2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die duiwels

Net soveel vrae oor duiwels kan nie uit die Skrif beantwoord word nie as wat daar sulke vrae oor die engele is. Wat vir ons nodig is om te weet, word in die Skrif gegee.

Ons weet dat die duiwels gevalle engele is. In baie Skrifgedeeltes word satan en sy demone nog engele genoem (2 Kor. 11:14; Judas 6; Openb. 12:7-9). In 2 Petrus 2:4 en Judas 6 word daarvan gepraat dat hulle deur hulle sonde “hul eie beginsel nie bewaar het nie”, ʼn duidelike verwysing na hulle val. Volgens Jesaja 14:4-23 was Satan se sonde hoogmoed en rebellie teen God.

Die verse in Jesaja is ʼn profesie teen die koning van Babel, maar dit word gewoonlik ook aanvaar as ʼn verwysing na Satan, omdat hy die mag agter die koning van Babel was en ook omdat die grootste deel van die profesie in Jesaja duideliker op Satan toegepas kan word as op die koning van Babel. As hierdie verklaring van die gedeelte korrek is, gee dit ook vir ons die naam wat Satan voor sy val gehad het: “Môrester,1seun van die dageraad”.

Ons weet dat Satan se val vóór die val van die mens plaasgevind het, want Satan was die vernaamste instrument in die val van die mens (Joh. 8:44). Openbaring 12:4, wat gewoonlik verstaan word as ʼn verwysing na die val van Satan en sy engele, dui daarop dat baie engele saam met hom geval het. Omdat so baie getalle in die boek Openbaring simboliese betekenis het, is dit moeilik om te sê of die vers letterlik bedoel dat ʼn derde van die engele saam met Satan geval het.

 Ons weet ook dat die duiwels groot mag het. Satan word die owerste en die god van hierdie wêreld genoem (Joh. 12:31; 2 Kor. 4:4). Sy mag is so groot dat ons hom nie uit ons eie krag kan weerstaan nie (Ef. 6:11e.v). In 1 Petrus 5:8 word hy vergelyk met ʼn brullende leeu wat rondloop en soek wie hy kan verslind.

Die krag van Satan is in besonder die krag van die leuen, van misleiding en van versoeking (Joh. 8:44; Openb. 13:14; Matt. 4:1e.v.). Met hierdie middele  hou hy die kinders van hierdie wêreld in sy mag gevange (2 Kor. 4:4) en is hy die groot vyand van die gelowiges en die kerk. Sy einste name verwys na hierdie mag. Satan beteken “teenstander” of “aanklaer” en duiwel beteken “lasteraar. Vanweë sy leuens en lastering staan hy ook as Apóllion, “verdelger” bekend (Openb. 9:11). Deur sy leuens het hy ons eerste voorouers vermoor (Joh. 8:44) en gaan hy vandag daarmee voort om mans en vroue te vermoor.

Vir Christene is dit belangrik om te besef dat Satan, ten spyte van sy mag, deur genade, weerstaan kan en moet word, en dan sal wegvlug. Dit word in Jakobus 4:7 aan ons geleer. Uit die versoeking van Jesus leer ons baie oor hoe om hom te weerstaan: deur die Woord van God te ken en te bely, en deur gebed en vas (lees ook vers 8).

Ons moet ook weet dat, alhoewel Satan groot mag besit, hy onder die soewereine bevel en beheer van God staan (Matt. 12:29; Openb. 20:2) en dat hy saam met al die ander werkers van ongeregtigheid in die ewige vuur van die hel gewerp sal word (Openb. 20:10). Luther het eens in die lied ʼn Vaste burg is onse God só daaroor geskryf: “Al veg hy met sy lis, die vors van duisternis, ons vrees geen dood of hel . . . “ .2

Wat ons van die duiwels weet, is aan ons gegee sodat ons, geklee met die wapenrusting van God,  teen hulle vurige pyle vas kan staan.

Endnotes🔗

  1. ^ Die KJV vertaal die Hebreeuse woord hêylêl  met “Lucifer”, die Latynse woord vir “môrester”, wat in die Vulgaat gebruik word. — NG. 
  2. ^ Lied 476, vers 3,  Liedboek van die kerk. NG Kerk Uitgewers, Wellington, 2007.