat van die evangelie gedra word — niks minder as erdekruik nie en ook niks meer as erdekruik nie — bereik daarmee nie eie eer nie, maar juis die eer en die heerlikheid van God!

Dit is presies wat in vers 7 gesê word: Ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.

skat

Opskerping en Troos🔗

Werklikwaar, as ons kyk na alles wat die evangelie van Jesus Christus deur die eeue vermag het en nog vermag: hoedat die kerk van die Here ten spyte van aanslae van buite en van binne steeds groei; as ons sien hoedat die Woord van God klipharde menseharte oopmaak en mense se lewenskoers na God toe verander; as ons sien hoedat die skatte van die wysheid en kennis van Jesus Christus lig bring in 'n donker wêreld, uitkoms waar die mens magteloos staan, rus waar die wilde heidendom dring en dryf — as ons na al hierdie dinge kyk, en ons kyk dan na die erdekruike waarin God hierdie skat deur die eeue gedra het en steeds uitdra: gebrekkige mensekinders soos ons, dan kan ons nie anders nie as om te bely: Hierdie dinge kom nie uit onsself nie, maar is van die krag van God!

En wanneer daar goeie vrugte op ons werk kom, is ook dit nie as gevolg van eie voortreflikheid nie, maar is dit die krag van God, die Heilige Gees, wat ons bruikbare erdekruike gemaak het. Dan roem ons nie in onsself nie, maar ons roem in God. Paulus het ter verdediging gestel: Ek as apostel dra die skat van die evangelie uit — nie tot eie eer nie, maar tot eer van God.

Sy verdediging is vir ons opskerping en troos. Opskerping: Dra die skat van die evangelie uit — nie ter wille van eie eer nie, maar ter wille van die eer van God. En troos: Al is jy maar gebrekkige mensekind — deur die krag van God sal jy in staat wees om die skat van die evangelie in al sy prag en heerlikheid tot die einde te kan dra.