Verheerliking
Verheerliking
Die laaste stap van die heilsorde is verheerliking; wanneer die uitverkorenes van God in die hemelse heerlikheid opgeneem word. In ons verheerliking voltooi God die heilswerk wat met ons wedergeboorte begin het. Hy verlos sy volk van lyding en dood én Hy verlos hulle van al hulle sonde.
Bespreking van ons verheerliking hoort streng gesproke by die leer oor die laaste dinge. Ons skryf in meer besonderhede oor sake soos die tussentoestand en die opstanding van die liggaam in die laaste deel van hierdie boek. Dit is ewewel nodig om oor die verheerliking ook hier iets te sê, want in ons verheerliking word die groot werk van God voltooi en word ons ten volle vir die heerlikheid van God in Jesus Christus, ons Saligmaker, geskik gemaak.
Daar is drie stappe in ons verheerliking. Eerstens die gawe van die ewige lewe wat ons ontvang wanneer ons weergebore word. Uit dié gawe vloei voort dat ons saam met Christus opgewek word en saam met Hom in die hemele sit (Ef. 2:5, 6); ons burgerskap wat in die hemel is (Filip. 3:20; en die nuwe lewe van Christus in ons (Gal. 2:20).
Tweedens die gawe van die ewige lewe wat ons ontvang wanneer ons siele na die dood dadelik en bewustelik die hemelse heerlikheid en geluksaligheid ingaan (2 Kor. 5:1-8).
Derdens die gawe van die ewige lewe wat ons ontvang wanneer ons liggame opstaan om gelykvormig te word met die verheerlikte liggaam van Christus, en ons die nuwe hemel en die nuwe aarde betree (Filip. 1:21-24).
Ons beklemtoon dat ons die beginsel van die ewige heerlikheid wat ons op die laaste dag sal hê, nou reedshet. Dit is een van ons grootste beweegredes vir gehoorsaamheid: ons is as‘t ware reeds ten dele in die hemel. Paulus praat hieroor in Kolossense 3:1-4. Omdat ons saam met Christus opgewek is en ons lewe saam met Hom in God verborge is, moet ons die dinge soek wat daarbo is en ons toegeneentheid daarop rig.
Die beginsel van die ewige lewe wat ons in ons ronddra is ook die rede waarom ons soms na die hemel verlang en verlang om van hierdie wêreld en die vlees verlos te word. Dit, sê Paulus, is verreweg beter as om hier te bly (Filip. 1:21-24).
Ons hemelse heerlikheid word in die Skrif met gloeiende taal en dikwels met beelde en tipes beskryf, want dit behels dinge “wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ʼn mens nie opgekom het nie; wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).
Ons sal self wonderbaarlik verander en vry van die sonde en sy gevolge wees en alles ontvang wat God beloof het, maar die ware heerlikheid van die hemelse lewe is dat God en Christus daar is; dít is geluksaligheid, die vreugde, die heerlikheid en die vrede van die hemelse lewe (Openb. 21:3, 7, 22, 23; Openb. 22:3). Diegene wat die hoop het om verheerlik te word, reinig hulleself, is bereid om hierdie wêreld te verloor, en versaak dit inderdaad, vir die dinge van die koninkryk van die hemel. Terwyl hulle op dié heerlikheid wag, wandel hulle deur geloof en nie deur aanskouing nie.