Die Simboliek van die Doop
Die Simboliek van die Doop
Welwetend dat daar tussen Christene verskille bestaan oor hierdie belangrike saak, begin ons hierdie studie van die doop met ʼn mate van huiwering. Hoewel ons geen begeerte het om diegene met ʼn Baptistiese oortuiging aanstoot te gee nie, glo ons ewenwel dat die getuienis van die Skrif hieroor duidelik is en ons versoek net dat hulle sal hoor wat ons te sê het.
Die eerste saak is dan die simboliek van die doop. Ons glo nie, soos Rome, die Anglikanisme en die Lutheranisme leer, dat die doopwater in sigself werkende krag het nie. Die waarde daarvan is geleë in die feit dat dit ʼn simbool is.
Ons is seker dat almal sal saamstem dat die water van die doop die bloed van Christus simboliseer en dat die toediening van die water (ons laat vir eers die wyse waarop dit toegedien word daar) die afwassing van sonde deur die kosbare bloed van Christus voorstel.
Die doop simboliseer, met ander woorde, die bediening van die heil deur regverdigmaking (die wegneem van ons sondeskuld) en heiligmaking (die wegneem van die vuil en smet van ons sondes). Derhalwe verbeeld die doop die vergewing van ons sonde soos ons dit ontvang in ons regverdigmaking en deur geloof, én deur die werk van God waarmee ons deur wedergeboorte en heiligmaking geheilig word.
Sover die doop die bediening van die heil verbeeld — die afwassing van ons sonde deur regverdigmaking en heiligmaking — verteenwoordig die water die bloed van Christus én die Gees van Christus. Dit is Hý deur wie en in wie ons gewas (gedoop) word ter vergiffenis én afwassing van die sonde.
Daarom beskryf die Skrif die gawe van die Gees as ʼn doop (Matt. 3:11; Hand. 1:5; Hand. 11:16; 1 Kor. 12:13). Dit is ʼn doop, omdat die Gees ʼn belangrike funksie in die reiniging van die sondehet. Dit is Hý wat die bloed van Christus aan ons gee vir ons regverdigmaking én ons heiligmaking, deur Homself aan ons te gee. Daarom sê ons dat wanneer ons verlos word, ons in die bloed én in, of met, die Gees gedoop word.
Dit het baie en belangrike gevolge. Om een ding te noem, is dit die antwoord op die dwaling van Pinksterkerke wat leer dat die doop in die Gees bykomstig tot die verlossing is en daarop volg. Die doop in, of met, die Gees is ewenwel niks anders nie as die verlossing. Hieroor is die Skrif duidelik (Hand. 2:38, 39; Rom. 5:1-5; Rom. 8:9; 1 Kor. 12:13, saam met Joh. 7:37; Gal. 3:2; Ef. 1:13, 14).
Dit het ook noodsaaklike gevolge wat die manier waarop gedoop word, betref. Waar die doopwater die bloed én die Gees van Christus voorstel, is dit opvallend dat die Skrif sonder uitsondering die toediening van albei as besprinkel of uitstort beskryf. Ons sal dit onder die opskrif “Die manier van doop” verduidelik. Die punt is hier dat die doop die afwassing en verwydering van die sondes deur die bloed en Gees van Jesus Christus pragtig simboliseer en só laat sien hoe ons deel kry aan die verbond van God: deur genade alleen en deur Christus alleen.