Onvoorwaardelike uitverkiesing
Onvoorwaardelike uitverkiesing
Nadat ons nou oor predestinasie geskryf het, wil ons graag meer oor die wonderlike Bybelse leer van die uitverkiesing skryf. Uitverkiesing is die mooi kant van die andersins vreeswekkende leer van predestinasie.
Die Bybel praat só dikwels daarvan dat nie moontlik is om te ontken dat die Bybel die uitverkiesing leer nie. Die vraag is nie of daar so iets soos uitverkiesing is nie, maar wat dit is en wanneer dit plaasvind.
Ons glo dat die uitverkiesing die soewereine keuse van God is van sommiges tot saligheid en die ewige lewe is, en dat God hierdie keuse in ewigheid gemaak het. Hy kies nie nou, op grond van wat mense doen nie, maar Hy het hulle verkies “voor die grondlegging van die wêreld” (Rom. 9:10-13; Ef. 1:3-6)
Om te kan insien dat hierdie leer van die uitverkiesing nie iets is wat gehaat en vermy moet word nie, moet ons besef dat uitverkiesing nie net ʼn keuse is wat God maak nie, maar ʼn openbaring van sy ewige en onveranderlike liefde. Die Bybel sê nie net dat God sommiges gekies het nie, maar ook waarom Hy hulle gekies het. Hiermee gee die Skrif ons as’t ware ʼn kykie in die hart van God. God kies sommige mense eenvoudig omdat Hy hulle liefhet.
Hierdie liefde van God is ewig. Hy het sy volk altyd liefgehad.
Die liefde van God is onvoorwaardelik. Dit is nie ʼn reaksie op wat die mens doen nie. God het hulle nie lief omdat hulle Hom eerste liefgehad het nie. Dit was Hy wat eerste liefgehad het (1 Joh. 4:19), en Hy het van ewigheid liefgehad.
Hierdie liefde is soewerein en kragtig. Dit is nie onvervuld nie, maar verwerf deur die dood van Christus die volkome verlossing van almal vir wie Christus gesterf het (Joh. 3:16).
Ons glo dat die woorde vantevore geken in die Skrif na hierdie liefde verwys. Dit verwys nie na blote voorkennis nie, maar na die liefde van God voordat daar tyd was. Die woord ken, wat in vantevore geken voorkom, word elders in die Skrif gebruik om intieme liefde, soos die liefde van ʼn man vir sy vrou en van ʼn vrou vir haar man, te beskryf (Gen. 4:1, 25).
Dit is hoe God sy volk “vooraf geken” het (Gen. 18:19). Hy weet nie alleen wie ons is nie, maar Hy het ons van ewigheid af in Jesus Christus lief met ʼn diep, teer en intieme liefde.
Wat ʼn grond tot dankbaarheid! In die skadu van die kruis en in die lig van wat Hy vir verlore sondaars gedoen het, is die liefde van God verbasend, wonderlik. As ons onthou dat God die wat aan Hom behoort ewig, onveranderlik en onvoorwaardelik liefhet is die wonder des te groter. Dit is inderdaad ʼn liefde wat in die onmeetlike hoogte, lengte, breedte en diepte daarvan “die kennis oortref” (Ef. 3:17-19).