Kinderdoop in die Nuwe Testament
Kinderdoop in die Nuwe Testament
Een algemene beswaar teen die praktyk van kinderdoop is dat daar nie Nuwe Testamentiese Skrifte is wat praat van kinders wat gedoop word nie. Dit is eenvoudig nie waar nie. Daar is in werklikheid twee sulke gevalle.
Een is 1 Korinthiërs 10:2 waarna ons reeds in ʼn ander verband verwys het: “en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see” Die deurtog van die Israeliete deur die Rooi See word as ʼn doop beskryf — ʼn doop wat klaarblyklik kinders ingesluit het (Eks. 10:9; Eks. 12:37). Dit is inderwaarheid moeilik om te ontken dat daar in daardie tyd by die Israeliete ook kinders was, want meer as twee miljoen Israeliete het uit Egipte weggetrek (Eks. 12:37, 38).
Die punt is hier dat die deurtog deur die Rooi See ʼn doop is in die Nuwe Testamentiese sin en gebruik van die woord. 1 Korinthiêrs 10:2 gebruik die Nuwe Testamentiese woord doop1 om die gebeurtenis te beskryf. Die beswaar van die Baptiste dat dit in die Ou Testament gebeur het, kan nie daaraan verander nie. Die gebruik van die woord doop in hierdie vers bevestig dat die Nuwe Testamentiese woord nie altyd onderdompeling beteken nie, soos ons reeds vroeër aangetoon het. Die Israeliete is nie in die Rooi See ondergedompel nie.
Hierbenewens onderstreep die feit, dat die deurtog deur die Rooi See in die Ou Testament plaasgevind het, inderwaarheid die belangrike punt dat doop nie iets nuut in die Nuwe Testament is nie. Daar was baie dope in die Ou Testament en dit blyk duidelik uit Hebreërs 9:10: “. . . omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling”. Die woord wassinge is in werklikheid die meervoud van die woord doop.2 Dat dit waarlik doop was, blyk duidelik uit die Nuwe Testament wat as sulks daarna verwys. Daar word in vers 19 na een so ʼn doop verwys as die besprenkeling van die “hele volk”, en ons weet uit die Skrif dat die volk kinders ingesluit het (Eks. 20:12).
Die beswaar van Baptiste hierdie tipes van die doop was verander ook niks nie. Alle waterdoop is simbolies en stel iets voor. Dié van die Ou Testament én die van die Nuwe Testament simboliseer trouens presies dieselfde: die afwassing van sondes deur die bloed en Gees van Jesus Christus (1 Kor. 10:2; en in besonder Heb. 9:13, 14, 22 en 1 Pet. 3:21).
Hierdie verse is belangrik omdat hulle aantoon dat die Ou Testamentiese doop presies dieselfde betekenis as dié van die Nuwe Testament het. Hulle dui altwee op reiniging en vergiffenis van sonde deur die vergieting van bloed (Heb. 10:22, 23). Om in die Ou Testament gedoop te wees, het presies dieselfde betekenis as in die Nuwe, met dié verskil dat dit in die Ou Testament vooruit gekyk het; sedert die dood van Jesus kyk dit terug.
Daar is dus, ook wat die doop betref, geen grondliggende verskil tussen die twee testamente nie. Deur anders hieroor te dink, word die rigting van dispensasionalisme en skeiding van die Ou en Nuwe Testament, ingeslaan.
Die doop was nie iets nuut en ongehoord by die Israeliete toe Johannes in die Jordaanrivier begin doop het nie. Die gedagte aan kinderdoop in die Ou Testament behoort ook nie vir óns ʼn verassing te wees nie. Daar is in die Ou Testament én die Nuwe Testament net een volk van God, een verbond, een weg tot saligheid en een teken van die verbond.