God se onvoorwaardelike besluite
God se onvoorwaardelike besluite
Wanneer ons van God se besluite, en in besonder van predestinasie, praat, is dit belangrik dat ons besef dat sy besluite, ook dié van uitverkiesing en verwerping, onvoorwaardelik is. Die tweede van die vyf punte van Calvinisme is “onvoorwaardelike uitverkiesing”.
Wat beteken dit?
Dit beteken dat God nie in sy besluite afhanklik is van enige skepsel nie: sy wil — en nie dié van die mens nie — is oppermagtig. Die besluite van God is, soos ons gesien het, sy wil en sy wil is sy besluit oor alle dinge. Dat God se besluite onvoorwaardelik is, beteken dat hulle voor alle besluite van mense en engele is en dat Hy nie wag op die besluite van die mens nie.
In die besonder beteken die onvoorwaardelikheid van God se besluite dat Hy, in alles wat Hy besluit het nie op mense wag om hulle besluite te neem nie, omdat Hy nie daarmee kan of sal inmeng nie. Om dit eenvoudig te stel: die mens se besluit is nie die rede vir God se besluit nie, maar God se besluit is die rede vir die mens se besluit. As dit nie so was nie, sou die mens, en nie God nie, soewerein wees, en die mens se wil en nie dié van God nie, oppermagtig.
Dat God onvoorwaardelik besluit word deur hulle wat aan die vrye wil van die mens glo, ontken. Hulle dring daarop aan dat vir die saligheid, dit die mens se besluit is, en nie dié van God nie, wat saak maak. God kan of wil niks doen, so sê hulle, voordat die mens sy besluit vir of teen Christus en die evangelie gemaak het nie. Dit is ʼn blatante ontkenning van die soewereiniteit van God, en kan op geen manier met daardie leer versoen word nie. Dit maak God — die lewende God — afhanklik van sy skepsele.
Uitverkiesing word op dié manier die reaksie van God, in die tyd, op die besluite van die mens. Hierdie vals leer sê dat God húlle kies wat Hom kies en dat Hy húlle liefhet wat Hom liefhet. Dit stry nie alleen teen die Skrif, wat leer dat ons Hom liefhet omdat hy ons eerste liefgehad het nie, maar dit ontken ook dat uitverkiesing ewig en onvoorwaardelik is, en dat die God wat uitverkies, soewerein is. Ingevolge so ʼn leer, verskil God min van die gode van die heidene wat, soos hulle makers, net op die doen en late van die mens kan reageer.
Ander, wat die ewigheid van die uitverkiesing besef, konsentreer op God se voorkennis en sê dat God in die tyd vooruit gekyk het, mense vooruit geken en vooruit gesien het wie sou glo en hulle toe gekies het op grond van wat hulle sou doen. So ʼn uitverkiesing maak God ook van die mens afhanklik en maak van Hom niks minder as ʼn fortuinverteller nie.
Die skrif leer dat God se besluite onvoorwaardelik is. Romeine 9:15, 16 sê dat God barmhartig is oor wie Hy wil, nie oor hulle wat sy barmhartigheid aanvaar nie en daarom dat saligheid “nie afhang van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is”. Efesiërs 1:5 leer dat God mense uitverkies alleen na die welbehae van sy wil — in eenvoudige taal gestel: bloot omdat Hy hulle wou hê, nie omdat hulle Hom wou hê nie.
Hoe dankbaar moet ons nie wees dat God se besluite soewerein en onvoorwaardelik is, en nie afhanklik van ons swak en veranderende wil nie.