Die Amp van Ouderling
Die Amp van Ouderling
Die Skrif gebruik twee verskillende woorde vir ouderling. Een woord, wat met “ouderling” vertaal word (Hand. 14:23; Hand. 15:2, 4, 6 e.v.; 1Tim. 5: 17, 19; Tit. 1:5; Jak. 5:14; 1 Pet. 5:1) is die Griekse woord presbuteros wat “ ʼn bejaarde” beteken. Die ander woord (Grieks: episkopos – Nic Grobler) word met “opsiener”1 vertaal (Hand. 20:28; Filip. 1:1; 1 Tim. 3:1, 2; Tit. 1:7) en verwys na ʼn persoon wat gesag het en oor ander regeer.
Die Skrif stel dit duidelik dat dié twee Griekse woorde na dieselfde amp verwys. In Handelinge 20 noem Paulus die ouderlinge van die kerk in Éfese “opsieners” (vs. 28), wat elders (bv. 1 Tim. 3:1, 2 in die KJV) ook met “biskop” vertaal word. In Titus 1:5-7 gebruik Paulus “ouderling” én “opsiener” (of dan “biskop”) vir dieselfde persone. Die leer van Rome en die Episkopale, dat die amp van biskop ʼn ander, hoër, amp as die ander ampte is, is hiermee in stryd.
Die Skrif onderskei wel tussen regeerouderlinge (1 Tim. 3:4, 5; 1 Tim. 5:17) en leerouderlinge (1 Pet. 5:1). Dit plaas ewenwel nie die een amp bo die ander nie. Daar is, soos uit die genoemde gedeeltes blyk, nie eers ʼn volstrekte onderskeid tussen dié twee ampte nie. Regeerouderlinge moet ook bevoeg wees om te leer (1 Tim. 3:2) en leerouderlinge, “die wat arbei in woord en leer”, regeer ook (1 Tim. 5:17).
Die verskil is dus in funksie eerder as in iets anders. Leerouderlinge arbei, anders as die ander, in die besonder, maar nie uitsluitlik nie, in woord en leer. In Efesiërs 4:11 word na hierdie ouderlinge ook verwys as herders en leraars.
Ons hou ons nou met die amp van leerouderling besig en stip die volgende viertal punte in dié verband aan. Hierdie punte is belangrik as die amp van ouderling ʼn seën, en nie vloek nie, in die kerk van God wil wees.
Eerstens moet daar ʼn aantal ouderlinge wees. Die Skrif praat nêrens van ʼn ouderling wat alleen regeer nie, hetsy hy ʼn predikant is al dan nie. ʼn Alleenregeerder is tirannie wat nie met die Woord van God in Spreuke 11:14, Spreuke 15:22 en Spreuke 24:6 ooreenstem nie.
Tweedens is die ouderlinge dienaars van die volk van God (Matt. 23:11; 1 Kor. 9:19; 2 Kor. 4:5). Dit is in besonder duidelik in Kolossense 4:17 wanneer Paulus aan die kerk sê om hulle bedienaar te maan om ag te gee op sy bediening en dit te vervul. As ouderlinge hulleself as dienaars beskou word tirannie en baasspelery vermy.
Derdens beteken die regering van die ouderlinge dat hulle oor alle aspekte van die kerklike lewe regeer — ook die prediking en die gedrag van ander ampsdraers en die leraars (Hand. 20:28-31). Dit is die plig van elke ouderling om “huurlinge” en “wolwe” uit die kerk te weer. In die kerk volg niemand sy eie kop nie.
Vierdens is die gesag van die ouderlinge om in die kerk te regeer, deur Christus aan hulle opgedra (Hand. 20:28), behoort aan Christus (Matt. 28:18) en moet in gehoorsaamheid aan Hom uitgeoefen word (1 Pet. 5:4). In praktyk beteken dit dat die Woord van God in die Skrif, hulle gesag is. Daarmee moet hulle regeer, dit na die lidmate bring, daarmee vermaan en dit alleen, en nie hulle eie bedenkinge nie, leer. Sulke ouderlinge is ʼn seën in die kerk van Christus.