Wat die Hulpbehoewendes nodig het
Wat die Hulpbehoewendes nodig het
Aangesien ons in ʼn gevalle wêreld lewe, het ons sterkste punte die neiging om tot ons swakste punte te lei. Daarom is kerke wat sterk klem lê op Bybelverkondiging minder aktief in genade-bediening. Een stedelike Presbiteriaanse kerk het deelgeneem aan ʼn studie oor genade-bedieninge. Die studie het die kerk geprys vir sy ywerige pogings om hulpbehoewendes en verlorenes te bedien. Maar die studieverslag het ook sy goedkeuring op ʼn treffende wyse uitgespreek: dit het gesê dat die kerk “ernstig toegewy is tot leer en verkondiging van die bybelse leerstellings; dit het egter ook ʼn hart vir genade-bediening.”
So het baie mense geleer om te dink: hulle is verras dat ʼn kerk wat sterk is in Woordverkondiging ook sterk is in goeie dade. Toe die pastoor van hierdie besondere kerk die verslag ontvang, het hy een beduidende wysiging aangevra. Dit moet soos volg verander word: omdat hulle ernstig verbind is tot bybelse leerstellings, daarom het hulle ʼn hart vir genade-bediening. En dit is soos dit in al ons kerke behoort te wees!
Die werklikheid is dat enige kerk wat nalaat om die barmhartige liefde van God te bedien, ook nie van die genadige hart van God kan getuig nie. Jesus het gesê: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Mat. 5:16). Netso is ʼn kerk wat nie veel belangstel in genadewerk nie, nie aangenaam voor God nie. Die Christene wat deur Jesus geprys sal word op die Laaste Dag, is dié vir wie Hy sal sê: “Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gee om te drink; Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het my besoek .... Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Mat. 25:35-40).
Hoe kan kerke hul lidmate lei om die noodsaak van barmhartigheidswerk raak te sien? Wat laat Christene spontaan optree in die soort genade-werk wat Jesus beveel? Ek wil drie maniere noem waarop ons kerke ʼn gees van genade by sy lidmate kan kweek.
Eerstens, ons help genade-bediening aan deur die volle bybelse verlossingsleer te verkondig. Ons lê klem op bekering van sonde, vergewing van sonde, en die hoop op heerlikheid in die hemel. En tog is dit nie net ons siele wat deur God se genade gered word nie. Ons lewenstyle word ook verander. En God se reddende genade sal binne enige gemeenskap – ʼn famile, kerk, stad, of nasie – ʼn toename in genade en regverdigheid tot gevolg hê. Die Ou Testamentiese siening van verlossing is deurspek met hierdie beklemtoning. God het dikwels gekla oor die gebrek aan geregtigheid en genade onder sy volk, en het altyd die Israelite aangespoor: “Hy vra van jou dat jy sal laat reg geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God” (Miga 6:8). Die Nuwe Testament verminder nie hierdie beklemtoning nie, soos maklik gesien kan word uit die gelykenisse van Jesus asook in Paulus se pastorale briewe. As ons dus verlossing verkondig moet ons ook praat van die vrede en liefde wat God aan Sy volk gee, en dat albei weerklank vind in bedieninge van genade en vriendelikheid teenoor ander.
Tweedens kan kerke baie bereik deur binne hul eie gemeentelewe barmhartigheidswerk in te stel. Dit mag gerigte bedieninge aan die omliggende gemeenskappe wees. Ons behoort rond te kyk en te sien waar daar duidelike behoeftes is. As daar dakloses is, behoort die kerk ʼn uitreik te hê gerig op behuising. As daar bejaardes is, mag daar dalk ʼn bediening gerig op besoeke wees. As daar immigrante is kan die kerk uitreik met gasvryheid. Maar bo dit alles is die eenvoudige bewys van gewone barmhartigheid. Sien ons die gestremdes in ons midde raak en maak ons voorsiening daarvoor dat hulle ook kan deelneem? Gee ons om vir die bejaardes se probleem om by die kerk te kom? Is ons betrokke by bediening van mense wat hulself afsonder? Die kerk moet nie ʼn afdeling in die lewe wees waar ons aan genade-bediening deelneem nie. Die kerk moet eerder ʼn gemeenskap wees waar lidmate in die praktyk en gewoontes van barmhartigheidswerk opgelei en geoefen word.
Derdens moet ons altyd onthou dat die grootste genade dié is wat die goeie nuus van Jesus Christus aan verlorenes bring. Spoor ons kerklidmate aan tot persoonlike evangelisasie? Baie mense dink dat die Gereformeerde geloof Christene ontmoedig om die Evangelie te deel. Maar as ons die ryke genade waardeur God ons verlos het, besef, is die natuurlike gevolg dat ons in genade na die wêreld sal kyk. Die Bybel sê dat ons God liefhet omdat God ons eerste liefgehad het, ons vergewe omdat God ons vergewe het, en ons gee vanweë alles wat God aan ons gegee het. As ons die soewereine genade wat ons siele verlos het, verstaan, sal ons ook genadig wees teenoor ander deur lewende en liefdevolle getuies van die Evangelie van Christus te wees.
Ons vind een van die sterkste stellings van God se soewereine verlossing in Jona 2:9 waar die profeet sê: “Hulp kom net van die Here af”. Maar hierdie groot leerstelling gaan saam met die voorafgaande versie waar daar ʼn klaaglied is oor die toestand van die verlorenes: “Dié wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon”. Soos Jona, wat min omgegee het vir die ongelowiges totdat hy sy eie verlossing besef het, is dit eers wanneer ons eers regtig die soewereine genade waardeur ons verlos is, waardeer, dat ons nie meer sal sukkel om genadig teenoor ʼn sterwende wêreld te voel nie.