3 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

ʼn Lig in Donker Plekke

lantern in donker

“Die Heilige Gees het die gelowiges aangespoor om sonder ophou in die hande te klap van vreugde tot aan die koms van die beloofde Verlosser”, het Johannes Calvyn geskryf in sy kommentaar op Psalm 47:2. Paulus sou van harte daarmee saamstem. Terwyl hy vanuit ʼn tronksel geskryf het, sonder die versekering dat hy daar sou uitkom op ʼn ander manier as deur teregstelling, het blydskap sy gedagtes gevul. Die brief aan die Filippense gaan juis oor blydskap. Tot so ʼn mate gaan Filippense oor blydskap, dat George B. Duncan eenmaal daarna verwys het as “die lewe van aanhoudende gejuig”. Die teenoorgestelde van blydskap is treurigheid, en om ellendig te voel is nie wat ons bestem is om te wees nie. Die Hervormers het ingesien dat Christene se gevoelens sentreer rondom blydskap, toe hulle met nadruk beweer het dat die hoogste doel in die lewe is “om God te verheerlik en tot in ewigheid vreugde in Hom te vind” (vry vertaling van die Westminster Shorter Catechism, antwoord 1).

Christene is natuurlik geneig om moedeloos en neerslagtig te raak deur die krag van oorweldigende omstandighede. Maar in sulke omstandighede moet ons vir onsself sê dat ons geen reg het om so te voel nie! Paulus, wat geweet het hoe dit is om in ʼn tronk te wees, om geslaan en op gespoeg te word, die rug toegekeer en geïgnoreer te word, beveel ons om ons te verbly, ten spyte van hoe ons voel: “Verbly julle altyd in die Here! Ek sê weer: Verbly julle!” (Fil 4:4).

Blydskap beskryf🔗

Paulus was nooit iemand wat ʼn ander gevra het om te doen wat hy nie self gedoen het nie. Dit is waarom ons uit die optekening van sy lewe altyd sy blydskap kan bespeur, selfs in die moeilikste en mees beproewende omstandighede.

Gevange geneem vanweë gehoorsaamheid aan die Evangelie, is die apostel van sy vryheid en waardigheid ontneem. Hy kon net so wel persoonlik gegrief gevoel het oor sy omstandighede. Die Filippense het vir seker hul bes gedoen om die wysheid daarvan hoegenaamd te begryp: dat die bruikbaarste dienskneg wat God gehad het, in die gevangenis ingeperk was. Sommige van hulle het God se wysheid of sy soewereiniteit bevraagteken. Sommige van hulle het albei hierdie hoedanighede bevraagteken!

Paulus se gevoelens het hom waarskynlik voorgesê dat depressie, gegriefdheid, of woede ʼn gepaste reaksie is. In plaas hiervan probeer die apostel die goeie in sy omstandighede raaksien. As gevolg van sy gevangenskap het sekere lede van die Keiser se paleiswag noodwendig met die Evangelie kennis gemaak. Paulus kon wel gevange gehou word, maar “die woord van God word nie geboei nie” (2 Tim. 2:9). Vir die apostel was die evangelisasie van die elite soldate van die keiserlike wag wel enige lyding wat hy moes verduur, werd. Ten spyte van sy onaangename situasie, kon Paulus bly wees want hy het begryp dat daar ʼn ander agenda was, een wat belangriker motiewe in aanmerking geneem het as sy oombliklike gerief.

tronk

Paulus het vyande gehad wat vasberade was om hom te veronreg. Skokkend genoeg, was hulle medeverkondigers van die Evangelie, wat jaloers was op Paulus se sukses en gewildheid. Hulle verkondiging was daarop gemik om Paulus se lyding te vererger, in die veronderstelling dat hul deur hul aksies “my sou kwel in  my gevangenskap” (Fil. 1:17). Sommige van hulle was waarskynlik in hulle skik om te sien dat hy, volgens hulle beskouing, sy verdiende loon gekry het.

Paulus was aan die genade van die Romeinse regbank uitgelewer. In die eerste hoofstuk het hy gepraat oor die moontlikheid van die doodstraf  (Fil 1:20). Later het hy oor hierdie moontlikheid verder uitgewei deur te suggereer dat hy “as drankoffer uitgegiet” kan word (2:17). Dit is ʼn realistiese erkenning van sy kant af dat sy harde werk en lyding tot martelaarskap kan lei. Is die apostel terneergedruk? Voel hy gegrief? Hoegenaamd nie!! “...ek is daaroor bly, ja, ek is saam met julle almal bly” voeg hy by (1983-vertaling). 

