Beperkte versoening
Beperkte versoening
Calviniste glo aan ʼn beperkte versoening, dit wil sê dat Christus nie vir alle mense gesterf het nie, maar net vir die uitverkorenes. Met beperkte versoening word egter nie bedoel dat die waarde of die krag van die dood van Christus beperk is nie, maar dat Hy vir ʼn “beperkte” aantal mense gesterf het.
Dit is dalk beter om nie van beperkte versoening te praat nie, maar eerder van partikuliere versoening. Die woord partikulier1 dui dan op die Bybelse waarheid dat Christus net vir sommige, partikuliere, mense gesterf het en nie vir almal sonder uitsondering nie.
Ons glo aan partikuliere of beperkte versoening op grond van die baie Skrifgedeeltes wat leer dat Christus nie vir almal nie, maar vir baie gesterf het (Jes. 53:11; Matt. 20:28; Matt. 26:28; Heb. 9:28); dit wil sê dat Hy gesterf het vir sy volk (Jes. 53:8; Matt. 1:21), vir sy skape (Joh. 10:14, 15, 26-28) en vir die kerk (Hand. 20:28).
Ons glo nie dat die Skrifgedeeltes wat van “almal” of van “die hele wêreld” praat, deur dié wat van ʼn beperkte aantal praat, enigsins weerspreek word nie. Die Woord van God kan homself nie weerspreek nie. Dié Skrifgedeeltes leer dat Christus vir alle mense sonder onderskeid, en nie vir almal sonder uitsondering nie, gesterf het. Die gedeeltes leer dus dat Christus vir alle soorte mense (1 Tim. 2:1-6), vir almal wat in Hom is (1 Kor. 15:22) of vir die “wêreld” van sy eie volk, vir sy uitverkorenes uit elke nasie2 (vergelyk hierby Joh. 3:16; Joh. 17:9) gesterf het.
Net deur beperkte versoening word Christus as Saligmaker verhef. Die idee dat Christus vir alle mense gesterf het, maar dat baie steeds nie gered is nie, is ʼn vervalsing van die verlossingswerk van Christus. Dié leer sê in werklikheid dat Christus deur sy lyde en sterwe nie genoeg gedoen het vir ons verlossing nie, en dat iets meer nodig is (gewoonlik ʼn keuse van die mens in sy vrye wil). Dit sê dat Christus vir almal gesterf het, maar dat sommiges steeds hel toe gaan. As dit waar sou wees, is die bloed van Christus vir sommiges tevergeefs gestort en was sy dood vir hulle nutteloos. Dan was sy dood nie werklik ʼn losprys, voldoening, of ʼn betaling vir die sonde nie, en het dit ons nie met God versoen nie.
As Christus vir alle mense gesterf het en sommige tog nie gered is nie, en as die verskil by ʼn keuse in hulle vrye wil lê, dan is dit nie Christus se dood nie, maar ons keuse wat werklik vir ons saligheid saak maak. Dan hang ons saligheid nie van Hom af nie, maar van ons self. Mag God verhoed dat ons so iets van die dood van Christus en van ons self sou dink.
Die leer dat Christus vir sy uitverkore volk, vir dié wat die Vader Hom gegee het, gesterf het, beteken dat Hy deur sy lyde en dood álles wat vir hulle saligheid nodig is, gedoen het en dat niks méér nodig is nie. Dan is sy dood werklik boetedoening, volle betaling vir sonde, losprys en voldoening. Dan verlos Hy hulle vir wie Hy gesterf het, werklik en volkome.
Beperkte versoening wil sê dat Christus nie net saligheid beskikbaar gemaak het nie. Hy is die Leidsman en Verlosser. Dank sy God!