Bron: Die Kerkblad, 2003. 2 bladsye.

Christus, Christen, Kuns en Kultuur

kunstefees

Die ontstaan en ontwikkeling van twee jaarlikse Afrikaanse kultuurfeeste in Oudtshoorn en Potchefstroom — laasgenoemde hierdie maand — het die vraag oor die verhouding tussen Christus en kultuur asook Christen en kultuur byna vanselfsprekend op die agenda geplaas. Vandaar dat Die kerkblad in hierdie uitgawe besondere aandag aan hierdie aangeleenthede bestee.

Oor die verhouding tussen Christus en kultuur is daar al groot teologiese boeke geskryf, onder andere deur die Nederlandse teoloog Klaas Schilder (in 1948) en die Amerikaanse teoloog Richard Niebuhr (in 1956). Verskillende moontlikhede kan in hierdie verband oorweeg word.

Een moontlikheid is dat 'n Christen hom/haar van elke kultuurontwikkeling kan onttrek en in isolasie probeer voortbestaan. Sommige misbruik selfs die bekende uitspraak van Groen van Prinsterer in hierdie verband: "In ons isolement lê ons krag" — asof hy sou gesê het: "in ons isolasie lê ons krag"! Maar Christus het aan sy navolgers gesê om die sout vir die aarde, die lig vir die wêreld en die suurdeeg vir die samelewing te wees. Die Gereformeerde tradisie was nog nooit op wêreldmyding ingestel nie.

'n Tweede moontlikheid is om alle kultuurontwikkeling voortdurend te opponeer, teen te staan en selfs af te wys. Maar ook hier geld dat ons Christelike lewe nie 'n lewe van afsondering nie, maar van (kulturele) betrokkenheid en verantwoordelikheid behoort te wees. Christene is nie van die wêreld nie, maar in die wêreld. Wat Christene wel behoort te beveg, is nie die kultuur nie, maar die sonde en die bose in die kultuur.

'n Derde moontlikheid is die van akkommodasie, van saam swem met die stroom, van niks verkeerd raaksien, van 'n optimistiese kultuurontwikkeling, selfs tot op die punt van 'n volledige verwerkliking van die koninkryk van God op aarde. Die Bybelse sondebeskouing is egter veels te radikaal om so oor die mens se kultuurprestasies te dink. Twee wêreld- en talle ander oorloë lewer 'n droewige bewys van hoe laag mense en nasies in hulle onderlinge verhoudings kan daal. Vandaar dat daar deesdae nogal heelwat kritiek teen Nederlandse teoloë (soos Kuyper en Schilder) se kul­tuurbeskouings uitgespreek word omdat hulle oor die algemeen net te idealisties en optimisties oor die mens se kultuurvermoë geoordeel het.

'n Vierde moontlikheid is om te sê dat die Christen die kultuur ten goede moet verander en transformeer. Hierdie gedagte het allerweë groot ingang gevind en kan vandag byna as standaardbeskouing gesien word. Dit lê tereg klem op die mens se kultuurmandaat (Gen. 1:28) en sy aardse roeping.

kunsstuk

Die vraag is egter of hierdie benadering nie ook nog te optimisties oor die mens dink nie. Hou dit genoegsaam rekening daarmee dat goed en kwaad, geloof en ongeloof in die daaglikse lewe (soms ondeursigtig) ineengeweef is (Matt. 13:24-30)? Bestaan daar iewers op aarde 'n getransformeerde kultuur — wat ook nog volhoubaar is? Moet die Christen nie altyd onthou dat hy, by alle kultuurarbeid wat hy op aarde verrig, uiteindelik tog 'n vreemdeling en pelgrim is wat op weg is na 'n Beter Vaderland nie (Heb. 11:16)? Uiteindelik is die Christelike lewe 'n lewe van lyding en kruisdra en selfverloëning, sonder goedkoop genade; daar is geen kortpaadjies na die kruin nie.

Ongetwyfeld het Christene 'n onoorsienbare kuns- en kultuurtaak in diens van die koninkryk van God. Nooit kan hulle op kultuurgebied te veel doen nie. Tydig en ontydig moet hulle die groter nasionale en afsonderlike kleiner kulture ten goede beïnvloed en rigting daaraan gee — soos sout en lig en suurdeeg.

Maar hulle moet ook gewaarsku wees om nie in 'n houding van ooroptimisme te dink dat Suid-Afrika oornag 'n "Christelike kultuur sal aanneem nie. Daarvoor oefen die bose magte nog te veel invloed uit. Op pad na die Groot Einde kan die bose magte selfs nog kleiner skermutselings wen, al het hulle die groot veldslag op Golgota verloor.

As Christene leef ons egter nie vanuit ons nederlae in die lewe nie, maar vanuit die oorwinning in Christus. "Hou moed", het Hy gesê, "Ek het die wêreld klaar oorwin" (Joh. 16:33).