Blydskap beliggaam🔗

Kan ons duideliker definieer waar hierdie blydskap vandaan kom uit dit wat Paulus aan die Filippense skryf? Twee teologiese waarhede bring die bron van blydskap in fokus. Eerstens is Blydskap die uitwerking van ons eenheid met Christus. God het ons geskep, en ons daarna in Christus herskep, om diep en standhoudende verhoudings te kweek; en hierdie verhoudings is die bron van ons grootste vreugde. Maar geen verhouding oortref ons gemeenskap met Jesus Christus in die Evangelie nie. Paulus begin sy brief aan die Filippense deur sy lesers (Christene) te herinner aan hul verhouding met Jesus Christus: hulle was “in Christus” (1:1). Deur dit te doen, onderstreep Paulus ʼn fundamentele waarheid. Geloof, soos Jesus sy dissipels herinner het, is ʼn geloof “in Christus” (Johannes 14:12). Geloof behels ʼn eenheid waarin ons ten volle afhanklik is van die middele van iemand anders. Hierdie waarheid is in fyner besonderhede uitgewerk in Jesus se voorbeeld uit die tuinboukunde: Hy is die wingerdstok, ons is die lote (Johannes 15). Jesus verseker sy dissipels: “Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees” (v. 11). Dit is nie duidelik of Jesus bedoel het dat gelowiges die ontvangers van blydskap is en of hulle die voorwerpe van blydskap is nie. Albei word waarskynlik bedoel. Christus gee aan ons – wat alle blydskap verloor het – die blydskap wat Hy in ons vind, terug! En, wanneer Hy sien dat ons die vrug dra wat ons behoort te dra, wat natuurlik blydskap insluit (Gal. 5:22), maak dit Hom ook bly! Dalk sien ons nou die belangrikheid van blydskap in ons lewens raak: want dit maak die hart van ons Verlosser bly!

Tweedens vloei blydskap voort uit die smaak en soetheid van genade. Die manier om ellende te hanteer, is om onsself te herinner aan waar ons sou gewees het sonder die genade van God. “Grace, ’t is a charming sound” het Philip Doddridge geskryf, wat ʼn weerklank is van hoe Christene nog altyd gevoel het oor die wyse waarop God ons behandel. Genade is die groet waarmee Paulus sy brief  begin én eindig (Fil. 1:2; 4:23). En na die aanvangsgroet verseker hy die Filippense hoe bly hy is telkens as hy aan hulle dink, en dan voeg hy die rede vir sy blydskap daarby: hulle deel almal saam met hom in die genade (1:7). Christene vind hulle vreugde in die manier waarop God hulle behandel.

Blydskap spruit daaruit voort dat ons die waarde ken van dit wat God vir ons gegee het. Toe Paulus ʼn Christen geword het, het daar iets met hom gebeur: sy waardebepaling ten opsigte van die dinge van hierdie wêreld, het verander. Die genade van God het die voorwerp van sy grootste vreugde geword. Vergelykenderwys het hy die wêreldse tierlantyntjies gelykgestel aan die Griekse woord skybala – sagweg vertaal met gemors, maar “drek”  is meer in die kol (3:8). In vergelyking met dit wat God hom gegee het – ʼn vryspraak wat hy nie self verdien het nie – wil Paulus nou baie graag meer en meer weet van hierdie wonderlike genade van God (3:7-10).

neerslagtig

Blydskap beveel🔗

Hieruit volg twee sake: Eerstens moet ons na vermoë onsself leer om ons gevoelens te beheer. Daar is vir seker verskillende soorte depressie, waarvan sommige die gevolg is van komplekse fisiese en sielkundige versteurings. Maar daar is tye dat ons geestelik neerslagtig is om geen goeie rede nie. Daar is tye wanneer dit die beste is om die geldigheid van jou gevoelens te bevraagteken: “Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God want ek sal Hom, my God, weer loof vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring” (Ps. 42:11).

Heeltemal te dikwels bring ons ons dae in neerslagtigheid en somberheid deur, net omdat ons dít wat ons van God en sy beheer oor ons lewens weet, nie ernstig opneem nie. Ons moet bid en God vra vir krag om ons depressiewe swartgalligheid te bowe te kom. Daar bestaan so iets soos ʼn wil wat nie voor die wil van God wil buig nie. Ons kan ons verhard en weier om God se goeie hand in ons lewens te sien. Dit is ʼn kanker wat ons sal vernietig.

Tweedens moet ons, ongeag ons omstandighede, na die verklaring soek wat ons dwing om bly te wees nie. Ons moet ook “jubel oor ons verdrukking” (Rom. 5:3). Ek dink aan die verhaal van Horatio Spafford, ʼn sakeman van Chicago wat sy hele sakeonderneming in die groot brand van Chicago in 1873 verloor het. Nadat hy sy vrou en vier dogters aan boord van die SS. Ville de Havre na Engeland gestuur het, moes hy verneem dat die vaartuig in die hartjie van die Atlantiese oseaan teen ʼn ander een (die Lochearn) gebots het, met die gevolg dat 261 mense verdrink het, insluitend sy vier dogters. Mev. Spafford, wat gered is, het vir hom ʼn kabelgram gestuur met die boodskap: “Survived alone”. Hy het die volgende beskikbare boot gehaal om haar te ontmoet. Tydens die vaart het die kaptein vir Horatio die plek uitgewys waar sy dogters verdrink het. Dit was toe dat hy hierdie vers geskryf het: 

When peace like a river attendeth my way,
When sorrows like sea-billows
roll,
Whatever my lot, Thou has taught
me to say,
It is well, it is well with my soul.

Dit is hoe God wil hê dat ons moet lewe. Ons mag nie verwag dat ons lewens sorgeloos sal wees nie. Maar as ons kinders van God is, is ons in alle omstandighede verseker van God se sorg en voorsiening. Hy is besig om dit tot in die fynste detail uit te werk. Hy maak geen foute nie (Rom. 8:32 e.v.). Elke oomblik van ons bestaan bied genoeg rede tot blydskap: die goeie en die slegte moet saamgroei om ʼn halleluja simfonie te vorm tot eer van God Almagtig.