Om te Weet is om te Lewe Oor die belang van onderrig en kennis in die Christelike geloof
Om te Weet is om te Lewe Oor die belang van onderrig en kennis in die Christelike geloof
Toe ek betrokke geraak het met die onderwys van God se Woord, was ek geneig om aan te neem dat een van Christene se grootste behoeftes is om onderrig te word in die “dieper waarhede” van die evangelie. Dit het nie lank geneem voordat ervaring (van my eie lewe) en waarneming (van ander se lewens) my geleer het hoe ʼn groot fout ek begaan nie. Ek het begin agterkom dat die “dieper waarhede” (as daar so iets is) eintlik maar die ou basiese waarhede van die evangelie is. Dit is nie luukshede nie, maar noodsaaklikhede vir die Christelike lewe. Die nogal ontstellende gedagte het by my begin posvat dat baie van ons wat belydende Christene is, eintlik ontstellend swak is in ons begrip van die basiese raamwerk van die bybelse leerstellings. Ons aanvaar dat ons die elemente van die boodskap van die Nuwe Testament ken, maar somtyds is ons begrip daarvan soos dié van ʼn kind.
By nader ondersoek oor hierdie situasie het ek besef dat dit moontlik nie veel verskil van die omstandighede waarmee die apostel Paulus gekonfronteer is nie. Ek onthou sy herhaaldelike vrae in die eerste brief aan die Korintiërs: “Weet julle nie...”, “Julle weet mos...”, “Julle weet...”, “Besef julle nie...” (Rom. 6:3, 16; 7:1; 1 Cor. 3:16; 5:6; 6:2, 3, 9, 15, 19; 9:13, 24). Oor en oor het hy ʼn beroep gedoen op wat hierdie vroeë Christene moes geweet het, maar vergeet het of nooit geleer het nie.
Een van die belangrikste groeipunte van die Christelike lewe is die oortuiging dat Christelike leerstellings saak maak vir Christelike lewe.
Dit kan dikwels in pastorale werk gesien word. Die meeste van ons is van nature nie studente nie, maar meer “praktiese” tipes, “doeners” eerder as “denkers”. Maar die Skrif en die geskiedenis wys dat oor die algemeen “denkers” die beste “doeners” is. Dink bietjie terug aan die lewensverhale van die mans en vrouens wat die mees praktiese invloede op die kerk, of miskien op jou eie lewe, gehad het. Jy sal agterkom dat baie min onder hulle nie studente van die Christelike waarheid was nie, hoe ongesofistikeerd hul ook al met hul studies omgegaan het. Die opdrag was om dit in ons daaglikse spirituele ervaring in te sluit. Vir te veel Christene, en te lank, was aan “leerstellings” gedink as iets wat onprakties, onverteerbaar en relatief nutteloos was. Maar ons kan nie ons Here (sekerlik die mees praktiese Man wat ooit gelewe het) gehoorsaam as ons Sy leerstellinge ignoreer nie. Want Hy onderrig ons in leerstellings om ons lewens met stabiliteit en genade te vul.
Die Onderwysing van Paulus⤒🔗
Kan die man wat hierdie woorde geskryf het as onprakties beskou word?
“Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ʼn dag en ʼn nag in die oop see deurgebring. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes” (2 Kor. 11:23-28).
Wat het vir Paulus onder hierdie druk versterk? Daar is slegs een moontlike antwoord. Hy het die onmisbare kennis gehad van die karakter van God, die werk van Christus, die aard van God se weë, en die inwonende krag van die Heilige Gees. Sy lewe is gekenmerk deur die krag wat, in sy ervaring, deur die waarheid vrygestel is. Dit is waarom sy oproepe aan die vroeë kerke so aangrypend is. Hy vra: “Weet julle dan nie? As julle maar geweet en verstaan het, sou julle lewe soveel anders gewees het”. Van al die geskrifte van J.B. Phillips kom dit nêrens so sterk na vore as in sy beroemde vertolking van Romeine 12:1-2 nie. “En nou doen ek ʼn beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Hier is al die noodsaaklike elemente van ʼn lewe van toegewyde lojaliteit aan Christus. Maar die mees verbasende ding is moontlik die pleidooi wat hierdie woorde bevat: Christene, gebruik jul verstand! “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is”. Laat “God julle verander deur julle denke te vernuwe”.
