1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Heiliges

Ons is besig om die leerstuk van die volharding van die heiliges te behandel en voordat ons daarvan afstap moet een en ander oor die verwysing na heiliges in dié leer gesê word. Die woord verwys na die heiligmaking van die volk van God.

Behoorlike begrip van die woord heiliges is noodsaaklik. As die heiliges geestelik selfgemaakte mense is, of mense wat heilig is deur hulle eie werke en eie wil, soos sommiges te kenne gee, is daar nie sekerheid van volharding nie. Heiliges wat hulleself heilig maak, kan, en sal, hulleself ook onheilig maak. Dit is die leer van ‘vrye wil-isme’.

Dié leer sê dat ʼn mens deur sy eie keuse salig word en dat sy heiligmaking en groei in genade ook van homself afhang. Hy moet kies om van die genade wat beskikbaar is, gebruik te maak as hy heilig wil wees. As dit werklik die geval sou wees, sou niemand ooit heilig wees nie.

Ons glo dat die heiliges deur genade heiliges gemaak word en dat dit net deur genade  hoegenaamd enige heiligheid besit. Dit kan ook só gestel word: hulle is heiliges en gelowiges in Jesus Christus (Ef. 1:1; Filip. 1:1; Kol. 1:1, 2).

Die heiligheid van die heiliges is nie die gevolg van hulle eie vrywillige keuse nie, maar is geleë in die soewereine uitverkiesing van God én daarin dat God hulle verkies het. Só lees ons in Efesiërs 1:4 dat “Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees”. Die genadige uitverkiesing van God is die bron van hulle heiligheid.

Die heiligheid van die heiliges is ook nie deur hulle eie werke verkry nie, maar is vir hulle deur die bloed van Christus gekoop. Ons lees hieroor om Kolossense :21, 22: “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel”. Die vergote bloed van Christus is die grondslag van hulle heiligheid.

Die heiligheid van die heiliges hang nie van hulleself af nie, asof God sou gesê het: “Ek het alles aan jou voorsien; dit hang nou van jou af om daarvan gebruik te maak en heilig te wees soos ek beveel het”. Heiliges word heilig in hulle optrede en hulle taal deur die werk van die Heilige Gees. Heiligmaking is “heiligmaking van die Gees” (1 Pet. 1:2). Daarom praat die Skrif van gelowiges as “geroepe heiliges” (Rom. 1:7; 1 Kor. 1:2). Dit is die roeping van die kragtige Woord van God wat hulle tot heiligheid bring.

Die Gees begin nie die werk van heiligmaking en laat dit dan aan die heiliges oor om tot die einde toe te volhard nie. Hulle volharding in heiligheid is volkome afhanklik van die voortdurende teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees. Ons leer nie om deur ons eie inspanning heiliges te wees nie. Dit is die genade van God wat redding bring “en (ons) leer . . .  om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Tit. 2:11, 12). Die genade van die Heilige Gees is die krag van heiligheid.

Ons moet nie vergeet dat dit net heiliges is wat die Here sal sien nie (Heb. 12:14). Hoe wonderlik is dit dan nie om te weet dat God aan ons gee wat nodig is om Hom in heerlikheid te aanskou.