Die Antitese
Die Antitese
Gereformeerde teoloë skryf nou en dan oor die “antitese”. Hulle verwys dan na die verskil en teenstelling tussen die lig en die duisternis, die gelowige en ongelowige, kerk en wêreld.
Dié antitese vloei uit die saligmakende genade van God voort en in die Skrif word dikwels daarna verwys, hoewel die woord nie as sodanig gebruik word nie. Die duidelikste verwysing na die antitese is 2 Kor. 6:14-18. Die Woord beskryf nie net die antitese daar nie, maar sê ook wat dit vir ons in praktyk beteken. In dié verse word die antitese as die teenstelling tussen geregtigheid en ongeregtigheid, lig en duisternis, Christus en Bélial, geloof en ongeloof, die tempel van God en van die afgode, beskryf. In praktyk beteken dit vir ons: “gaan onder hulle uit en sonder julle af” (vs. 17).
Dit is ʼn geestelike afsondering. Ons word nie geroep om fisies uit die wêreld uit te gaan nie (1 Kor. 5:10). Dié fout word gemaak deur diegene wat monnike of nonne word of dit verbied om te trou of sekere kosse te eet. Die antitese beteken nie dat ons ons fisies van die wêreld rondom ons en van die dinge van die wêreld moet afskei nie.
Wat dit wél beteken, is dat ons nie aan die werke van die bose deel moet hê nie (Ef. 5:11, 12) en selfs dat ons nie met die bose vriende moet wees en nie met hulle gemeenskap moet hou nie (2 Kor. 6:17; Jak. 4:4). Ons moet in hulle geselskap wees omdat ons met hulle sake moet doen en in die wêreld moet lewe (1 Kor. 5:9-11), maar ook dan moet ons afgesonder wees deur heilig te wees.
Hierin vind ons een van ons besware teen die leer van algemene genade. Die gedagte van ʼn algemene genade van God vir die bose en die verworpenes gee voor dat daar ʼn soort gemeenskaplikheid tussen die volk van God en die wêreld is. Daarom sou die gelowiges dus, ten minste in sekere opsigte, gemene saak met die bose kon maak, gemeenskap met hulle kon hou en met hulle vriende kon maak. Hulle het per slot van rekening genade in gemeen, so word geredeneer.
Die Bybel maak dit baie duidelik dat die veiligheid en welsyn van die kerk en die volk van God op die onderhouding van hierdie afsondering rus. Dit was reeds in die Ou Testament waar: “So het Israel dan veilig gaan woon, die bron van Jakob in afsondering” (Deut. 33:28). In die Nuwe Testament bly dit waar. Die belofte van God — “Ek sal vir julle ʼn Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees” — is vir hulle wat God se bevel gehoorsaam: “gaan onder hulle uit en sonder julle af” (2 Kor. 6:17, 18). Hoe het ons nie nodig om dit vandag te hoor nie!
Ons moet elkeen afgesonder wees. Ter wille van God en ter wille van die kerk moet ons afgesonder wees. As ons nie afgesonder is nie, word God nie deur ons verheerlik nie en word die kerk soos die wêreld.