Die Wegraping
Die Wegraping
Die woord wegraping kom nie in die Skrif voor nie, maar dit kan sonder beswaar gebruik word om die plotselinge, sigbare verskyning van Christus uit die hemel, wanneer sy heiliges in wolke weggevoer sal word die Here tegemoet in die lug. Die Woord van God praat hiervan in 1 Thessalonicense 4:15-17. Ons verwerp ewenwel ʼn leer dat die wegraping in die geheim gebeur, dat dit voor die finale groot verdrukking sal plaasvind en dat dit plaasvind duisend jaar voor die einde van die wêreld (ʼn pre-millennialistiese wegraping). Hierdie idees vind nie in 1 Thessalonicense 4 of in die res van die Skrif enige steun nie.
Die wegraping is nie geheim nie. Die gebeure wat in Thessalonicense beskryf word, is alles behalwe geheim. Ons lees van ʼn geroep met die stem van ʼn aartsengel en die geklank van die basuin van God. Ons kan met vrymoedigheid sê dat dit een van die lawaaierigste en mins geheime gebeurtenisse in die hele geskiedenis sal wees.
Ander Skrifgedeeltes wat hieroor praat, getuig van dieselfde. Matthéüs 24:30, 31 beskryf dieselfde as 1 Thessalonicense 4. Albei noem die engele, ʼn trompetgeluid en die versameling van die uitverkorenes in Christus. Matthéüs 24:30, 31 voeg hier by dat die stamme van die aarde sal rou bedryf wanneer hulle die Seun van die mens sien kom. Daar is niks geheim daaraan nie.
1 Korinthiërs 15:51, 52 beskryf sonder twyfel dieselfde as 1 Thessalonicense 4:15-17: dat daar twee groepe heiliges sal wees wat weggevoer sal word: húlle wat reeds gesterf het, en dié wat nog lewe. Na die laasgenoemdes word in Korinthiërs verwys as hulle wat “nie ontslaap” het nie en in Thessalonicense as dié wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here. Ook in Korinthiërs word ʼn openbare, nie geheime nie, gebeurtenis beskryf.
Uit dieselfde Skrifgedeeltes blyk dit kristalhelder dat die wegraping aan die einde van alle dinge en ná die groot verdrukking plaasvind. Matthéüs 24:29 sê, “dadelik ná die verdrukking van daardie dae… ” Die roubedryf van die stamme van die aarde waarvan ons lees, verwys na die tweede koms van Christus vir die oordeel aan die einde van die wêreld. Dít word duidelik as ons die gedeelte in Matthéüs met Openbaring 1:7 en Openbaring 6:12-17 vergelyk.
Matthéüs 24:37-41 en Lukas 17:26-37 beskryf die wegraping ook as iets wat onmiddellik voor die laaste oordeel plaasvind. Die wegneem en agterlaat van mense wat in dié gedeeltes beskryf word, word met die dae van Sodom en die dae van Noag vergelyk; met ander woorde, hulle wat agtergelaat word, word vir ʼn oordeel, net soos dié van Sodom en Gomorra (lees ook Judas 7) en van die wêreld in Noag se dae (2 Pet. 3:3-7), agtergelaat.
Hierbenewens praat 1 Thessalonicense van die opstanding van ons liggame, waarvan elders in die Skrif gesê word dat dit op die laaste dag sal gebeur (Joh. 6:39, 40, 44, 54; Joh. 11:24). Die laaste dag word seer seker nie deur 365000 ander dae gevolg nie. Ook Johannes 12:48 leer uitdruklik dat die laaste dag ook die oordeelsdag is.
Ons verwag dus nie ʼn geheime wegraping duisend jaar voor die einde en voor die groot verdrukking nie, maar ʼn openbare wegraping van die heiliges aan die einde van alle dinge, en ons voortdurende teenwoordigheid met die Here in heerlikheid.