Regverdiging en Versoening
Regverdiging en Versoening
Ons het reeds gesien dat regverdiging nie van uitverkiesing óf van die kruis losgemaak kan word nie. Regverdiging, wat gegrond is in die versoeningswerk van Christus aan die kruis, gaan terug in die ewige verlede.
Dit is van die grootste belang. Wat nie ewig deur God besluit is nie, soos regverdiging van die nie-uitverkorenes, kan nie in die tyd gebeur nie. Wat nie vir almal deur die kruisdood van Christus gekoop en verkry is nie, is nie vir almal beskik nie.
Daar is dus nie regverdiging (geregtigheid of vergiffenis) wat aan die nie-uitverkorenes “aangebied” kan word nie. Die evangelie moet aan almal verkondig word; die geregtigheid van God in Christus getoon en bewys word (Rom. 3:25,26). Almal wat hoor moet tot geloof geroep word, met die sekere belofte dat hulle wat glo voor God geregverdig sal word; maar daardie belofte is, soos dit in die tyd duidelik word, net vir hulle wat God uitgekies het en vir wie Christus aan die kruis gesterf het. Die belofte van regverdiging is net vir die uitverkorenes, en word vir hulle dáárin vervul dat God uit genade aan hulle die regverdigmakende geloof gee (Ef. 2:8, 9).
Die hoofsaak van die leerstuk van partikuliere1 verlossing (beperkte versoening) is dat Christus net vir die uitverkorenes gesterf het. Dit word duidelik in die Skrif geleer. Die regverdiging van die uitverkorenes van God word deur die dood van Christus gewaarborg (Jes. 53:11; Rom. 3:24; Rom. 5:9, 19) omdat Hy deur sy lyde en sterwe sy volkome gehoorsaamheid in die plek van hulle ongehoorsaamheid gestel het en die straf vir hulle oortredings gedra het.
Só het Christus vir hulle volkome geregtigheid (onskuld), wat vir God die Regter aanneemlik is, verdien. Dié geregtigheid word hulle sʼndeur geloof waardeur hulle skuld weggeneem word en hulle weer in guns deur God in sy teenwoordigheid aanvaar word. Daarom is dit die werk van Christus wat die grond van hulle regverdiging is.
Dit is selfs moontlik om in ʼn objektiewe sin van Christus se sterwe as die regverdiging van God se volk te praat (Rom. 5:19). Deur sy dood is alles wat hulle van God geskei het, uit die weg geruim en ʼn geregtigheid vir hulle verdien wat God aanvaar en goedvind (Jes. 53:11).
Dit is dus nie ʼn algemene geregtigheid wat Christus verdien het nie, maar ʼn geregtigheid wat by uitstek vir sommige mense verorden en verdien is. Dit is ʼn geregtigheid wat aan hulle behoort kragtens die prys wat Christus aan die kruis daarvoor betaal het. Daar is geen ander geregtigheid nie (Rom. 10:1-4).
Soewereine en genadige beperkte uitverkiesing en beperkte versoening waarborg saam die ware regverdiging deur die geloof van almal wat God aan Christus gegee het. ʼn voorwaardelike regverdiging wat vir almal beskikbaar is, is ʼn regverdiging los van die uitverkiesing en die kruis — ʼn regverdiging wat niemand regverdig nie.