Hierdie artikel handel oor vergifnis en versoening, en die belangrikheid om te luister in hierdie proses.

2 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

Luister jy wanneer jy om verskoning vra?

hande

Wanneer ons om verskoning vra, moet ons iets sê. Dit kan iets so eenvoudig wees soos “Ek is jammer” of “Ek moes dit nie aan jou gedoen het nie. Sal jy my vergewe?” Dit is alles goed en wel. Maar soms ontbreek daar selfs by wyse, toepaslike woorde soos hierdie ‘n deurslaggewende stap in die proses van versoening.

Daardie deurslaggewende stap is om te luister. Wanneer jy om verskoning vra, is dit net so belangrik om te luister as om te praat.

As berader het ek die voorreg om teenwoordig te wees wanneer mense mekaar om verskoning vra. Dit is pure genade wanneer die Heilige Gees jou so bewus maak van jou eie sonde en jou dit so op die hart druk, dat jy ‘n ander om vergifnis wil vra. Die probleem is dat die verskoning soms soos ‘n monoloog klink. Jy erken dat jy die ander persoon ‘n onreg aangedoen het en belowe dat jou optrede in die toekoms sal verbeter, en wei uit oor elke besonderheid van wat jy geleer het oor God, sy genade, om deur Hom vergewe te word ensovoorts.

In die regte konteks is dit alles wonderlike dinge om aan te hoor. Maar wanneer jy ál die praatwerk doen terwyl jy iemand om verskoning vra dat jy hom of haar seergemaak het, is daar ‘n baie groot kans dat jy die persoon nog seerder kan maak. Jy sien ... berou voor God bestaan nie net uit die besef dat jy iemand ‘n onreg aangedoen het nie, dit sluit ook in dat jy wil uitvind presies watter leed die ontvanger daardeur gely het. Die enigste manier om dit te doen, is om hom te vra watter impak dit op hom gehad het.  

As jy jou in die situasie bevind dat jy iemand se vergifnis soek, wil ek jou ‘n paar wenke gee: 

  1. Begin deur kortliks te verduidelik waaroor jy jammer is. Verduidelik so gevoelvol as wat jy kan, met woorde wat jou bedoeling en die besonderhede van die insident duidelik weergee. Noem jou oortredings by die naam. Vermy vae veralgemenings.
  2. Jou doel moet wees om vir 90% van die gesprek te luister. Vra: “Watter impak het my oortreding op jou gehad?” Dalk is dit beter om die persoon die keuse te gee om óf nou daarop te reageer, óf eers later omdat hy eers tyd nodig het om daaroor te dink. “Jy hoef nie nou iets te sê nie. Ek verstaan dat jy dalk nie nou jou gevoelens met my kan deel nie. Ek sal wag totdat jy gereed is.”
  3. Natuurlik moet jy nie ‘n reaksie afdwing nie, maar as die lydende party huiwerig is om te antwoord, kan jy begin deur ‘n paar raaiskote te waag, net om die bal aan die rol te sit.1
    “Ek wil regtig graag verstaan wat dit aan jou gedoen het.  Ek kan my voorstel dat jy _________ moes gevoel het, toe ek _______ gesê/gedoen het. Om met hierdie ________ ondervinding saam te leef, moes regtig vir jou ________ gewees het. Maar ek weet dat dit dalk selfs dubbel so swaar was. Dalk mis ek die kol heeltemal. Sal jy my help om te verstaan hoe my optrede jou geraak het? Dan eers kan ek regtig jammer wees oor die werklike effek wat dit op jou gehad het, en dan kan ek leer om te verander.”
  4. As die lydende party gereed is om jou eerlik te antwoord, moet jou doel wees om jouself in sy skoene te plaas terwyl jy luister. Jy wil nie net luister nie, maar ook geraak word en hartseer wees oor die pyn wat sy of hy gevoel het.
  5. Sluit die gesprek voorlopig hier af: vra weereens om verskoning deur te erken dat dié spesifieke skade deur jou fout veroorsaak is. Bedank die persoon vir sy of haar eerlikheid en sê dat jy jammer is oor die pyn wat jy veroorsaak het.

“Dit maak sin. Ek kan sien waarom dit vir jou regtig swaar was. Ek het nooit só daaroor gedink nie. Ek is jammer dat ek jou in daardie posisie geplaas het/hierdeur laat gaan het, iets gedoen het wat jou ________ laat voel het, ensovoorts.”

Onder die gunstigste omstandighede is dit moeilik om verskoning te vra. Wat ek voorstel, maak dit selfs nog moeiliker. Tog moet ons luister en gewillig wees om te hoor hoe ons ‘n ander persoon seergemaak het. Om dit te doen sonder om in wanhoop te verval of  in ‘n vlaag van woede jouself te verdedig nie, moet jy volhardend vasklou aan die vergifnis wat ons ontvang het van dié Een vir wie ons die diepste seergemaak het. Net as ons Sy genade gesmaak het, ongeag hoe verskriklik ons sonde Hom aan die kruis laat ly het, kan ons die uitwerking van ons verkeerde optrede op ons medemens erken. En dan kan ons ons behoefte om onsself te verdedig en ons wanhoop in die oseaan van Jesus se genade laat verdrink.

Endnotes🔗

  1. ^ As dit moeilik is om jou voor te stel hoe die persoon mag voel, vra vir 'n vriend hoe hy sou voel as hy aan die ontvangkant van jou sondige optrede was. Dit sal jou ten minste in 'n mate help om jou voor te berei vir die emosionele impak wat dit op jou gaan hê as jy moet hoor dat jy die skurk in iemand anders se verhaal was.