1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Ander name vir die Kerk

kerkdeur

Ons het reeds gesien dat die Skrif baie name en beskrywings van die kerk gebruik om ons te leer wat die kerk is en om ons te leer om die kerk lief te hê. Die getal name en beskrywings wys hoe belangrik die kerk in God se oë is, en hoe belangrik dit in ons oë behoort te wees.

In Hebreërs 12:22-24 word ʼn hele lys name genoem. In dié gedeelte word die kerk die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem, die feestelike vergadering en gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, genoem. Die kerk is ook ʼn heilige volk van die Nuwe Testament (1Pet. 2:9).

Hieruit leer ons dat Israel en die kerk één is. Israel is die kerk van die Ou Testament en die kerk is die Israel van die Nuwe Testament. Die name wat gebruik word om die hoofstad van Israel, wat God as sy eie gekies het en waar Hy in die tempel sy woning gemaak het (Ps. 68:16; Ps. 132:13, 14) is ook name wat in die Nuwe Testament vir die kerk gebruik word. Dit is die waarheid van Openbaring 21, waar ʼn engel die stad van God, die nuwe Jerusalem aan Johannes toon en dit die bruid, die vrou van die Lam, noem (vs. 9, 10e.v.; lees ook Ef. 5:32).

Hierdie is ʼn kumulatiewe getuienis. Die kerk die loot van die wynstok (lees ook Joh. 15:1-6 en Ps. 80:8e.v.), die berg Sion, Jerusalem en die stad van die lewende God is, laat geen twyfel dat die kerk van die Nuwe Testament alles is wat Israel in die Ou Testament was.

Voordat ons meer hieroor sê, wil ons eers op die betekenis van hierdie name wys. ʼn Stad, volk of koninkryk wys op ʼn geestelike gemenebes met ʼn koning, wette, gewoontes en taal van sy eie. Die lede van die kerk is burgers van ʼn koninkryk met al die regte en voorregte van burgers. In dié koninkryk word hulle teen hulle vyande beskerm en goed regeer deur die Koning van die konings.

Die kerk is en was ewenwel ʼn geestelike koninkryk, volk en stad waarvan die mure die Heil is en die poorte lof (Jes. 60:18). Die “sleutels” is die prediking van die evangelie en die toepassing van Christelike dissipline (Mat. 16:19; Mat. 18:15-20). Die fondament van die kerk is die apostoliese, profetiese leer: niks anders nie as die Woord van God.

Die beskrywing van die kerk as die verskanste berg van Sion wys verder daarop dat, onder die heerskappy van die Koning van die kerk, dit onoorwinlik sterk is (Ps. 48:13-15). Hoe kan dit anders wees, met sulke mure, poorte en sleutels? Geen wonder dat die poorte van die doderyk dit nie sal oorweldig nie (Matt. 16:18).

Dit kan egter net deur die geloof gesien word. In die oë van die wêreld is die kerk klein en ʼn veragte oorblyfsel, ʼn klein kuddetjie (Luk. 12:32), ʼn skermpie in ʼn wingerd, soos ʼn slaapplekkie in ʼn komkommertuin, soos ʼn beleërde stad (Jes. 1:8). Net deur geloof is dit duidelik dat die kerk “lieflik soos Jerusalem” en “verskriklik soos slagordes met vaandels” is (Hoogl. 6:4, 10). Laat ons dan in die geloof om Sion heen trek, sy torings tel, let op sy skanse en wandel deur sy paleise. Dit sal altyd duidelik wees dat God sy God is (Ps. 48:13-15).