Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Die geskiedenis van Dor

Kaart van Dor

Die geskiedenis van Dor begin onge­veer 4 000 jaar gelede. Die eerste vondste word in ongeveer 2190 v.C. gedateer. Daar is nie veel uit die middelbronsperiode bekend nie. Ons weet wel dat die stad sy maer jare tussen die 16e en 13e eeu v.C. belewe het. Die stad was in hierdie tyd heel waarskynlik deur die Egiptenare verwoes, want daar was tye dat dit glad nie bewoon was nie. In die 13e eeu was daar egter weer 'n hawe, want Ramses II het dit die moeite werd geag om Dor as een van die Fenisiese kusdorpe aan die Middel­landse See te vermeld.

Bybelse gegewens🔗

Die Bybel gee aan ons die volgende skriftelike inligting: Jabin, die ko­ning van Hasor, het in samewerking met 'n koalisie van konings in die noorde – waaronder ook die koning van Dor genoem word – teen Josua opgetrek (Josua 11:2), maar hulle is verslaan (Josua 12:23). Dor moes al in daardie tyd 'n ver­sterkte en goed gevestigde stad ge­wees het. Alhoewel die koning met sy magte verslaan is, was Dor self nie verbrand of verwoes nie. Dor word die erfdeel van Manasse maar hulle was in die Rigtertydperk nie in staat om sy inwoners te verdrywe nie (Rigters 1:27). Die Israeliete het dus nie vir Dor met die banvloek getref nie. Dit is interessant om daarop te let hoedat die verowerings of herverowerings in die Rigtertyd (ongeveer tussen 1200 en 1000 v.C.) verloop het. Sekere stede is verower, die inwoners gedood en die stede is aan die brand gesteek, bv. Jerusalem (Rigters 1:8). Dit was egter nie 'n totale uitwissing of ban nie, want bv. oor Jerusalem word kort na die verwoesting vermeld dat die Benjaminiete nie in staat was om die Jebusiete uit Jerusalem te verdrywe nie (Rigters 1:21). Dit is alleen Sefat wat heeltemal verwoes is (Rigters 1:17). Die ban lyk vreeslik wreed maar in die ou Semitiese wêreld het dit as 'n offer aan die afgode dikwels voorgekom. Die koning van Moab skrywe op een van sy gedenk­stene (Mesa-steen) dat hy Atarot tot die "bevrediging van die bloedlus van Kamos" uitgewis het.

Die inwoners van sekere stede is glad nie verdrywe nie en die Kanaäniete het verkies om daar te bly woon (Rigters 1:27 e.a.). Dor het ook hieronder geval. 'n Papirusinskrip­sie wat in Egipte gevind is (en uit die 11e eeu v.C., dateer), vertel die verhaal van 'n Egiptenaar Wen-Amon wat 'n tog na Tirus onderneem het en by Dor "'n stad van die Tjeker" vasgemeer het. Beder was in daardie dae die prins van Dor. Wen-Amon en Beder het 'n onder­linge verskil gehad en Wen-Amon steel uit weerwraak en vlug dan na Tirus. Beder agtervolg hom met elf skepe. Daar moet in hierdie verhaal 'n historiese kernwaarheid wees. Dit sou beteken dat die inwoners van Dor in die Rigtertyd selfs oor 'n vloot beskik het. Die Tjeker was deel van die Seevolke wat van die Griekse eilande afkomstig was en nou aan die Filistyne verwant was.

Stad beproef Israel🔗

Israel het dus met sterk stede te doen gekry. Die Amoriete van seke­re stede was selfs in staat om Israel te verdrywe (Rigters 1:35). Die HERE het Israel egter nie in die steek gelaat nie maar dit juis so be­skik dat hierdie nasies die inval sou oorlewe omdat Israel sy verbond verbreek het en die HERE hierdie nasies tot tugtiging wou gebruik (Rigters 2:20-3:4).

opgrawings

So word Dor in plaas van 'n ver­vloekte stad, 'n stad wat vir Israel 'n beproewing of voorwerp vir predi­king sou wees. Dink aan Genesis 12:3 en Eksodus 19:6. Sou Israel aan hulle meer gee as om hulle net te laat lewe (1 Konings 20:31)? Wat vertel Dor verder?

Dor het in die koningstyd onder direkte bestuur van die Manasse­stam (1 Kronieke 7:29) en van die Is­raelitiese konings gekom. Sommige dink aan die militêre mag van Da­wid. Salomo het sy skoonseun, Ben-Abinadab, as bestuurder oor die stad aangestel (1 Konings 4:11). Dit lyk ook of die God van Israel in Dor ver­kondig is, want 'n seël wat uit die tydperk dateer, is gevind en daarop is die Naam van die HERE gegraveer asook die woorde "priester van Dor".

Die Assiriese Tiglat-Pileser III het Dor in 732 v.C. verower. Dit was 10 jaar voor die val van Samaria. Tiglat-Pileser het Dor tot die hoof­stad van die provinsie Duru verhef en van toe af het die stad meer en meer onder die invloed van die Fenisiërs en buitelandse volke gekom.

Hoe het Dor godsdienstig gelyk nadat Nebukadneser in 586 v.C. Je­rusalem tot 'n val gebring het en daarmee finaal die staat van Israel vernietig het?

Heidens godsdienstige reste🔗

Naby die stadspoort is 'n favissa ('n tempelput wat ook vir die bewaring van heilige voorwerpe gebruik is) met afgodebeeldjies ontdek. Die beeldjies van die bebaarde manlike god met 'n Fenisiese hoofbedekking is moontlik die afgod Esjmun of Baäl-Melkart. Die vrouefiguurtjies was gekleed of naak en hulle was dikwels as swanger of met 'n baba uitgebeeld. Dit moes die voorstelling van die vrugbaarheidsgodinne As­tarte, Tanit of Baälat-Gebal gewees het. Die voorstelling van 'n naakte prostituut dui 'n tempelprostituut of 'n vroulike demoon met 'n obsene karakter aan. Dan was daar nog beeldjies van seuns wat dikwels saam met die godinne gevind is. Die beeldjies dateer uit die 5e tot die 4e eeu v.C.

Dor vertel aan ons dat die ware godsdiens by sy inwoners verbyge­gaan het en dat die heidendom oor­win het. Dor het Israel verlei. Dor het in God se openbaringsgeskiede­nis net 'n negatiewe betekenis.

Wat het verder van Dor geword? Gedurende die Persiese heerskappy (539-333 v.C.) was Dor onder die regering van die Sidoniërs. In die Hellenistiese tyd (333-60 v.C.) het dit onder die Griekse beheer weer stadstatus verkry en is dit tot 'n on­oorwinbare vesting uitgebou. Toe Antiogus die Grote in 219 v.C. met 70 000 man daarteen opgeruk het, kon Tribonus die stad suksesvol verdedig. Later was die Makkabeër Alexander Jannaeus wel in staat om die stad in te neem, maar hy moes op sy beurt weer voor die Romein Pompeius swig.