Bron: De Wekker. 2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Kindermishandeling? Oor lyfstraf en opvoeding vanuit 'n Bybelse perspektief

kindermishandeling

Kindermishandeling is wêreldwyd ʼn ernstige probleem. Dit word op verskillende maniere aangespreek, ook deur wetgewers in verskeie lande. Dit gaan sover dat daar ʼn verbod geplaas word op lyfstraf in skole en dat in sommige lande selfs ook ʼn verbod op lyfstraf deur ouers oorweeg word.

Die oorsake van mishandeling🔗

Die vraag ontstaan waarom kindermishandeling so toeneem, en watter kinders word mishandel? Sou dit wees omdat soveel huwelike misluk, waarby die kinders die slagoffers word? Of omdat soveel ouers albei buite die huis werk en daar te min aandag aan opvoeding gegee word? Is dit kinders in gesinne waar daar min of geen onderlinge liefde is?

Die Bybel🔗

Wat sê die Woord van God oor hierdie dinge? Wat sê God in sy Woord oor die huwelik; oor die onderlinge liefde; oor die opvoeding van kinders?

Oor die huwelik is die Bybel duidelik. Die vergelyking tussen Christus en die gemeente en man en vrou is duidelik. Lees maar Efésiërs 5. Met die regte toepassing daarvan word huweliksprobleme uit die weg geruim. Ook vir die kinders is dit heilsaam!

Ook as dit oor die onderlinge liefde gaan, is Efésiërs 5 veelseggend. Lees ook 1 Korinthiërs 13, maar doen asseblief goeie eksegese en moenie vergeet om dit toe te pas nie – vir 1 Korinthiërs 13:7a, sien hieronder.

Die liefde bedek alles, 1 Korinthiërs 13:7a🔗

Oppervlakkig beskou, kan ons miskien dink dat die woorde van hierdie teks iets beteken soos: iets met die mantel van die liefde toemaak; iets bedek sonder om die probleem waaroor onenigheid bestaan, met mekaar uit te praat. Maar dit is juis wat die woorde nié beteken nie. Dit gaan veel meer daaroor dat probleme wél uitgespreek word. Die Griekse woord wat met ‘bedek’ vertaal is, het meer te doen met die woord ‘dak’. Mens sou die teks soos volg kan vertaal: die liefde is ʼn ‘dak’ bo alles. In ʼn huis(gesin) gebeur daar baie dinge wat soms baie jammer is. Maar waar die liefde (van God) woon, daar waar die liefde ‘alles’ – ook die probleme – oorkoepel, daar waai die dak nie van die huis af nie. Inteendeel, onder die dak van die liefde word alles uitgepraat. Die dakteëls kan soms ratel, maar die dak bly staan. En dit deur die liefde!

teregwys in liefde

Ten slotte lees ons in die Bybel dat die verhouding tussen God, die Vader en sy kinders, vergelyk word met die verhouding tussen ʼn aardse vader en sy kinders. Hoe gaan God met sy kinders om? Dit staan voorop dat God die Vader in liefde met sy kinders omgaan. Ons moet liefde ewewel nie met lieftalligheid verwar nie. Die liefde van God word soms ook openbaar in, wat die Bybel tugtiging noem. In Hebreërs 12:5-13 word duidelik hieroor gepraat. En in dieselfde gedeelte kom dit duidelik na vore dat hy of sy wat nie in staat is om tugtiging as ‘liefde’ van die Vader te verstaan nie, die Vader nie ken nie; nie besef dat die hemelse Vader Hom teenoor hom of haar gedra soos ʼn vader wat met bewoënheid handel nie. Vergelyk hierdie uitdrukking ook met Spreuke 3:12. Die woord wat met ‘tugtig’ vertaal is, kan weliswaar ook met ‘onderrig’ vertaal word, maar dit weerspieël tog dat daar ʼn mate van fermheid by betrokke is.

Só moet ook ʼn aardse vader (en moeder) met sy (haar) kind omgaan (of liewer: so moet die aardse vader én moeder, saam in eensgesindheid, ook met hulle kinders omgaan). Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 39 werp verder lig hierop: “Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp...”.

Die opvoeding moet in liefde (liefde tot God, liefde tot mekaar as ouers, liefde tot die kinders) plaasvind, en waar dit nodig is met fermheid. Ferm wat betref die gewone dinge van die lewe, maar ook as dit gaan oor opvoeding in die diens aan die HERE. Ons het nie as ouers die dinge in ons hande nie, maar ons het ons verantwoordelikheid. Soms sal dit geseënd wees as ouers in opregte betrokkenheid hulle kind te einde laaste ook ʼn slag ʼn oorveeg of  ʼn raps op die agterstewe gee. Onlangs het ek die verhaal gehoor van ʼn vader wat sy seun in opregte (Christelike) kwaadheid/bewoënheid oor die tafel laat buk het: dit het die jongman tot ʼn ewige seën geword.