Twee bome
Twee bome
Toe God die tuin van Eden as Adam en Eva se woonplek geskape het, het Hy twee besondere bome, die boom van die lewe en die boom van die kennis van goed en kwaad, daarin laat groei. Hierdie bome was in die middel van die tuin (Gen. 2:9) wat aantoon hoe belangrik hulle was.
Dit is moeilik om alle vrae oor die bome te beantwoord, want min inligting word oor hulle gegee. Daar is byvoorbeeld die vraag of die vrugte van die boom van die lewe die krag gehad het om aan diegene wat dit sou eet, lewe te gee. Ander vrae volg daarop: As die vrugte sulke krag sou hê, het Adam en Eva net een maal daarvan geëet, of moes hulle herhaaldelik daarvan eet om ʼn eindelose lewe te hê? As die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad self Adam en Eva nie, soos deur gif, gedood het nie (Gen. 3:6), lyk dit asof die boom van die lewe ook nie outomaties lewe sou gee nie. Tog lyk dit asof vers 22 iets anders wil sê. As die boom van die lewe wel die krag gehad het om ʼn lewe sonder einde te onderhou of dit aan Adam te gee, sou dit baie van die boom van kennis van goed en kwaad, wat nie in sigself die krag gehad het om lewe te vernietig nie, verskil.
Ons kan miskien nie al die vrae beantwoord nie maar een ding blyk duidelik te wees en dit is dat die twee bome in die eerste paradys die antitese vir Adam verteenwoordig. Hierdie antitese is die skeiding en teenstelling tussen God en Satan, tussen goed en kwaad, tussen die kerk en die wêreld en tussen gelowige en ongelowige.
Wat die volk van God betref is hulle roeping met betrekking tot die antitese om ‘ja’ te sê vir God en die wet van God, en ʼnee’ vir die duiwel en die sonde. Dit is die wese van hulle geestelike skeiding van die wêreld van sonde waarin hulle lewe (2 Kor. 6:14-18). Dit altyd die mens se roeping teenoor God.
Die twee bome in die tuin het daardie selfde roeping voor Adam en Eva gestel. Deur van die boom van die lewe te eet (die hoe en wanneer daarvan maak geen verskil nie), sou hulle vir God ‘ja’ sê. Deur nie van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet nie sou hulle vir die duiwel, vir die sonde en vir ongehoorsaamheid ʼnee’ sê. Daarom mog hulle nie geëet het nie. Daar was geen ander rede as God se bevel om nie van die boom van kennis van goed en kwaad te eet nie — dit was “goed om van te eet” en “ ʼn lus vir die oë”.
Adam en Eva het geëet, hulle was ontrou en het in sonde geval. Ons gaan in hulle sonde voort telkens as ons vir die duiwel ‘ja’ sê, en ʼnee’ vir God en die wet van God. Hulle roeping, wat deur die twee bome voorgestel is, het ewewel nooit verander nie. Omdat die roeping nie verander het nie, is verlossing net moontlik deur ons Here Jesus Christus, wie se lewe ʼn groot ‘ja’ vir God en die wet van God, en ʼn ewe groot ʼnee’ vir alle sonde en die duiwel was, wat ons so duidelik by sy versoeking in die woestyn sien. Dank God vir die tweede Adam en vir wat Hy gedoen het.