Opsomming van die Verbonde
Opsomming van die Verbonde
Ons het reeds uit die Skrif aangetoon dat die verskillende verbonde wat in die Skrif genoem word, nie afsonderlike verbonde is nie, maar afsonderlike openbarings van die één, ewige verbond van God. Ons wil nou graag opsom wat ons vroeër geskryf het deur die verskillende verbonde te noem saam met dít wat elkeen toon as openbaring van daardie één verbond.
Die eerste openbaring van die verbond was aan Adam in die paradys. Daardie verbond kan die Verbond van die Lewe genoem word, omdat dit die wesenlike aard van die verbond openbaar. Dit toon wát die verbond is, openbaar God as die soewereine Heer van die verbond en teken duidelik die mens se plek in die verbond (Gen. 1; Gen. 2; Hos. 6:7).
Die tweede groot openbaring van die verbond was aan Adam ná die sondeval. Daardie verbond kan die Verbond van die Belofte genoem word. Dit openbaar God as die getroue, verbondhoudende God, wat sy verbond met sy volk in stand hou deur die krag van sy soewereine, verlossende genade (Gen. 3, veral vs. 15). Christus word geopenbaar as die beloofde Saad en die groot Offer (vs. 15, 21).
Die derde belangrike openbaring was aan Noag. Dié verbond word onthou as die Skeppingsverbond. Daarin openbaar God die universele aard van sy verbond, wat nie net alle mense nie, maar ook die hele skepping insluit (Gen. 9: 1 – 17). Daarin word Christus geopenbaar as Versoener en Here van die ganse skepping (Gen. 9: 15, 16; Kol. 1: 20).
Die vierde openbaring was aan Abraham. Dié verbond kan wellig die Familieverbond genoem word, omdat dit duideliker as tevore aantoon dat God se verbond veelal ʼn familieverbond is (Gen. 15; Gen. 17). Die Vader openbaar aan Abraham deur sy Seun dat Hy die God sal wees van gelowiges en hulle kinders.
Die vyfde groot openbaring was aan Israel. Aangesien die gee van die wet die hoofkenmerk van daardie openbaring is, noem ons daardie verbond die Verbond van die Wet. Daarin openbaar God dat wet en verbond nie teenoorstaande dinge is nie, maar saamhoort (Eks. 19; Eks. 20; Gal. 3; Gal. 4). Hy toon aan Israel dat die wet ons lewe as verbondsvolk bepaal en begrens.
Die sesde en laaste verbondsopenbaring in die Ou Testament was dié aan Dawid en kan onthou word as die Koninkryksverbond. Daarin openbaar God die ordelike struktuur binne die verbond (2 Sam. 7; Ps. 89), en ook die unieke plek van Christus as soewereine Hoof en Here van die verbond.
Die hele Nuwe Testament word in die Skrif as sulks die nuwe verbond genoem, nie omdat dit ʼn geheel afsonderlike verbond is nie, maar omdat dit ʼn nuwe openbaring van die verbond is, nie tipes en skadu’s nie, maar die werklikhede waarna die tipes heengewys het (Heb. 8). Hier kom Christus om met al sy seëninge die tipes en skadu’s finaal te vervul.
Nou wag ons nog op die dag van die vervulling van die verbond, wanneer die verbond in al sy volheid verwesenlik sal word. Dan sal die tabernakel van God by die mense wees; Hy sal by hulle woon en by hulle wees as hulle God, en hulle sal sy volk wees (Openb. 21:3).