Hel
Hel
Die woord hel, selfs wanneer dit op sy eie staan, soos in die opskrif van hierdie afdeling, het ʼn vreesaanjaende klank en laat ons sidder. Dit is geen wonder dat baie mense vandag nie daaroor wil praat nie.
Die Bybelse leer oor die hel is, soos die leer oor die Godheid van Christus, oor die Drie-eenheid en oor versoening, ʼn leerstuk wat deurgaans in die Nuwe Testamentiese kerk aangeval is. Die aanvalle duur vandag voort. Dit kom nie net van diegene wat “modern” en “liberaal” in hulle leer is nie. Selfs die evangelistiese beweging van vandag huisves diegene wat die leer aanval.
Dit word deur die NIV, wat by uitstek ʼn produk van die evangelistiese beweging is, geïllustreer. Dit het woord hel heeltemal uit die Ou Testament weggelaat.1 Die NIV het die woord hel ook in tien van die twee en twintig keer waar die woord in die Nuwe Testament in die KJV voorkom, hervertaal.
Dit is veral die weglating van die woord uit die Ou Testament wat betekenisvol is. Dit is niks anders nie as ʼn toegewing deur die vertalers aan die gedagte dat die mense in die Ou Testament nie werklik van die hel geweet het nie, maar geglo het aan ʼn doderyk waarheen almal, die regverdiges en die bose, gegaan het.
Om die woord hel uit die Ou Testament weg te laat, is swak vertaling. Daar is plekke in die Ou Testament waar Sheol, die woord wat gewoonlik in die KJV met hell vertaal is, met “hel” vertaal moet word. Deuteronomium 32:22 en Job 26:6 is goeie voorbeelde hiervan. Psalm 16:10, wat in die Nuwe Testament aangehaal word, moet ook so vertaal word, want die woord Sheol is in die Nuwe Testament met die woord Hades vervang (Hand. 2:27, 31), wat in Grieks die gebruiklike woord vir “hel” is.2
Hoe onaangenaam die woord hel ook al is, dit mag nie uit ons Bybels, ons leer of ons denke geweer word nie. Dit is van die uiterste belang vir die verkondiging van die evangelie. Sonder die leer oor die hel verloor die oproep van die evangelie om te bekeer of verlore te gaan al sy dringendheid. Ook die leer van “voorwaardelike onsterflikheid” (tydelike straf en daarna vernietiging) wat deur sommige evangelie-gesindes volgehou word, doen op ʼn onbehoorlike manier af aan die waarheid dat ons verlore gaan as ons nie bekeer nie, want dit ontken dat die onboetvaardiges vir ewig onder die toorn van God sal ly.
Die vreeslike woord hel is onlosmaaklik verbind aan die vrees van God. Jesus sê: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Matt. 10:28) As mense vandag meer aan die hel geglo het, sou daar miskien meer van die vrees van God in die wêreld en die kerk wees. Dit is betreurenswaardig afwesig in die meeste kringe, selfs al is “ die vrees van die HERE” die “beginsel van die wysheid” (Spr. 9:10).