Slegs as ons oë wyd oop is vir die genade van God, sal ons met daardie soort skerpe toewyding wat vrug dra in die Christelike lewe, reageer. Namate ons die genade van God verstaan en waardeer sal ons meer volledig vir Christus lewe. Maar wat is die genade van God? Hoe moet ons dit verstaan? Die antwoord is dat God se genade uiteengesit is in Romeine 1-11, wat algemeen beskou word as die mees leerstellige deel van al Paulus se geskrifte. As ons stoei met die onderwysing in hierdie Skrifgedeelte sal ons oë wyd oopgaan vir die omvang van God se genade in ons verlossing. As ons die suiwer wonder van wat vir ons gedoen is, begin aanvoel, en onsself dieper ingrawe in die hulpbronne van genade wat daar vir ons verduidelik word, sal toegewyde en praktiese Christelike lewe vir ons meer betekenisvol word.
Eerder in die brief aan die Romeine het Paulus dit onderstreep dat hierdie nie ʼn opsionele ekstra vir Christene is nie. Dis ʼn basiese noodsaaklikheid. In Romeine 6:17 praat hy daarvan dat Christene gehoorsaam geword het “aan die (voorbeeld van die) leer soos julle dit deur oorlewering ontvang het.” Die woord wat vertaal is as “voorbeeld” beteken gietvorm. As kind het ek baie ure besig gebly met die maak van gipsmodelle deur rubber gietvorms te gebruik – redelik onsuksesvol! Ons het die sagte gips in die vorm ingegiet en dan gewag vir die gips om te set. My gunsteling was ʼn nar wat gewoonlik sonder ʼn neus uit die gietvorm uitgekom het. Wat ʼn vreugde was dit toe ʼn volmaakte gietstuk uit die vorm gekom het. Dit is die beeld wat Paulus in gedagte het. Wat hy sê is: “Noudat julle Christene geword het, het julle gesmelt geraak deur God om volledig hervorm te word deur Sy genade, en gevorm te word deur hierdie ‘gietvorm’” Die leerstellings van die evangelie is bedoel om ons te vorm sodat ons lewe kan begin hervorm tot ʼn gelykenis van Christus.
In ʼn sekere sin kan ons sê dat die brief aan die Romeine vir ons die breë buitelyne van die gietvorm uitstippel. Dit wys ons die vorm van God se genade aan ons in Christus, en as ons die onderwysing daarvan begin verstaan maak dit ʼn diep indruk op ons lewens en daaglikse gedrag. Dit bepaal hoe ons lewe. Maar baie Christene het hul lewe lank gelewe sonder om veel van die Christelike waarheid te verstaan, en dit het nie veel verskil gemaak nie? Ongelukkig is dit dikwels die waarheid. Ons lewens was nie veel anders as dié van ons tydgenote nie. Ons het min of geen indruk op die wêreld gemaak nie, en die rede daarvoor is dat die evangeliese leerstellings ook nie ʼn groot indruk op ons gemaak het nie. Dit kan nie oorbeklemtoon word nie dat mans en vrouens wat enigiets in God se krag bereik het, dit altyd gedoen het volgens hul begrip van die waarheid. Hulle het hul benadering waarskynlik nie as “leerstellig” beskou nie, maar bloot aan hulself gedink as studente van God se woord. En tog was dit as gevolg van hul waardering van die bybelse leerstellings dat hulle bruikbare instrumente in die hande van God geword het.
Dit is in wese die les wat Paulus uitgelig het vir sy jong vriend Timoteus toe hy die karakter en waarde van die Skrif vir hom beskryf het: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:14-17).
Let op Paulus se verband tussen Skrif, onderwys en opleiding, en die praktiese lewe van ʼn Christen soldaat, “toegerus vir elke goeie werk.” Uiteindelik het alle leerstellings hierdie noodsaaklike praktiese kwaliteit. Dit vorm ons denke sodanig dat dit ʼn bepalende faktor in ons lewens word.
