Die Ware Kerk
Die Ware Kerk
Wat is die ware kerk van Jesus Christus en waar vind ons dit? Dit is die moeilike en belangrike vraag wat gevra moet word as ons lidmate van die sigbare kerk wil wees. Dit is baiekeer ʼn vraag wat nie maklik beantwoord kan word nie.
Wat die vraag des te moeiliker maak om te beantwoord, is dat wat eens die kerk van Christus was die valse kerk geword het. Christus het die kerk in Éfese in Openbaring 2:5 teen dié moontlikheid gewaarsku.
Dat die kerk van Éfese gevaar geloop het om die valse kerk te word, blyk uit die waarskuwing van Christus dat Hy sy “kandelaar” van sy plek sal verwyder. Kandelare was die voorstelling van die ware kerk wat met die olie van die Gees (Sag. 4:1-6; Heb. 1:9) brandend was as die lig van die wêreld (Matt. 5:14). Die kerk van Éfese het gevaar geloop om die Gees én die lig te verloor. Die waarskuwing dat daardie kerk se kandelaar van sy plek verwyder kon word, het beteken dat dit nie meer die kerk van Christus sou wees nie. Hy sou nie meer daarin wees nie (Openb. 3:16, 17). Net só het Christus gewaarsku dat Hy die kerk in Laodicéa uit sy mond sal spuug (Openb. 3:16).
Wat in die geval van dié twee kerke vreeslik is, is dat Christus hulle met oordeel dreig omdat hulle hulle eerste liefde verlaat het (Openb. 2:4), oor louheid en oor vertroue op aardse goed (Openb.3:16, 17). Daar is sonder twyfel ook vandag baie kerke wat gevaar loop om, om dieselfde redes, onder daardie oordeel te kom.
Die ware kerk van Christus is die kerk wat sy eerste liefde nie verlaat nie (Openb. 2:4), wat doen wat Christus beveel (vs. 5), wat getrou bly (vs. 10), hulle van hulle sonde bekeer (vs. 16), vashou wat hulle het (vs. 25), waaksaam bly (3:3), toesien dat die gelowiges nie hulle klere besoedel nie (vs. 25), die woord van Christus bewaar en sy Naam nie verloën nie (vs. 8). Daar is vandag nie baie sulkes nie.
Dit is in hierdie verse duidelik dat nie alle kerke ewe suiwer is nie. Die kerke wat in Openbaring 2 en 3 deur Christus aangespreek word, wissel van dié teen wie Hy niks het nie tot hulle wat Hy met uitdelging waarsku. Hulle word nietemin almal as kerke aangespreek, soos ook die kerk in Korinthe, met al dié se probleme.
Ons moet dit ook in gedagte hou, want dit beteken dat wanneer ons na die ware kerk soek, ons nie na ʼn volmaakte kerk soek nie. Solank daar sonde in die wêreld en onder die volk van God is, sal ʼn volmaakte kerk nie gevind word nie.
Geen kerk of kerkverband kan, soos Rome en ook sommige Protestantse kerke dit doen, daarop aanspraak maak dat dit die enigste ware kerk van Christus is nie. Daar bestaan ʼn groot verskeidenheid kerke wat tot meerdere of minder mate suiwer en eg is, waarin die kerk van Christus minstens tot ʼn sekere mate teenwoordig is. sou ons vergeet dat die kerk op aarde onvolmaak is, sou ons kon besluit om ons by geen kerk te voeg nie en dit is strydig met Hebreërs 10:24, 25, wat sê: “. . . laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom”.
Die woorde van Christus in Openbaring 2 en 3 maak dit ewenwel duidelik dat in die besluit oor kerklidmaatskap én die uitvoering van verantwoordelike kerklidmaatskap ons om sy ontwil moet soek na suiwerheid, waarheid en trou.