Die Nuwe Verbond
Die Nuwe Verbond
In Hebreërs 8:6-13 word die Nuwe Testament die nuwe verbond genoem. Die woord “testament” is dieselfde woord as “verbond.” Volgens Hebreërs 8 vervang die nuwe verbond die oue.
Uit Hebreërs 8:6-13 lei baie mense af dat daar wesensverskille tussen die ou en die nuwe is — dat hulle verskillende verbonde is. Baptiste kom tot dié gevolgtrekking ter verdediging van geloofsdoop, en sê dat die verbond wat deur besnydenis beseël is, nie dieselfde verbond is as die verbond wat met die doop beseël word nie. Premillenialiste kom tot ʼn soortgelyke gevolgtrekking ter verdediging van hulle geloof dat daar nog vir Israel ʼn spesiale aardse toekoms is (een verbondsbelofte vir Israel, ʼn ander vir die Nuwe Testamentiese gelowiges).
Ons glo dat die nuwe verbond die oue vervang bloot as ʼn nuwer en voller openbaring van die een ewige verbond van God. Die verskille is net verskille in administrasie (of bediening). Hebreërs 8 maak dit duidelik.
Eerstens gebruik vers 10 die gebruiklike verbondsformule — "Ek sal vir hulle ʼn God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees” — om aan te toon dat die nuwe verbond nie in wese van die oue verskil nie. Die verhoudinge is dieselfde, in die ou én die nuwe verbond.
Tweedens word dit deur die verwysing na “my wette” in vers 10 bevestig. In die nuwe verbond word die wet nie verwyder nie, maar op ander tafels herskryf: die vleestafels van die hart (2 Kor. 3:3). Wet en verbond gaan steeds saam. In der waarheid is die gee van die wet, alhoewel nou anders geskryf, in Deuteronomium 4:13 én in Hebreërs 8:10, ook die instelling of aankondiging van die verbond.
Derdens is, volgens Hebreërs 8:11, die wesentlike van die ou én die nuwe verbond, om God te ken, alhoewel daar nou ʼn verskil is in hoe ons God ken. Hierdie vers praat van die Nuwe Testament as ʼn tyd van verwerkliking en vervulling. Dit is daarom ʼn tyd waarin God se volk hom direk ken, en nie meer deur die bemiddeling van priesters en Leviete nie (Mal. 2:5-7).
Die nuwe verbond is daarom nie iets anders nie, maar nuut op dieselfde wyse as wat die hemel en die aarde nuut sal wees wanneer Christus weer kom. Die hemel en aarde word nie tot niet gemaak nie, maar nuutgemaak.
Die verbygaan van die ou verbond bring dus nie ʼn geheel nuwe verbond nie, maar ʼn beter openbaring van daardie één verbond, waarin God die God is van sy volk en Hy hulle as sy eie neem. Dié beter openbaring is die laaste en volste openbaring van die verbond, deur die koms van die dinge wat belowe is en nie deur die afbeeldings en tipes van die ou verbond nie. Die wet behoort tot die verbond, nie as ʼn verknegting nie, maar asʼn hulp om ons te toon hoe ons die grote God van ons verlossing des te beter in woord en daad kan verheerlik en kan dank.
Die nuwe verbond is “beter”, soos dit in Hebreërs 8:6 staan, en heerliker, want dit bring aan ons Christus, in plaas van net die tipes van Christus. Net die finale vervulling van die verbond sal heerliker wees.