Ons Leerstellings Moet Prakties Wees←⤒🔗
Die studies wat hierop volg is onbeskaamd leerstellig. Daarmee word nie bedoel dat ons die belang van ervaring moet minag nie. Die omgekeerde is waar. Namate ons denke verruim word deur die genade van God, moet ons harte ooreenstemmend groter word met liefde vir Hom vir alles wat Hy vir ons gedoen het in Christus. Op sy beurt behoort dit te lei tot ʼn ryker ervaring van Sy liefde vir ons. Ons moet nie in die valstrik trap dat ons sou dink dat ons leerstellings op hul regte plek plaas bloot deur ervaring te ignoreer nie. Ook moet ons nie spirituele ervarings verag nie. Inteendeel, ons moet ons daarin verheug. Maar ons sal uiteindelik slegs voordeel trek uit ervarings as ons die groot leerstellige beginsels wat daarmee geïllustreer word, nagaan.
Die hoofstukke wat hierop volg konsentreer die aandag op die leerstellings wat in die Christelike lewe voorkom. Hulle voorsien nie ʼn handleiding vir sistematiese teologie wat elke denkbare bybelse leerstelling dek nie. Hul poog eerder om ʼn bybelse uitleg van die leerstellings te gee wat voorkom in ons Christelike ervaring en wat ons tot ʼn mate ken. Hierdie waarhede sal begin om die grootsheid van verlossing vir ons te ontdek. Hulle sal verhoed dat ons gepla sal word deur die algemene Christelike denkwyse wat ʼn minderwaardigheidskompleks insluit, wat dink dat die ervaring van Christen-wees ʼn baie aardse en alledaagse ding is. Maar merendeels is hierdie leerstellings karakterbouend en lewensveranderend. Hulle is meestal sleutel-leerstellings in die groei en ontwikkeling van die Christelike lewe.
Dit is een van die hedendaagse raaisels dat daar in ʼn wêreld van groot geleenthede baie Christene is wat minder kennis het van Christelike leerstellings as wat kinders in Sondagskool in vorige eeue gehad het. Dit is waarskynlik ʼn feit, al sou daarop geantwoord kon word dat kinders van vorige geslagte moontlik nie die leerstellings wat hulle in Sondagskool geleer is, kon begryp nie (op sigself ʼn debatteerbare punt). Dit mag ook die rede wees vir die verskille tussen die gehalte van Christelike karakter van vorige eeue, en die relatief swak standaard van ons Christelike lewens vandag.
Geen illustrasie vat die ontasbare gehalte van die krag van Christelike leerstellings beter vas as die verhaal vertel deur die beroemde Amerikaanse teoloog Benjamin B. Warfield nie. Dit het geen verduideliking nodig nie:
Ons het die volgende stukkie persoonlike ervaring van ’n offisier van die Verenigde State se weermag. Hy was in ʼn groot stad in die weste op ʼn tydstip toe daar intense aanhitsing en gewelddadige betogings was. Die strate was elke dag vol met gevaarlike skares. Eendag het hy iemand na hom toe sien aankom met ʼn besonder kalm en ferm houding, wat vertroue uitgestraal het. Hy was so beïndruk met die man se houding te midde van die omringende lawaai dat, toe die man by hom verbystap, hy omgedraai het om hom agterna te kyk, net om te vind dat die vreemdeling dieselfde gedoen het. Toe die vreemdeling sien dat hy omgedraai het, het hy onmiddellik na hom toe teruggekom, sy bors met sy vinger aangeraak en sonder enige aanloop gevra: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” (die eerste vraag in die Kategismus). Toe hy die antwoord kry: “Die mens se enigste troos is om God te verheerlik en hom vir ewig in Hom te verheug” het die vreemdeling gesê: “Ah, ek het geweet jy is ʼn kategismus-seun uit hoe jy lyk”. Die man het geantwoord: “Ek het dieselfde van jou gedink.” Selected Shorter Writings, I, p. 383-4.
Op hierdie wyse vorm ons begrip van Christelike leerstellings ons Christelike lewe, Dit begin selfs om ons onbewustelike gedrag en ons reaksies tydens allerlei situasies te beïnvloed. Christelike leerstellings vorm mens se lewe. Dit toon aan ons die God wat ons aanbid, en verlig ons begrip van Sy Seun se liefde en Sy Gees se werk. Hulle vorm die grondslag van die Christelike lewe.