Openbaring is geen verborgenheid nie!
Geskryf deur hhvanalten op
Êrens het daar ‘n verskriklike kortsluiting gekom tussen die laaste Bybelboek en christelike lesers. Ja, ek sê nou wel ‘christelike lesers’, maar wie lees nog Openbaring? Die boek wat die geskiedenis ingegaan het onder die titel ‘die Openbaring’ – op grond van die heel eerste Griekse woord: apokalipsis = openbaring – daardie boek is vir die meeste van ons eerder ‘n verborgenheid as ‘n openbaring. Openbaring het toegegaan! En dít teen die uitdruklike voorwoord by hierdie boek (Op. 1:1-3).
-
In hierdie voorwoord sê die outeur: hierdie boek is ‘openbaring’ – dit maak iets oop, dit maak iets bekend. Maar wat? Wel, sê vers 1, “dit wat gou moet gebeur”, want (vers 3), “die tyd is naby”. Spannend! Almal van ons het waarskynlik al ‘n spanningsverhaal gelees, waar jy die boek net nie kan neersit nie, omdat jy wil weet wat gaan gebeur. En jy voel aan dat die ontknoping nou baie naby is. Maar hoekom sukkel ons so om verby die eerste drie hoofstukke van die laaste bybelboek te kom?
-
Verder sê die outeur in die voorwoord: hierdie openbaring kom direk van Gód af. Daar is ‘n ononderbroke ketting vanaf die hemel na die aarde, sodat ons vandag hierdie boek in ons besit kan hê en kan lees; ‘n ketting met vyf skakels (kyk maar na vers 1): God – Jesus Christus – Christus se engel – Christus se dienskneg, Johannes – Christus se diensknegte op aarde, die gemeente (uiteraard eers die sewe gemeentes van hoofstukke 2 en 3, maar uiteindelik die hele kerk). Hierdie openbaring kom dus, via betroubare oorlewering (kyk maar wat sê Johannes in vers 2 van sy getuienis), direk van Gód af. Gód maak deur Jesus Christus iets aan ons bekend! En tog hanteer ons hierdie boek asof ons met een of ander geheimtaal te make het…
-
En ten slotte spreek die outeur in die voorwoord ook nog ‘n saligspreking uit: salig is hy wat die woorde van hierdie profesie lees en hoor en bewaar (vers 3). Dit is ‘n kragtige aansporing om onsself met hierdie boek besig te hou, en dit nie maar gemakshalwe oor te slaan nie. Hierdie boek het met ons saligheid te doen, maar as ons kyk hoe dikwels daar oor hierdie boek gepreek word en hoe dikwels gelowiges dit self lees of bestudeer, dan wonder ‘n mens: hoe ernstig is ons oor ons saligheid?
U sien dus die kortsluiting. Alles in die voorwoord dien as aanmoediging om ons die boek te laat lees: dit is openbaring, dit kom betroubaar van God af, en dit dien tot ons saligheid. Maar alles daarná laat ons die boek maar liewer toemaak.
Ek hoop om in die komende tyd ‘n reeks preke oor hierdie Bybelboek te hou… in die geloof dat die Gewer van Openbaring hierdie Bybelboek ook werklik vir ons wil oopmaak!