2 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Galasiers 6:2 - Dra Mekaar se Laste

saamdra

Die probleme van hierdie wêreld is menigvuldig en meedoënloos. Dit is nie maklik om so op die hemel gefokus te wees dat ons nie gesteur word deur die kwellings van die aardse lewe nie. Ons het natuurlik die opdrag om ons gedagtes op die dinge daarbo te rig en nie op aardse dinge nie (Kol. 3:2), maar selfs die mees toegewyde gelowige sal getuig dat aardse kwellings dikwels die hemelse perspektief oorskadu.

Ons bekommer ons. Ons is bedroef. Ons struikel. Ons worstel onder die geswoeg van ons daaglikse werk. Ons voel die skuld van ons gevalle toestand. Ondertussen word ons aangeval met ʼn verskeidenheid van teenspoede. Dis maar net ʼn paar van die wêreld se laste wat dikwels verhoed dat ons gedagtes na die hemel kan reik. 

En tog word ons herhaaldelik beveel om te “strewe na die dinge daarbo” (Kol. 3:1). Ons kry die opdrag: om ons oog “nie op die sigbare dinge te rig nie, maar op die onsigbare” (2 Kor. 4:18). Ons moenie toelaat dat die laste van hierdie lewe ons harte van die hemel aftrek nie.

Hoe is dit moontlik? As die vrag wat ons dra ons neerdruk, en die probleme te veel word vir een mens om te dra, kan geluksalige sentimente maar leeg klink.

Maar dis presies waarom die kerk so belangrik is. Dit is ons plig as gelowiges om mekaar se laste te dra (Gal. 6:2). As iemand steier, help ons om die vrag te stabiliseer. As hy swaar dra, help ons om die vrag te dra. As hy struikel, tel ons hom op. Om medegelowiges te help om die vrag van hul wêreldse moeilikhede te dra is een van die belangrikste praktiese pligte wat elke Christen behoort na te kom. Natuurlik is hierdie begrip in teenstelling met die neigings in ons kultuur, waar die sekulêre gemeenskap tot self-gerigtheid geneig is. Ons geslag het ʼn ongesonde obsessie met vermaak ontwikkel; daar is daagliks ʼn veelvoud van onbeduidende sake wat ons aandag aflei; en ons is geneig om met mekaar om te gaan deur middel van stukkies klank of deur gesiglose media. Ons leef in besige stede en oorbevolkte omgewings, tog is die meeste individue eensamer as ooit.

En laat ons eerlik wees – Gereformeerde en evangeliese kerke boots deesdae dikwels die kultuur na, juis op ʼn tyd waarin dit broodnodig is om die invloed daarvan te stuit en teen te werk. Wanneer kerke poog om groter, spoggeriger en meer tegnologiese georiënteer te word, neig hulle gewoonlik om kouer en onpersoonliker te word. Hedendaagse kerke neig partykeer om selfs die “ek eerste” agenda aan te moedig, eerder as die “mekaar” opdragte van die Bybel. Gevolglik dra ons nie mekaar se laste soos ons behoort te doen nie.

Tog gee Paulus aan hierdie plig ʼn hoë prioriteit. Dit was die middelpunt van sy vermanings aan die kerke in Galasië. Die eerste helfte (of meer) van die boek Galasiërs bestaan uit ʼn verdediging van regverdiging deur die geloof en ʼn reeks argumente teen die valse leringe wat gedreig het om die kerke in die slawerny van die Wet te laat verval. In Galasiërs 5:14 herinner die apostel hulle: “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’.”

iemand ophelp

Hoe kom hierdie liefde die beste tot uiting? “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (Gal. 6:2).

Die eerste en mees uitstaande voorbeeld wat Paulus noem vir die dra van laste behels die las om ʼn ander Christen se sonde te hanteer. “As iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ʼn gees van sagmoedigheid reghelp” (Gal. 6:1). Dit is natuurlik nie ʼn ander benadering vir die stappe van kerkdissipline as wat Jesus uitgestippel het in Matteus 18:15-17 nie. Dit verduidelik bloot hoe daardie handelinge uitgevoer moet word (sag en sagmoedig), en dit onderstreep die ware doelwit (herstel, nie tugtiging of openbare teregwysing nie).

Met ander woorde, die een wat die broer wat sondig probeer reghelp, moet hom nie benader asof hy ʼn meester oor hom is nie, maar sagmoedig – as iemand wat gewillig is om die las te help dra, sodat die een wat gestruikel het, weer op sy voete kan kom.

Galasiërs 6:2 gee dan eenvoudig die onderliggende beginsel as ʼn opdrag (“Dra mekaar se laste”). Dis duidelik dat hierdie opdrag van toepassing is op ʼn verskeidenheid van laste – nie slegs die laste van dié wat in sonde verval nie. As Paulus sê dat die dra van laste “uitvoering van die wet van Christus” is, maak hy dit duidelik dat hy die hele morele wet in gedagte het. Elke daad van meelewing en self-opoffering ter wille van ons broers is ʼn praktiese benadering om die liefde van Christus te vertoon, en daardeur die morele vereistes van Sy wet te vervul.

Maar die apostel het duidelik spirituele, emosionele en temperamentele hindernisse in gedagte – nie slegs fisiese vragte nie. Die laste wat ons vir ander moet help dra sluit in skuldigheid, bekommernis, droefenis, angstigheid, en ander soortgelyke vragte.

Wil jy aan die morele vereistes van die Wet voldoen? Wees lief vir jou buurman. En hoe het jy hom lief? Deur sy laste te dra.

Dit is interessant dat Paulus hierdie tema beklemtoon in ʼn brief wat hy skryf om mense aan te spreek wat besig was om in wettisisme te verval. Dit is asof hy sê: “Wil julle ʼn wet onderhou? Laat dit dan die wet van Christus wees. As jy laste op jou wil neem, laat dit dan wees deur dade van liefde teenoor jou buurman.”

As jy dit getrou doen, sal jou eie las nie so swaar lyk nie. Nog beter, jy sal dit makliker vind om jou fokus hemelwaarts te hou, ongeag die beproewinge wat jy in hierdie lewe beleef.