Ewige Straf
Ewige Straf
Die leer van die ewige straf was nooit gewild nie. Dit is ewenwel onrusbarend dat die aanval op hierdie leerstuk nou uit die geledere van die evangelie-gesindes kom. Ons het reeds gesien dat die NIV die woord “hel” vir alle praktiese doeleindes uit die Woord van God verwyder het en baie vooraanstaande evangelie-gesindes leer ʼn sogenaamde “voorwaardelike onsterflikheid. Diegene wat hierdie valse leer voorstaan, sê dat die goddelose net vir ʼn tyd lank na die hel toe gaan, maar uiteindelik verdelg word, sodat daar uiteindelik niemand in die hel sal wees nie. Daar is straf, sê hulle, maar nie ewige straf nie. ʼn Vooraanstaande evangeliesgesinde het gesê dat hoewel hulle rook vir altyd sal opgaan, niemand brand nie.
Ons glo dat die leer van die ewige straf ʼn Bybelse én ʼn onontbeerlike leer is. Dat dit Bybels is, is duidelik in sulke Skrifgedeeltes soos Openbaring 19:3, die vers wat praat van die rook van Babilon wat opgaan tot in ewigheid. Daar word na goddelose mense verwys, en dit vra baie vindingrykheid om te verbeel dat die rook van Babilon vir ewig kan opgaan sonder dat daar enigiemand in die hellevuur is.
Dit behoort nie moeilik te wees om die belangrikheid van die leer van die ewige straf in te sien nie. Eerstens dra dit by tot ʼn behoorlike begrip van sonde. Die ewigheid van die straf beklemtoon dat sonde teenoor die ewige en allerhoogste majesteit van God gepleeg word. Ontkenning van ewige straf kleineer die sonde.
Nou hieraan verwant, bevraagteken ontkenning van ewige straf die geregtigheid van God. Dat God mense eers hel toe stuur, net om daardie straf te beëindig deur hulle te vernietig, weerspreek die onveranderlikheid, die reg én die geregtigheid van God. Dit gee voor dat Hy van plan verander oor hulle straf, of toegeeflik word in sy toorn oor hulle sonde.
ʼn Ontkenning van ewige straf maak ook die ernstige eis van bekering en geloof in die evangelie tot niet. Die goddeloses sou nie die oordele van God só vrees, as hulle sou dink dat hulle bestaan tot niet gemaak gaan word nie. Dit is die gedagte aan ewige pyn wat by hulle skrik aanja.
Dit is ter wille van die ontkenning van hulle eie vrees vir ewige straf dat mense die voortbestaan van die siel, die bestaan van hemel en hel en die toekomstige oordeel ontken. Hulle vrees vir ewige straf, miskien meer as enigiets anders, wat hulle daartoe lei om selfs die bestaan van God te ontken, want erkenning van sy bestaan en van die feit dat Hy heilig is, veronderstel dat Hy as regverdige Regter lewe.
Dit wil nie sê dat enigiemand ooit gered word deur tot in die hemel verskrik te word nie. God gebruik ewenwel die verskrikking van ewige straf om die groot werk waardeur Hy sy volk tot Hom neem, te begin, en die leer van ewige straf is ʼn belangrike deel van die prediking van die evangelie.
Om hierdie rede moet ons voor die Skrif se leer oor ewige straf buig, hoe onaangenaam dit ook al, selfs vir Christene, voorkom. Ons moet dit doen in die geloof dat ons in Christus nie die ewige straf sal ly nie.