Geloof en Doop
Geloof en Doop
Ons wil graag handel met die Baptiste se belangrike argument dat geloof noodwendig die doop moet voorafgaan. Hulle praat dan ook van ‘geloofsdoop’.
Die eerste ding wat gesê moet word, is dat die posisie wat die Bapriste inneem ʼn onmoontlikheid is. Ons het reeds daarop gewys dat Baptiste ten beste net mense kan doop wat ʼn belydenis van geloof gedoen het. Daar is nie ʼn manier om te verseker dat alle dopelinge inderdaad glo nie, want niemand kan die harte ken nie.
Die gebruiklike reaksie van Baptiste is dan, soos ons reeds gesê het, dat hulle baie minder ongelowiges doop as hulle wat kinder- of familiedoop bedien. Dit kan natuurlik nie besys word nie, maar die feit is dat as ʼn Baptistekerk maar net een huigelaar of ongelowige doop, hulle doop nie meer ‘geloofsdoop’ is nie.
Dit is ewenwel nie die hoofsaak nie. In Markus 16:16 sê Jesus: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word”. Hierdie woorde moet verduidelik word, omdat dit die opdrag en volmag aan die Nuwe Testamentiese kerk is om te doop.
Eerstens sê die vers nie (hoewel enige Baptis dit op so ʼn manier lees) dat “Hy wat glo en dan gedoop word, sal gered word” nie. Dit sê slegs dat geloof én doop vir redding nodig is.
Tweedens; omdat geloof en doop in daardie volgorde genoem word, beteken dit nie dat dit ook in daardie volgorde moet plaasvind nie. In 2 Petrus 1:10 word roeping voor verkiesing genoem, maar roeping gaan nie verkiesing vooraf nie, soos elke Calvinis weet.
Die volgorde in Markus 16:16 is eenvoudig die volgorde in belangrikheid. Geloof word voor doop genoem, omdat baie belangriker is. Ons sien dit in die laaste deel an die vers waar doop nie eens weer genoem word nie, maar geloof wel.
As die volgorde in Markus 16:16 die volgorde in tyd is of die volgorde waarin die dinge werklik moet plaasvind, is die volgorde dus geloof, doop, redding. “Hy wat glo en hom laat doop sal gered word”. Niemand wil so ʼn volgorde hê nie!
Hierbenewens is daar gedeeltes in die Nuwe Testament wat daarop dui dat, ten minste in sommige gevalle, geloof nie die doop voorafgegaan het nie. In Handelinge 19:4 wys Paulus daarop hoe Johannes toe hy die mense gedoop het, gesê het dat hulle moet glo in die Een wat ná hom kom. Hy het hulle nie gedoop omdat hulle reeds in Christus geglo het nie.
Met betrekking tot vers 4 is daar vir die Baptis twee moontlikhede. Hy kan sê dat, ten spyte daarvan dat meer as die helfte van die verwysings na doop in die Nuwe Testament na die doop van Johannes is, die doop van Johannes nie ware Nuwe Testamentiese doop was nie (en dat daar dus geengevolgtrekkings daaruit vir Nuwe Testamentiese praktyk gemaak kan word nie), of hy kan erken dat geloof nie altyd aan die doop hoef vooraf te gaan nie.